Verpligte Zoeloe by UKZN: bestuursbesluit, plekhouer of veeltaligheidsbaanbreker?

  • 2

Daar is twee funksies vir ’n taal. Die een is kommunikasie, die ander identiteit. Gewoonlik hou die twee met mekaar verband, maar nie altyd nie, en ook nie ewe veel in alle tale nie. In Engels, byvoorbeeld, ten minste in sy hoedanigheid as lingua franca (van die wêreld, van Suid-Afrika), vind kommunikasie plaas, dwarsoor grense van kultuur en land, sonder dat sprekers hulleself juis sprekers van Engels “voel”. Maar in verreweg die meeste tale is die funksies van kommunikasie en identiteit nou verweef. Waar die kommunikatiewe funksie van ’n taal suksesvol is – sprekers wil in ’n bepaalde taal met mekaar praat (en vir mekaar skryf) – is dit danksy die feit dat hulle mekaar as sprekers van die taal eien, en die taal self toe-eien as iets waarmee hulle hulleself identifiseer. Om dit anders te stel: hulle wil nie net in die taal kommunikeer nie, maar (iets van) hulleself in die taal laat geld. Die taal is ’n manier van in-die-wêreld-wees.

 

Dit volg logies dat diegene wat ’n taal wil “ontwikkel” of “bevorder”, beide hierdie funksies in ag sal neem. Maar ’n taal is niks sonder die mense wat hom gebruik nie; daar is geen taalkundige ontwikkeling of bevordering wat nie in die eerste plek die ontwikkeling (van die vermoëns) en die bevordering (van die belange) van die mense – die sprekers van die taal – is nie. Kom ons pas hierdie redenasie toe op die idee dat inheemse tale (Zoeloe, Sotho, ens) ontwikkel moet word om te dien as “hoë vlak”-gebruikstale in die oordrag en daarstelling van kennis, spesifiek op universiteit. Enersyds sal genoemde ontwikkeling studente wat meer bevoeg is in die inheemse taal as in Engels, ’n gemakliker, breër toegang gee tot akademiese materiaal en besprekings, wat dui op die kommunikatiewe funksie. Andersyds sal hulle – en hulle dosente! – op so ’n manier met die kennis kan omgaan dat hulle hulleself en mekaar as sprekers van die taal daarin sal kan eien, ’n soort intellektuele identifisering wat geslagte Afrikane wat nog altyd ’n taalsprong moes maak ten einde moderne wetenskaplike, akademiese kennis te bekom, eintlik nog nooit beskore was nie.

Dit bring my by die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) se besluit, wat die afgelope weke nogal wyd aandag getrek het, om dit vanaf 2014 ’n vereiste te maak dat alle nie-Zoeloesprekende studente ’n module in Zoeloe slaag alvorens hulle kan graad kry. Toegegee, daar is nog ’n baie lang pad te loop van dié vereiste tot by die gebruik van Zoeloe as onderrig- en navorsingstaal (“hoë vlak”-gebruik). Nietemin is dit beduidend dat UKZN hierdie stap onomwonde bestempel as ’n “watershed” – ’n deurbraak, ’n daadwerklike eerste stap – in sy strewe om Zoeloe tot ’n akademiese taal gelykstaande aan Engels te ontwikkel en hom dan self ook op die skouer klop as synde die eerste Suid-Afrikaanse universiteit (“UKZN pioneers ...”) wat van tweetaligheid ’n werklikheid maak (ten minste, moet ’n mens seker byvoeg, wat betref die insluiting van ’n inheemse taal afgesien van Afrikaans). In die pers is die stap dan ook wyd aangeprys, en Pansat het dit geloof as ’n aanduiding van ’n nuwe era in die erkenning van die werklikheid van veeltaligheid in Suid-Afrika.

Weerspieël hierdie besluit egter noodwendig ’n benadering tot  taalontwikkeling in die terme waarna ek hier bo verwys het?

