VER[r]AS-studeerkamerfunksie: Jackie van Wyk

  • 1

Die Vereniging vir Afrikaansstudente (VER[r]AS) van die Departement Afrikaans en Nederlands by die Universiteit Stellenbosch het op 15 Mei hul derde Studeerkamerfunksie aangebied. Jackie van Wyk was een van vyf oudstudente van dié departement wat genooi is om ’n toespraak te lewer oor hul loopbaan en oor wat BA-studente na hul studie in die praktyk kan verwag.

Ek gesels Vrydag met ’n kliënt van die Tolkdiens in die Algemene Taalwetenskapklas. As gevolg van die mees onlangse verandering in die Taalbeleid tolk ons nou meestal vanuit Engels na Afrikaans. Aangesien die meeste studente ook Engels verstaan, is daar deesdae soveel verskillende redes waarom hulle tolking gebruik, en ons probeer sover moontlik op hoogte bly van hierdie redes. Ek vra hom toe waarom hy verkies om na die lesing in Afrikaans te luister. Hy verduidelik vir my dat al sy klasse en handboeke in Engels is, maar dat hy in Afrikaans dink, leer en eksamens skryf. Hy vertel toe dat dit hom verskriklik baie help wanneer hy opsommings maak, want hy lees deur die Engels, maar dan hoor hy as’t ware die tolk se stem en dink aan hoe hy of sy dit in die klas in Afrikaans verduidelik het en dan maak hy sy opsommings in Afrikaans. Ek het lank gedink aan watter een van die vele sulke scenario’s ek met julle kan deel, maar hierdie een vat my werk redelik goed saam. My passie is om mense te help, om ’n rol te speel in die opvoedingsektor en ook tale. As opvoedkundige tolk by die universiteit vind ek kom my twee passies perfek bymekaar.

Ek het gedink om my storie vanaand te vertel in terme van teenpole. Die konsep van twee uiterstes en die spanning wat daarmee gepaard gaan om iewers in die middel van die twee te moet funksioneer, is iets wat my nog altyd interesseer.

1. Wanneer jy ’n BA studeer, is daar aan die een kant die wonderlike moontlikheid dat jy soveel dinge eendag kan gaan doen. Jy kan vertaling doen, redigering, onderwys, kreatiewe skryfkunde ens. Aan die ander kant is daar hierdie werklikheid dat daar soveel dinge is wat jy kan doen dat dit jou eintlik nêrens laat nie. Ek sê altyd ek is “Jackie of all trades, master of one”. Aan die einde sal ek sê wat daardie een “trade” is.

Daar was nooit enige vals reklame by die Departement nie – inteendeel, elke dosent en tutor wat ek gehad het, het my regtig opgewonde gemaak oor al die moontlikhede, maar om eerlik te wees, ek was nogal ietwat ontnugter toe ek aan die einde van my graad probeer het om werk te kry en nie geweet het waarvoor om te soek of waar om dit te kry nie. Ek het maar so gehoor van die werwingsagentskap Viv Gordon wat mense soos ek kan help, maar is aan die einde van my onderhoud met haar in trane daar weg. “So wat kan jy doen?” was haar vraag nadat sy gesien het wat ek studeer het. Ek het regtig nie geweet hoe om te antwoord nie. “’n Bietjie van alles” het haar nie beïndruk nie. Ek het nie geweet wat INDesign is nie en ek het nie enige werkservaring gehad wat goed genoeg gevoel het nie. So wat gaan ek nou eintlik doen? was die groot vraag. Toe ek begin studeer het, het ek geweet ek gaan iets in tale doen. Langs die pad het my planne gereeld verander. Ek het vertaling en radiowerk oorweeg. Tot ons eendag in ons honneursjaar op ’n uitstappie gegaan het na Media24 se kantore en ek Sarie se kantore gesien het. Dis wat ek wou doen, ek wou daar werk. Ek het nie geweet wat ek daar sou doen nie, maar dis wat ek wou doen. Totdat ek begin aansoek doen het vir werk en agtergekom het dis ook nie so maklik nie.

Soos wat ek vandag hier staan, was ek nog nooit vir ’n werksonderhoud nie en ek het nooit gedink dat ek sou vassteek by die universiteit nie. Nie dat ek dit as ’n negatiewe ding beskou het nie, maar ek het nog altyd gedink ek sou iets studeer en dan die wêreld van werk betree. In my derde jaar het ek ’n assistent geword by die Taalsentrum. Ek het nie geweet wat die Taalsentrum was voordat ek daar begin werk het nie, en om eerlik te wees, dit het my man en my ouers jare geneem om te verstaan wat die verskil tussen die Departement Afrikaans en Nederlands en die Taalsentrum is. So miskien moet ek dit net ook gou verduidelik.

