
Foto: Canva
Versoeningsdag
Jaarliks roer ’n vlymskerp swaard
in dieptes van my Zoeloe-hart
as jy en joune pligsgetrou
’n ou belofte bly onthou.
Ons harte wil twee paaie loop
op Bloedrivier se wal.
Jy sien ’n man wat boontoe kyk.
Ek voel bloeddruppels val,
maar jou beloftes aan die Heer
is met Sy rieme vasgeknoop,
en jy moet daarmee aanhou loop,
al trap jou voet soms seer.
Sal jy dit vir jou mense sê?
Waar daardie riem gesny is,
is nog ’n Lam se vel
wat deur Sy liefde sag gebrei is.
Ons twee sal dan saam kan bid
vir swart en wit:
Sny, Here, uit die Lam se vel
’n breë liefdesband
en knoop dit om ons hele land.

