In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
"Om kaas te eet kan lewensgevaarlik wees," sê regter Hiemstra in 'n hooggeregshofuitspraak van 1964.
'n Sekere mnr Alston het breinbeserings in 'n motorbotsing opgedoen. Die botsing is veroorsaak deur die nalatigheid van die ander bestuurder. Hy het daarna aan depressie gely waarvoor 'n destyds bekende antidepressant, Parstellin, vir hom voorgeskryf is. Op 'n dag het mnr Alston kaas geëet, waarna hy 'n aanval van beroerte gehad het. Daar was voldoende mediese getuienis om te bewys dat die beroerte-aanval die direkte gevolg was van die gekombineerde inname van Parstellin en kaas.
Mnr Alston het daarna 'n derdeparty-eis teen 'n versekeringsmaatskappy ingestel vir die vergoeding van sy skade. Sy eis was R2 000 – 'n skaflike bedrag in 1964. Afgesien van die R2 000 wat hy geëis het, het hy ook nog 'n verdere R900 geëis vir die addisionele skade wat die beroerte-aanval tot gevolg gehad het.
Die saak het op 5 Junie 1964 voor regter Hiemstra gedien. Die regsvraag voor die hof was of daar 'nkousale verband was tussen die beroerte wat mnr Alston opgedoen het nadat hy Parstellin en kaas gelyktydig ingeneem het, en die motorbotsing waarin hy 'n tydjie vantevore breinbeserings opgedoen het waarvoor hy mediese behandeling moes ontvang. Ek het die woorde "kousale verband" gebruik, wat maar net die regstegniese term vir "veroorsaking" is. Iemand kan nie aanspreeklik gehou word vir skade as hy nie die skade veroorsaak het nie. Die begrip kousale verband hou dus in dat daar 'n verband moet wees tussen iemand se handeling en die gevolg of die skade wat ingetree het.
Nou, kom ons pas dit toe op mnr Alston se derdeparty-eis. As die botsing nie plaasgevind het nie, sou mnr Alston nie breinbeserings opgedoen het nie. Die breinbeserings wat hy opgedoen het, het daartoe gelei dat hy manies depressief geraak het, en dit het weer tot gevolg gehad dat sy psigiater vir hom die middel Parstellin voorgeskryf het. As hy nie hierdie middel geneem het nie, sou die kaas wat hy geëet het, hom geen skade berokken het nie, maar nou het die kombinasie van Parstellin en kaas sy beroerte tot gevolg gehad. En so kan 'n mens aangaan. Sê nou maar mnr Alston kon, as gevolg van sy beroerte, nie meer werk nie en gevolglik nie meer 'n inkomste verdien het. En sê nou maar hy het 'n kind gehad wat baie graag universiteit toe sou wou gaan, maar dit nou nie meer kon doen nie, omdat sy pa nie meer geld verdien het nie. Kan jy sien dat 'n mens op hierdie manier die kousale ketting net langer en langer kan maak en uiteindelik allesfeitelik kan terugvoer tot die nalatige manier waarop die voertuig wat met mnr Alston se voertuig gebots het, bestuur is?
Jou regsgevoel behoort jou te laat insien dat die reg spreekwoordelik êrens 'n streep moet trek, want dit lyk nie billik dat die versekeraar selfs vir mnr Alston se seun se studies moet opdok nie. En dit ís so: in geen regstelsel is daar wat al genoem is "oewerlose aanspreeklikheid" nie. Op een of ander manier moet die aanspreeklikheid van iemand wat die skade veroorsaak het, beperk word. Dit word beperk deur wat genoem word "juridiese aanspreeklikheid" – met ander woorde die vraag watter gevolge die persoon wat die wandaad gepleeg het, regtens toegereken moet word. Presies wáár die reg die streep moet trek, het in hierdie eeu al tot groot rusies tussen regsgeleerdes aanleiding gegee. Dit het ook gelei tot verskillende kousaliteitsteorieë, waarmee ons jou nie nou sal vermoei nie.
Nou, die akademici kan maar lekker onder mekaar stry oor watter van dié teorieë die aanvaarbaarste is, maar hulle kom in die praktyk almal uiteindelik by dieselfde punt uit wat die appèlhof in 1990 geformuleer het in die saak van Staat teen Mokgethi. 'n Bankteller is tydens 'n rooftog deur ene Mokgethi tussen die skouers geskiet, wat hom verlam het. Hy kon wel, as parapleeg, 'n paar maande later sy werk hervat in 'n rolstoel. Daar het egter druksere ontstaan wat septies geraak het en later sy dood veroorsaak het. Die appèlhof het beslis dat die koeëlwond wat hy opgedoen het, nie as die juridiese oorsaak van sy dood beskou kon word nie. Die hof het 'n soepel benadering gevolg en gesê dat daar in elke geval gekyk moet word na openbare beleidsoorwegings wat gebaseer is op redelikheid, billikheid en geregtigheid voordat daar beslis kan word of daar sprake kan wees van juridiese kousaliteit in 'n bepaalde geval.
Maar terug by mnr Alston se saak en die vraag of daar 'n voldoende juridiese band was tussen die beroerte wat hy opgedoen het nadat hy die kaas geëet het en die motorbotsing waarin hy beseer is. Jy het waarskynlik reg geraai: die hof het bevind dat hierdie twee gebeure só ver van mekaar verwyder was dat die derdeparty-versekeraar nie aanspreeklik gehou kon word vir die skade wat hy gely het weens die beroerte nie. Hy is dus slegs vergoed vir die beserings wat direk tydens die botsing veroorsaak is.
O ja, Parstellin, die gewraakte middel wat so sleg met kaas gekombineer het, is intussen van die mark onttrek. Daar is glo bevind dat dit ook nie lekker saamgaan met rooiwyn nie en om vir iemand te sê dat hy kaas én rooiwyn moet los, is darem baie gevra. Daarom het die farmaseute maar 'n nuwer, beter middel wat saamgaan met kaas en wyn, loop uitvind.
En so gepraat van hoe gaaf wyn en kaas saamgaan: iewers in Deel 1 van Jaap Steyn se weergalose biografie van NP Van Wyk Louw lees ek dat Louw tydens 'n geselligheid waar daar wyn was - maar nie kaas nie - uitgeroep het: "Kaas sonder wyn is soos 'n bruid sonder tande!"
Steyn, JC: Van Wyk Louw – 'n Lewensverhaal (Kaapstad: Tafelberg Uitgewers, 1998)
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