Die Departement vorm deel van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe en is ’n akademiese departement. Die Taalsentrum is een van drie sentra wat dienste lewer in die ontwikkeling van taal- en kommunikasievaardighede en in vennootskap met die fakulteite werk. Die dienste is eerstens aan die universiteit self (beide studente en personeel) en tweedens ook aan eksterne kliënte. Die ander twee sentra is die Sentrum vir Onderrig en Leer en die Sentrum vir Leertegnologieë. Saam met die Sentrum vir Akademiese Beplanning en Gehalteversekering vorm die drie sentra deel van die US se Afdeling vir Leer- en Onderrigverryking. 

Die Taalsentrum bestaan uit die Tolkdiens, die Taaldiens, die Skryflab, die Kommunikasielab, die Leeslab en die omgewings vir akademiese geletterdheid, professionele kommunikasie en taalverwerwing. Soos julle kan hoor, is dit ’n geweldig diverse omgewing en ek hoop dat dit julle taalmense so ’n bietjie opgewonde maak as julle al hierdie woorde hoor. Ek kan vir ewig praat oor die Taalsentrum, maar kom ek fokus op een aspek van my werk, naamlik tolking.

2. Ek is ’n opvoedkundige tolk en maak gebruik van die simultaanmodus. Dit beteken ek tolk in die klaskamer, en ek tolk terwyl die dosent klasgee. Studente kom haal toerusting, ek sit voor in die klas en tolk na Afrikaans/Engels. Ons kry meestal vooraf die voorbereidingsmateriaal en het ’n groot databasis van PowerPoint-skyfies en termlyste wat ons gebruik om meer voor te berei. Om weer terug te keer na my beeld van die teenpole: aan die een kant is tolking absoluut senutergend en ’n uiters spanningsvolle beroep. Jy moet onder geweldige druk kan funksioneer, hoogs aanpasbaar wees, ’n baie dik vel hê en bereid wees om baie, baie hard te werk. Aan die ander kant is daar niks so lekker en bevredigend soos wanneer jy dit onder die knie begin kry en begin sien watter bydrae jy lewer in die kommunikasieproses nie. Ek onthou toe ek begin tolk het, het ek begin sweet en bewe as ek op die horlosie sien dat dit amper my beurt is. Maar toe ek dit eers begin regkry en ’n smakie daarvoor kry van hoe dit voel om dit te kan doen, toe raak dit absoluut verslawend en ek kon nie wag vir my beurt nie. Ek het ’n kollega gehad wat altyd gesê het ons is eintlik “rock stars”, want ons het nie tyd om te soek vir ’n woord in die woordeboek of om lank daaroor te dink nie. Wanneer jy jou mikrofoon aanskakel, is dit net jy en die boodskap. Wat jy daarmee doen, is jou verantwoordelikheid, jou werk, maar ook jou voorreg. Jy kan nou luister, prosesseer, omskakel en al jou kreatiwiteit, taalkennis en algemene kennis inspan om die boodskap so akkuraat en effektief moontlik oor te dra. Aan die een kant is dit nie jou boodskap nie, in die sin dat jy nie besluit op die inhoud nie, maar aan die ander kant ís dit joune, want jy skakel dit om en neem van oomblik tot oomblik besluite wat net jy kan neem.

Opvoedkundige tolking val iewers tussen konferensietolking en skakeltolking of gemeenskapstolking. Ek het in my honneursjaar Vertaal- en Tolkteorie as vak geneem en het daarna verdere teoretiese en praktiese opleiding ontvang by die Departement en ook die Taalsentrum.

Dit bring my by die derde geval van teenpole – die spanning tussen kwalifikasie en ervaring.

3. Die gehalte van onderrig aan die US, en veral die Departement Afrikaans en Nederlands, is uiters hoog, en bo en behalwe alles wat ek daar geleer het, voel ek regtig hulle het van my ’n kritiese denker gemaak. Iets wat ek elke dag en in enige beroep kan gebruik. Jy sal nooit spyt wees dat jy ’n BA-graad gedoen het nie. Maar moenie dink dat jou paadjie ’n reguit een gaan wees nie. Daar is dalk baie afdraaie wat jy gaan neem, net om dalk weer terug te draai. Jy sal vind dat jy ook nie noodwendig iets gaan doen waarvoor jy spesifiek studeer het nie. Aan die een kant kan ons sê doen wat jou hand vind om te doen, maar ’n mens moet ook nie vergeet dat jou hand darem moet weet wat hy doen nie. Ek het nie tolking as sodanig studeer nie, maar hier is ek vandag ’n voltydse tolk wat eintlik ’n baie suksesvolle loopbaan het. Aan die een kant is dit belangrik om jou kwalifikasies te voltooi, maar aan die ander kant dink ek nie jy moet verwag dat jy noodwendig gaan doen wat jy gedink het jy gaan doen nie. My raad sou wees om elke geleentheid aan te gryp terwyl jy studeer en om nie lang universiteitsvakansies te hou nie. Gaan werk. Kry iets om iewers te doen, al het dit net ’n klein bietjie te make met wat jy graag wil doen. Ek het vir twee jaar tussen my klasse deur gestaan en onderrigmateriaal afrol, pos haal en lêers oortrek, en min het ek geweet dat ek eendag die dosent sou wees wat daardie klasse sou gee. En toe ek vir die eerste keer getolk het in my honneursjaar, sou ek nooit kon geraai het dat dit sou wees wat ek eendag as my werk sou doen nie.

