Verskietende ster: ’n Onderhoud

  • 0

Titel: Verskietende ster
Skrywer: Stefan Enslin
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781920654016

Koop Verskietende ster by Kalahari.com.

Naomi Meyer vra vir Stefan Enslin uit oor sy boek Verskietende Ster, wat onlangs by Naledi verskyn het.

Hallo Stefan, geluk met jou debuutroman, Verskietende Ster. Heel eerste ding wat my opval toe ek die boek in my hand hou, is die frase: “Binnekort in rolprentteaters.” Nou hoe op aarde kry mens dit reg? Skryf ’n boek en weet sommer dadelik hier kom ook ’n fliek? Verklap bietjie aan ons lesers ...

Die boek was heel eerste ’n draaiboek gewees. Ek het die draaiboek begin ontwikkel begin 2011 met die idee om ’n film daarvan te maak. Oor die afgelope twee jaar het ek aan die draaiboek gewerk totdat ek Oktober 2012 besluit het om my hand te waag aan romanskryf en toe die draaiboek omskep het in romanvorm.

“Forgiveness does not change the past but it does enlarge the future,” staan voorin jou boek. Ek weet reeds hier is ’n tema waar die hoofkarakter moet vrede maak met sy pa. Of wat was die rede vir dié aanhaling?

 Die rede vir die aanhaling is presies dit – om vrede te maak. Dit is iets waarmee ons almal sukkel en ’n groot struikelblok in soveel verhoudings. Deur vergifnis is ons vry gemaak van sonde en kan ons leef in die wete dat daar niks in ons verhouding met God staan nie. Ons kan nou met vrymoedigheid na hom toe gaan deur gebed. Dink hoe moeilik sou dit wees as daar nie iets soos vergifnis was nie en die swaarte daarvan op ons daaglikse lewens. Tog proe ons daai onvergifnis deur nie van ons kant af te vergewe nie. Ek wil basies die prentjie geskets het tussen ’n lewe sonder vergifnis met sy impak op ons daaglikse lewens en een met vergifnis en hoe dit ons vry maak en lewens kan verander.

Musiek is ’n ander belangrike (dié!) tema in die boek. Steek daar iets outobiografies hierin? Komponeer jy ook musiek, nes die hoofkarakter?

Musiek is ’n groot passie van my. Van jongs af is ek mal daaroor en kan deesdae nie werk sonder musiek in die agtergrond nie. Ek het op universiteit gesing en dans in die revue en bespeel ook tromme. Vir lank was ek deel van die kerk in Engeland se lofprys-en-aanbidding-span. Alhoewel ek graag sou wou komponeer, hou ek eerder net by liriekeskryf. Dit kan nogals moeilik raak om te probeer komponeer met slegs tromme!

Die aand met jou boekbekendstelling in die Somerset Mall het jy gesels oor al die rigtings wat jy reeds studeer het. Vertel bietjie vir al ons lesers wat nie daar was nie, nog bietjie hiervan.

Ek wou altyd na skool drama studeer het, maar na matriek het ek op iets anders besluit. Die rede vir die besluit is ’n storie op sigself. Ek het afgeskop met teologie, maar ’n paar maande later gevoel dat ek nie werklik geroep is om ’n dominee te word nie. Ek het oorgeskakel argitektuur toe en paar maande later gevoel dat dit ook nie werklik is wat ek wil doen nie. Daarna het ek ingeskryf vir beeldende kunste, maar voordat ek dit nog begin studeer het, besluit ek wil dit nie doen nie en het selfs grafiese ontwerp oorweeg. Op die ou einde het ek ingeskryf vir stad-en-streeksbeplanning. Twee jaar in laasgenoemde rigting in het ek gevoel dat ek veel eerder drama moes studeer het, maar my ouers het my aangemoedig om stad-en-streeksbeplanning klaar te maak, aangesien ek reeds halfpad was met die rigting. Dit is wat ek toe gedoen het en het in 2002 as stad-en-streeksbeplanner gegradueer.

