Kobus
Hello Kobus,
Dankie vir hierdie reaksie van jou kant af.
Dit het my weemoedig gelaat en laat besef dalk bring debat werklik die slegste in ons uit en dat die aanhoudende debatvoering sonder insig tot die ander mens se bestaan in werklikheid die kloof tussen die deelnemers vergroot en hoe die uitdaging om te versoen as mense en tog die verskille te behou dalk onmoontlik is.
Maar die insigte uit jou skrywe word ter harte geneem en sal saamgedra word in die toekoms.
In my bestaan is dit sonder twyfel my ontmoeting en interaksie met jou via die internet wat ‘n daadwerklike verandering in my gemoed oor Godsdiens bewerkstellig het. Indien dit nie vir hierdie ontmoeting was nie dan sou my ateïsme nog rigied gewees het soos dit was in die begin toe ek hier begin het en ook voor dit toe ek die onderwerp tot vervelens debatteer het op Rapport se webwerf.
Maar die gesprekke hier met jou het my laat stop en weer laat wonder oor wat dit is wat die gelowige aan glo en ook so omrede dit nie altyd moontlik was om hierdie debatte met my gelowige pa te kon voer nie het ek het uitlating vir dit hier gekry en dan spesifiek met jou.
Soveel so dat ek huidiglik nie kan sien wat die werklike argument teen die bestaan van God kan wees nie. Evolusie, kosmologie, geskiedenis en vele ander dissiplines beskryf ‘n werklikheid en het nie as uiteindelike doelwit ‘n uitspraak oor die werklikheid van God nie en kan dit nie werklik aangevoer word dat dit die nie-bestaan van God bewys nie alhoewel dit stil is oor die onderwerp.
Die geloof in God kan dan soos volg opgesom word. “Dit word nie van my verlang dat ek in God glo nie, ek weet God bestaan, dit is hoe ek voel, daarom glo en weet ek sonder enige twyfel”.
Daardie temperament kan nie met argumente die hoof gebied word nie en nog meer so wanneer dit as ‘n redelike moontlikheid in my eie gemoed ook ervaar word.
Ek kan dus verstaan hoe dit moontlik is om God te ervaar, die emosionele aspek daarvan en nie die eindlose pogings om dit te probeer bewys nie aangesien die struikelblok van “intellektualisme” deur Henn voorheen teen my geopper is.
Ja, ek sien hoe dit moontlik is om in God te glo met Jesus as die weg. Daardie sin sou jy soveel beter kon skryf.
Baie dankie ook vir die takt getoon met die keuses van jou woorde, “gekose lewenstyl en geestesstyl”.
Dit was baie goed gekies en dankie daarvoor.
Nogmaals baie dankie vir die hele siklus van briewe en is dit jammer dat daar soveel persoonlike detail weer moes bespreek word op ‘n forum wat eintlik oor idees en argumente oor die stand van die werklikheid te behoort gaan.
Dit is seker maar wat elke deelnemer vir hom of haar moet uitklaar is dit beter om in stilte te lees weg van die forum af, wat ek gedoen het onlangs en te los om dit te bespreek op ‘n forum wat die ruimte skep vir sulke gesprekke maar verval in eindlose persoonlike aanvalle.
Hoe om debat los te maak van die persoonlike, wanneer die argumente so nou verweef is met die uitdrukking van die persoon se wese is die uitdaging en een waarvoor ek nie ‘n oplossing het nie.
Dankie dat ek en jy kon verskil maar tog ‘n vrede met mekaar kon bereik het.
Ek is opreg dankbaar daarvoor.
Baie dankie
Wouter


Kommentaar
Hallo Wouter,
Ek dink my waardering vir jou bydrae en aandeel met die dinamiese interaksie tussen jou en met my en jou bydraes oor die algemeen het ek op hierdie openbare forum baie duidelik gemaak, iets wat ek normaalweg glád nie sou doen nie …
Oor jou vermoë om toenemend te vorder op die weg waar jy in staat is om die kaf van die korrels te skei, só anders as meeste ander hier, het ek, ongewoon aan my normale styl en benadering, ook niks aan die verbeelding oorgelaat nie. Jou brief hierbo bewys dat ek reg is oor jou en om te dink dit is maar net die begin… jy is ’n regte go-getter!
Behalwe met my mede-gelowiges hier, geniet ek jou bydraes toenemend. Ek het lankal in my lewe agtergekom en geleer - die Waarheid is my allerbeste Vriend – om in tel te wees by en in die goeie boekies van, alle ander mense, verg van ’n mens die onmoontlike, verál prysgawe van die kosbaarste van kosbaarhede – die Waarheid.
Ek besef terdeë dat dit ’n baie moeilike missie is vir ’n diep gelowige vader/moeder om met ’n agnostiese kind te praat en natuurlik andersom ook, júís oor die geweldige kloof wat agnostisiteit en die gevolge daarvan bewerkstellig in ’n familie van gelowiges, sónder dat een van die twee dit werklik só wil hê… hoe absoluut ironies. Tog het ek al agtergekom met watter respek jy jou ouers behandel - klein dingetjies, maar ek merk hulle op. Ek is veral dankbaar dat jy die vrymoedigheid en die durf gehad het en steeds het, om dié broodnodige gesprek met my deur te worstel, tot waar ons nou is. En hoe vêr het jy nie alreeds gevorder nie! Ek en jy is die bewys dat die regte gesindheid Vrede kan en sal, bewerkstellig.
Vir jou vader kan jy met my komplimente gaan sê, dat jy gereed is vir heerlike gesprekke met hom oor dít wat die skyn van onoorkombaarheid gehad het – en vir hom sommer sê dat ek glo sy seun nog ’n blink toekoms voor het – nie net as IT spesialis nie, maar verál dáár waar dit die meeste Goedheid inhou.
Groete,
Kobus de Klerk
Hello Kobus,