Ek wens iemand het vir my voorgraads gesê dat dit wat ek gaan doen, nie rondvallery is nie. Ek onthou hoe iemand eendag gevra het wanneer ek ’n “regte werk” gaan kry en dit was baie ontstellend. Ek wens ek het toe verstaan wat die waarde daarvan is om iets van alles te doen totdat jy iewers vind waar jy wil wees.

As jy tolking as ’n beroep oorweeg, wil ek graag die volgende paar idees met jou deel.

Ek self het nog nooit buite die universiteit getolk nie, maar ek het met ’n paar kollegas gesels wat meer ervaring in die beroep het en hulle het vertel hoe tolking baie vryskutwerk behels. Jy kan jou by ’n tolkagenskap aansluit of by regeringsdepartemente en howe gaan tolk, en natuurlik kan jy jou tolking aanvul met ander taalverwante werk soos vertaling, transkribering, oorklankingswerk of die maak van podsendings.

Dan wil ek ook sê dat tolking absoluut ’n avontuur is. In my geval, waar ek in die klaskamers tolk, weet ek nou al so ’n bietjie van soveel verskillende onderwerpe dat ek met amper enigiemand ’n gesprek kan aanknoop. As ek net kyk na dit waaroor ek die afgelope week getolk het: die liggaamstaal van ’n maatskaplike werker; hoe woestyne vorm; hoe ons die sosiale leerteorie kan gebruik om misdaad te probeer verstaan; wat radikale demokrasie is; en of taal ook ’n vorm van kulturele toe-eiening (cultural appropriation) is.

Aan die begin het ek gesê dat ek ’n “Jackie of all trades” is en “master of one”. Daardie “one trade” is waar ook al ek my bevind. Wat ek ook al doen, ek werk hard en maak die beste daarvan. Daardie “een ding” kan verander en dit is nie ’n slegte ding nie. Dit hou die lewe baie interessant en is ’n aspek van ons beroep waarop ons trots moet wees. Ons val nie rond nie; ons bestaan wel dikwels in die spanning wat daar tussen twee pole is, maar dit gaan ook veroorsaak dat jy nooit gaan stilstaan nie. Elkeen van julle het julle eie pole. Dit is dalk aan die een kant iets wat jy eintlik wil doen en aan die ander kant dit wat jou ouers of die samelewing van jou verwag, maar ek wil julle aanmoedig om hierdie punt in die middel nie as iets negatiefs te beskou nie. Vat die afdraaie, doen die werk, verander van plan, en as iemand vir jou vra wat jy eendag gaan word en jy weet nog nie, dan jy “ek weet nog nie”. Maar sê dit met selfvertroue.

As jy meer wil weet oor die Taalsentrum en met watter opwindende projekte ons besig is, besoek gerus ons webtuiste by http://www0.sun.ac.za/taalsentrum en volg ons op sosiale media:

Facebook: @sulanguagecentre, Instagram: @sulanguagecentre

Algemene opmerkings

Ek dink daar is wonderlike vooruitsigte vir BA-studente mits hulle hulle nie laat afskrik deur stereotipiese idees rondom die betrokke studierigting nie. Afrikaans en Nederlands-studente het die potensiaal om hulle eie werk te skep, maar ook om vir ander werk te skep. Afrikaans is ’n wonderlike taal, maar daar is ongelukkig soveel moedertaalsprekers van Afrikaans wat dit, sonder om twee keer te dink, inruil vir Engels. Daar is hopeloos te veel wanpersepsies oor die geleenthede wat Engels vir jou bied – jy kan hier in Suid-Afrika woon en werk en lewenslank ’n suksesvolle loopbaan hê. Die navorsing wys oor en oor hoe waardevol moedertaalonderrig is. As studente ’n loopbaan in Afrikaans volg, help hulle om die taal lewend te hou, maar ook om opsies te skep vir die gebruikers daarvan.

Dit is nogal verbasend dat werk in tale en die kunste soveel vryskutwerk en die skep van jou eie werk behels, maar dat studente nie enige besigheidsbeginsels of entrepreneurskapsvaardighede leer in hulle BA-studies nie. Daarom is dit studente se eie verantwoordelikheid om werk te maak hiervan. Doen dalk self ’n kursus of leer by ervare mense, want voor jy jou kom kry, moet jy fakture uitreik, weet wat aangaan met jou belasting en jouself of spesifieke dienste begin bemark.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top