In haar aankondiging van die senaatsbekragtiging van die besluit op 15 Mei (via ’n interne communiqué), verwys die vise-onderkanselier van onderrigaangeleenthede, Renukha Vithal, inderdaad na die twee funksies. Sy haal verskeie statistieke aan wat dui op die belang van Zoeloe as taal van kommunikasie (meer as 60% van UKZN se studente is Zoeloesprekend), en sy wys op die belang van taal – die aanleer van ’n taal – as ’n manier om sosiale kohesie te bevorder in ’n land wat steeds aan die hand van taalidentiteite verdeel word. Identiteit is dus ter sprake (alhoewel nie soseer spesifiek in die sin van die “intellektuele identifisering” wat ek hier bo aangeraak het nie). Voorts herinner sy die personeel daaraan dat studente in die gesondheidswetenskappe die afgelope jare ’n module in Zoeloe moes doen, dat die module “goed ontvang” is en dat die universiteit aansoeke ontvang het van “beide personeel en studente” dat dié module in alle grade op voorgraadse vlak ingesluit moet word. Die beoogde module sal genoegsame kommunikatiewe bevoegdheid ontwikkel vir “akademiese interaksie”, en sal aangepas word om te voldoen aan elke graadprogram se vereiste vlak van taalbeheersing. Waar fase 1 van die implementering van die beleid (tot 2018) sal fokus op kommunikatiewe bevoegdheid, sal fase 2 (2019–2029) meer bepaald gemoeid wees met die ontwikkeling van skryftaal. Ten slotte wys sy daarop dat die beleid strook met die universiteit se transformasiemanifes.

Aan die hand van hierdie dokument is dit maklik om tot die verleidelike slotsom te kom dat die besluit om Zoeloe verpligtend te maak by UKZN – om hom in te lyf as akademiese taal – beantwoord aan ’n behoefte van die UKZN-“publiek” (die studente, hulle ouers en gemeenskap, en die dosente). Maar dit is nie heeltemal so eenvoudig nie. Daar is duidelik ’n breë toegeneentheid teenoor Zoeloe (en die meer algemene idee van veeltaligheid) onder nie-Zoeloesprekendes by UKZN, en daar is geen rede om te vermoed dat die praktiese modules in die gesondheidswetenskappe, gemik op alledaagse kontak tussen praktisyn en pasiënt, nie inderdaad “goed ontvang” is nie. Om egter hierdie toedrag van sake aan te slaan as ’n genoegsame akademiese motivering vir die verpligte insluiting van Zoeloe in alle voorgraadse programme – en met feitlik onmiddellike inwerkingtreding – strek veel verder as die bovermelde “behoefte aan Zoeloe” van die UKZN-publiek. Om die waarheid te sê, dit is nie soseer die publiek se behoefte wat ter sprake was nie, maar die bestuur s’n. Die topbestuur s’n, om presies te wees.

Hier sal dit insiggewend wees om ’n bietjie te kyk na die aanloop tot hierdie “waterskeidingsmoment”. So ’n sewe jaar gelede word UKZN se voorgenome tweetalige taalbeleid amptelik van Engels en Zoeloe aanvaar. Wyle Neville Alexander, bobaas kampvegter vir veeltaligheid, word uitgenooi vir die geleentheid en spreek die senaat toe. Dit was, soos reeds gesê, ’n ruk gelede. Wat het intussen gebeur? Kom ons begin by wat nié gebeur het nie: ’n inisiatief – énige inisiatief – om Zoeloe te vestig binne ’n akademiese diskoers, dws buite die gebaande weë van Zoeloe as deel van die Zoeloe-dissipline (-departement), ietwat misleidend bekend as African Languages (’n module in Swahili is darem vanaf 2013 beskikbaar). Geen openbare lesings in Zoeloe nie, geen debatsforum nie, geen akademies-gesinde nuusbrief of webblad nie; les bes, ook nie ’n boek nie. Sou dit byvoorbeeld moontlik gewees het om, sê nou maar, ’n groep Zoeloesprekende vakkundiges byeen te bring wat elkeen ’n artikel in alledaagse taal bydra oor wat hom/haar aangespoor het om in ’n bepaalde gebied te spesialiseer (genetika, fisika, ekonomie, filosofie ...)? Wat wel gebeur het, in ’n groot mate danksy ruimskootse Noorweegse befondsing, is die instelling van praktiese taalmodules in Zoeloe in die gesondheidswetenskappe, waarna ek hier bo verwys het. Die res was by uitstek simbolies: Zoeloeliedere wat naas “Gaudeamus igitur” weerklink by Engelstalige gradeplegtighede; so nou en dan ’n berig in Zoeloe in die universiteit se maandelikse korporatiewe glansblad met die sexy (Zoeloe-) naam UKZNdaba. En ’n burokratiese struktuur onder die imposante benaming UKZN Language Board, wat onder Vithal ressorteer. (Daar is lank gesukkel om ’n gepaste – Zoeloesprekende – beampte vir dié buro in die hande te kry; die aanstelling van ’n Language Planning Coordinator is uiteindelik slegs enkele dae voor die gewraakte aankondiging gemaak.)

