Versoek aan Cornelius Henn

  • 2

Cornelius, jou skryfsels lok amper altyd 'n positiewe reaksie by my uit en jy lê gewoonlik die klem op hartsake.

Miskien kan jy nogtans die volgende onderwerp oorweeg, aangesien dit openbare aandag geniet, nl die vereiste van 'n selibaat lewe wat die Rooms Katolieke Kerk aan feitlik al sy ampsdraers oplê. Is ons nie in hierdie eeu by die punt waar die kerk van hierdie vereiste behoort af te sien nie? Die kerk verduur ernstige kritiek as gevolg van dade wat teenoor seuns gepleeg is, terwyl die groot tekort aan priesters skynbaar ook teruggevoer kan word na heteroseksuele mans, wat nie kans sien vir 'n lewenslange selibate lewe nie.

As jy nie kans sien vir 'n openbare debat oor so 'n sensitiewe saak nie sal ek dit verstaan.

Groetnis en goeie wense.

George

  • 2

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Beste George,

    Die grootste stryd in enige Godsdiens op aarde, is die morele verwagting wat (veral deur buitestanders), daaraan geskep word.

    Die werklikheid is dat Godsdienstiges gewoonlik veel meer as ongelowiges wat hulself ten volle verantwoordelik hou, dwaal en sondig.

    Pedofilie en ander immorele dwalinge, is ook glad nie so besonders Katoliek nie.

    'n Selibaat, is ook allermins meer of minder, 'n potensiële pedofiel.

    Menige hartseer slagoffer kan getuig hoe 'n gelukkig getroude Calvinistiese Afrikaanse onderwyser, Protestante predikant, en selfs ateïstiese ouer hulself vergryp aan jong en weerlose liggame.

    Die skade wat enige persoon met 'n perverse liefde vir en belangstelling in kinders veroorsaak, is na my mening onomkeerbaar. Nes die verlies aan sintuie, ledemate en/of enige beweging, skep molestering 'n permanente gebrek by 'n kind wat tot in hul graf emosionele letsels daarvan dra.

    Ander erge gebrek aan deugsaamheid ook in alle Godsdiens op aarde, is die versugting na geld.

    Ek belowe jou George, ek doen baie doelbewus moeite om enigeen wat met enige vorm van Heilige Skrif onder die arm besigheid doen, soos die Duiwel te vermy.

    Maar dan is daar ook die oorlogshonde wat Godsdiens buit. Die mensheid se geskiedenis is met bloed besaai deur die haat wat "Christengelowiges", "Moslemgelowiges", "Hindoegelowiges", ensovoorts dryf.

    Ek tik "Christengelowiges", "Moslemgelowiges", "Hindoe gelowiges", "Boeddhistiese gelowige" ensovoorts in aanhalingstekens, aangesien daar nie regtig so iets bestaan nie.

    'n Christen, is 'n gelowige...

    'n Moslem, is 'n gelowige...

    'n Hindoe, is 'n gelowige...

    Boeddhisme, het niks eens met geloof of ongeloof te doen nie; dis 'n lewenswyse...

    In alle geval is die geharde fundamentalis, se dubbelslag met iets "Christengelowige", sulke oorlogshond se nadruk op bepaalde verhewendheid.

    Vir anderhaters soos "Dolf" en Kobus de Klerk, is dit nie eens genoeg nie... "ware Christengelowige", is kwalik genoeg in hul farisese en skrifgeleerde redetwis, waarmee hulle ander se harte probeer verkrag.

    Die punt is egter dat daar in alle Godsdiens, 'n getroue weerspieëling van ons gebroke samelewing is. Die ganse mensheid is deurdrenk van sonde en dwalinge. Ek ook.

    Behalwe vir die sogenaamd spiritueel intelligentes oral in die lewe, bely eenvoudige gelowiges in alle Godsdiens hulself stukkend op hul knieë; met hul afhanklikheid en vertroue ten volle in ons Skepper.

    As 'n eenvoudige kind van die HERE, is ek egter nie 'n slaaf wat 'n baas gehoorsaam nie, maar 'n erfgenaam, 'n kind, vry in God.

    Die mensdom verwag te veel van Godsdiens, en laai veels te maklik hul eie tekortkominge en verantwoordelikheid daarop af.

    Ons Skepper is ook nie 'n objek wat ek soos 'n program in bepaalde en voorbeeldige styl nakom nie. Diens aan God, veronderstel nie 'n aanstelling as morele polisie in die samelewing nie, al dweep boewe daarin hoe hard op die teendeel daarvan.

    Godsdiens is ook nie 'n begrensde organisasie wat tot sukses bestuur moet word nie. Die veronderstelde tekort aan dienaars in enige Godsdiens, is daarom geen kommer nie.

    Die werf is ook nie kerk nie. Intieme geloofservaring soos vermaning, is net in die regte lewe moontlik; waar iemand jou in die privaatheid roep en met respek aanspreek.

    Voorkoming op alle vlakke van die samelewing, is beter as genesing.

    By hierdie baken waar ek op my lewensweg gevorder het glo ek nederigheid, vermaning, en diens aan ons medemens in die liefde en genade van ons Skepper, is die deugde waarin Godsdienstiges op hierdie aarde kniel.

    Jesus Christus onse Allerhoogste, 'n aansig in vele taal en kultuur, is ons almal se rykdom vol liefde en genade waarin ek my medemens so kan dien.

    George, baie dankie vir jou gedagtes.

    Mag Jesus Christus onse HERE, ons almal vergewe en die hele wêreld seën.

    Namaste!

    Cornelius

  • Cornelius, jou reaksie word hoog waardeer. Ek hoop almal op SêNet neem kennis van wat jy meedeel.

    Ek is gelukkig met jou antwoord en reageer eintlik huiwerig op sekere sake wat jy opper, want die oorheersende gevoel wat ek by jou wil laat is dat ek tevrede is met jou reaksie.

    Jy skryf: “Die werklikheid is dat Godsdienstiges gewoonlik veel meer as ongelowiges wat hulself ten volle verantwoordelik hou, dwaal en sondig.” Vir my is dit net te sterk gestel, alhoewel ek die positiewe in so ‘n benadering verstaan.  Om jou weer aan te haal: “Pedofilie en ander immorele dwalinge, is ook glad nie so besonders Katoliek nie.”  Toegegee, dit kom in alle gemeenskappe voor, maar die selibaat vereistes wat die Katolieke Kerk stel skep aansienlik meer versoekings tot pedofilie in hierdie kerk as in ander gemeenskappe. Die verskriklike gevolge van sulke dade word helder deur jou opgesom. Die probleem van geld en godsdiens sien ‘n mens dikwels en jou beklemtoning van hierdie punt is belangrik.

    Sonder om vliegies te probeer afvang, hoop ek KdeK lees, met 'n oop gemoed, wat hier geskryf is. Ons het almal meer Lig nodig.

    George

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top