
Die pas afgelope ATKV-Digskool in die Louwhuis was ’n besondere sukses en het weer eens die waarde van gefokuste literêre ontwikkeling en kreatiewe begeleiding bevestig. Veral onder die gesoute hande van Bernard Odendaal en die gasdigter, Lynthia Julius. Die geleentheid het digters en aspirantdigters van verskillende vlakke byeengebring in ’n stimulerende en inspirerende omgewing. ’n Interessante feit is dat die besoekers vanjaar uitsluitlik mans was!

Ek dink ons het in ons doel geslaag om die digters te slyp en te ontwikkel. Daar is ’n dieper begrip van digterlike tegniek en vorm bevorder. Daar is weer ’n gemeenskap van digters gebou wat mekaar ondersteun.
Dit was ’n volgepakte program met intense werkswinkels oor versbou, beeldspraak, ritme en styl. Daar was genoegsame ruimte vir kreatiewe denke en stimulasie. Die digters het sonder uitsondering die digskool baie positief ervaar. Die kleiner groep het diep betrokkenheid moontlik gemaak.
’n Groot faktor wat tot die sukses bygedra het, was die Louwhuis self. Die digters was aangeraak met die wete dat hulle op heilige grond staan en dat hulle ’n kranslegging vir die Louw-broers kon meemaak. Op ’n persoonlike vlak is almal diep geraak.
Die reëlings en logistiek was goed beplan. Daar was ’n haakplek toe die orellis wat ’n kort uitvoering moes gee, in die voorafgaande week ’n beroerte gehad het. Die Louwhuis se bestuurspan het egter vinnig opgetree en ’n plan gemaak!
Daar was vele hoogtepunte. Vir my was dit die opening van die Klipwerk-voetpad op Rogge Cloof en die gesprek agterna tussen Robert Schall en Bernard Odendaal oor eersgenoemde se “Klipwerk”-vertalings in Duits en ook oor die uitdagings van vertaalwerk.
Die ATKV-Digskool by die Louwhuis is al só deel van die karakter van die museum en word as ’n uiters susesvolle inisiatief gesien. Hierdie geleentheid het die potensiaal van sulke platforms bevestig, en beklemtoon die belangrikheid daarvan om voort te gaan met hierdie projek.

Die digters by die ATKV Digskool in die Louwhuis se Sentrum vir Digkuns luister aandagtig luister terwyl prof. Bernard Odendaal aan die woord is. Links is Lynthia Julius, die gasdigter. Derde van regs is Robert Schall wat Klipwerk van N.P. van Wyk Louw in Duits vertaal het.

Skoongeskropte tafels in die Sentrum vir Digkuns met skilderye deur André Roothman, geïnspireer deur gedigte van die Louwbroers.
N.P. van Wyk Louw kyk goedkeurend na soutbos, ryp granate en soutbos.

Op safari vir die opening van die Klipwerkvoetpad. Dit is 3,5km van Rogge Cloof Natuurreservaat se ontvangs. Die voetpad is 500m tot by die grotoorhang waar die Louwbroers as kinders gespeel het en hulle voorletters teen die wande geverf het. Rogge Cloof plaas elke 20-50m ’n klipstapel met ’n vers uit Klipwerk (Nuwe Verse, N.P. van Wyk Louw, 1953) op ’n aliminiumbord op ’n klip.
Uli Gernstholtz knip die groen lint om die voetpad offisieël te open. Uli het baie tyd in die beplanning en voorbereiding van hierdie projek gesit.

Die eerste stappers durf die 500m Klipwerkstaproete aan. Rogge Cloof bied toere van hierdie roete aan wat vervoer en ’n gids insluit.

Bernard Odendaal het pas ’n krans by die graf van W.E.G. Louw gelê nadat hy ’n gepaste huldeblyk gelewer het.

Nadat Lynthia Julius ’n krans vir N.P. van Wyk Louw gelê het, lees sy haar gedig Namakwaland-dorp: someraand, ’n parodie op Karoo-dorp : Someraand van N.P van Wyk Louw.

