Digterstuin: verslag uit die wegwens van dae

  • 0

my broer se plaas krimp
soos breiwerk in water
kinders met douwurm
dolf kluite op die broodlyn
maandend is agthonderd rand
en ’n sak meel

in die rivierloop
vreet likkewane ’n slagos
tot aan die winter
se beenwit kantlyn skoon

’n marmerengel drentel deur witpluim
en vroetel aan geslote hortjies
terwyl die maan
na haar eie verbleking sloer

hier is niemand vet nie

soms is die nag ’n diep put
en skade blom om leë emmers
aan die rante van dagbreek

mag die loon van rus
opsypel deur driesland
soos ’n bevrugting woorde ’n bladspieël afspeld
soos bome met lym ingesmeer
op seisoene vol trekvoëls wag
vir sanglysters
’n lekkerny
in die landskap van waarheid

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top