Jy het lank in Londen gebly. Wat was lekker daar anderkant – en wat was moeilik?

Die lekker is die gemak waarmee mens kan lewe. Dit voel net of die lewe baie gemakliker daar is. As jy iets wil koop, doen jy dit gou oor die internet en 24 uur later is dit voor jou deur. As jy die grou weer wil ontvlug, koop jy jou vliegkaartjie sonder om jare daarvoor te begroot, spring op ’n vliegtuig en gaan geniet jouself in die land van jou keuse. Engeland is so sentraal geleë dat dit dinge maklik maak om die wêreld van daar te verken. Natuurlik kom alle goeie ook mos met sy skeppie sleg/moeilik. Die weer! Dit is permanent grys en jy kan goed onthou wanneer dit die vorige jaar somer was – aangesien dit gevoel het of somer slegs op ’n spesifieke dag of week geval het. Mens is ook ver van jou familie af en ek onthou goed hoe my ouma oorlede is die tyd wat ek daar was sonder om te groet. In die begin is dit nie altyd maklik nie, want dit is die vreemde, nuwe kultuur, totaal en al ’n ander tipe Engels as waaraan ons gewoond is, nuwe geldeenheid, nuwe vriende ... In kort: jy moet ’n nuwe lewe van scratch af begin in ’n vreemde land met ’n uitheemse taal.

Wou jy nog altyd skryf en hoe lank het dit jou geneem om Verskietende Ster te skryf?

 Ek was nog altyd mal oor skryf en een van my gunsteling-vakke op skool was Afrikaans, bloot oor opstel skryf. Ek het op skool gedroom van draaiboekskryf, asook boeke, maar geglo dat dit by droom sal bly. Toe ek in 2011 kwalifiseer as draaiboekskrywer het dit gevoel asof kreatiwiteit deur my are stelselmatig weer geluk by my verwek en dadelik geweet dit is waarvoor ek geskape is. Stad-en-streeksbeplanning het my kreatiwiteit en lus vir werk heeltemal doodgemaak en ek het besef hoe belangrik dit is om geluk in jou werk te vind. Verskietende Ster die roman het my ongeveer vyf weke geneem om te voltooi, maar dalk het ek so vinnig geskryf omdat ek darem reeds ’n voltooide draaiboek as verwysing gehad het.

Dink jy alle mense het ’n talent en met ’n rede? Wil jou boek hierdie boodskap uitdra, of wil jy net iemand se storie vertel?

Ek is vas oortuig in my hart dat God ons elkeen met ’n talent geskape het vir ’n rede. Nie almal het dieselfde talente nie en daar moet tog ’n rede wees daarvoor. Hoekom sou God ons dan in die eerste plek met verskillende talente geskape het? Hy het dit gedoen vir ’n rede. So kom ons gebruik daai talent vir die rede waarvoor ons dit ontvang het en kyk hoe dit die wêreld begin verander.

Wil jy nie asseblief met ons lesers enige ander internetinsette deel wat relevant is ten opsigte van jou werk nie?

Die ScreenAfrica-artikel handel oor ’n dokumentêr wat ek besig was om te verfilm. Die seuntjie is gebreklik met ’n siekte wat geen dokter nog kan diagnoseer nie. Hy groei ook en sy ma (wat baie klein is, en ’n enkelouer) kan hom nie meer ronddra nie. Ongelukkig het sy nie die geld om vir hom ’n rolstoel te koop wat motoraangedrewe is nie. Ek het besluit om bewustheid te probeer skep deur ’n dokumentêr toe ek hoor sy en hy wil saam die Argus-fietsresies doen. Ongelukkig kon hulle toe nie daai betrokke jaar die Argus saam doen nie, maar die gedeelte wat ons wel van die dokumentêr verfilm het, het genoeg bewustheid gekweek dat hy wel geborg is met ’n rolstoel asook ’n iPad met duisende rande se programme om hom te help om met sy ma te kommunikeer.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top