Verrassingspakkie

  • 0

Party dae is soos ’n persent. ’n Verrassingspakkie. Die dag begin heel normaal. Mens beplan iets, maar dan word dit ’n baie spesiale dag... Vandag was so ’n dag.

My kollega is by die huis, sy sterk aan na ’n operasie. Ek het vroeg by die Spar gestop , koek gekoop. Servette en bordjies. En blomme vir haar.

Ek reël dat sy skool toe kom, dat die kinders vir haar kan geluk sê en die koek is mos maar vir hulle.

Teen pouse het my twee hulpe iewers heen verdwyn. Na pouse by die klas aangekom is hulle doenig.

Hulle was by die dame wat die stoor behartig en het ’n hele klomp goed daar gekry: partytjiehoedjies, maskers, stukke organza (oorgebly van vorige funksie), Kersversierings, goue en rooi balle...

Promise, het van iewers ’n “Happy birthday!” banner te voorskyn gebring (’n banier wat van blokkiespapier en gekleurde wol gemaak is ... sekerlik met liefde).

Tussen Yolanda en Promise het hulle vir hulle juffrou ’n regte party gereël.

Hulle het sommer besluit dat die partytjie nie in die klas moet wees nie, maar buite iewers. Daar is ’n afdakkie wat lyk soos ’n voëlkykskuiling met bankies (later uitgevind dis ‘n “outdoor classroom”).

Yolanda sit die plastiekbekers neer en plaas die ou wit servetjies mooi daarin. Promise het iewers ’n klein wit verskoning vir ’n tafeldoek gaan haal. Die organza rangskikkings word tussen die koek gedrapeer.

En die hele tyd wat hulle doenig is, is die dowes tjoepstil, slaan alles gade.

Toe Rita uiteindelik kom, was dit vir haar ’n kosbare ervaring. Gesê dit was die beste verjaarsdag ooit. En dis nie al nie.

Ek bel gister die blindingmense. Wil my oë toeknyp en vir my sonnige klas blindings laat insit, want my lieflike turquoise organza gordyne het reeds verbleik en is nou grys!

Die vroutjie kom vir die kwotasie. Dis dubbeld soveel as wat ek begroot het, maar ek sê ek sal die kwotasie aanvaar. Ek vertel haar so bietjie van die werk wat ek doen, van die Marietjie Skool vir Gestremdes, en voor ek my kom kry is ek tranerig, sy ook.

Teen daardie aand laat weet sy my: Sy en ’n paar vriendinne het reeds die blindings betaal. Dit was ’n goeie dag. ’n Fantastiese dag. Een van daai dae wat min oor mens se pad kom. Een van daai dae wat mens in jou hart bêre.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top