Die bekende sosiolinguiste Ali en Amin Mazrui het eenmaal opgemerk dat taal in Afrika ’n plekhouer (“proxy”) is vir ras. Hulle het dit aangevoer as een van die redes waarom Afrika-tale in die geheel nêrens tot standhoudende hoëvlakgebruik ontwikkel het nie (Afrikaans is ’n uitsondering). Om dit eenvoudig te stel: taal was maar altyd ’n voorwendsel vir iets anders. Nou wil ek nie voorgee dat UKZN se gebasuinde ontwikkeling van die Zoeloetaal sonder meer gaan oor “ras” nie. Maar dat dit wel gepaard gaan met ’n stywe dosis ideologie – ideologie wat min noodwendige verband met taal het, ten minste in soverre ek taal hier bo omskryf het – is redelik seker. (Die ideologie kan min of meer uitgespel word, of min of meer verswyg word, afhangende van omstandighede.) Soos reeds gesê, die pasaangekondigde beleid van UKZN was grotendeels bestuursgedrewe. Twee dinge is hier deurslaggewend: eerstens die ideologiese inslag van die  topbestuur, by uitstek verteenwoordig, aan UKZN, deur sy rektor, Malegapuru Makgoba; tweedens die “waarde” van “beleid” binne ’n spesifiek bestuursgedrewe opset – énige beleid, maar waarvan taalbeleid ’n besonder sprekende voorbeeld is.

Kom ons begin by die eerste. Makgoba se naam word sterk verbind met twee verbandhoudend begrippe: transformasie en Afrikanisme. Soos byvoorbeeld na vore kom uit volblad-koerantadvertensies wat die universiteit van tyd tot tyd uitneem, is daar geen tekort aan korporatiewe trots by UKZN oor die feit dat dié instelling een van Suid-Afrika se mees “getransformeerde” universiteite sou wees nie. (Makgoba is juis onlangs aangestel as voorsitter van ’n kommissie oor universiteitstransformasie.) Die UKZN-rektor het verder ook die afgelope jare bekendheid verwerf vir sy uitsprake, onder andere in debatte in die pers, aangaande afrikanisering. Hierdie denkrigting is dan ook duidelik die dryfkrag agter die reklamelyn “Premier University of African Scholarship”, sowel as die akademiese vereiste, ten minste wat die geesteswetenskappe betref, dat byvoorbeeld nuwe leerplanne ’n duidelike Afrika-ingesteldheid moet toon.

Makgoba se ideologiese verbintenis tot afrikanisering hou nóú verband met die Mbeki-era (dink aan Thabo Mbeki se liriese “I am an African ...”) van so ’n vyf tot tien jaar gelede; en sy swierige inhuldiging as visekanselier van UKZN in 2005 was deeglik onder die vaandel van kwessies soos die Afrika-universiteit, die rol van die intellektueel in Afrika, ens (Lebo Mathosa van Boom Shaka-faam het vir die musiek gesorg).  En ... die bordjies is verhang. Enkele dae voor die inhuldiging was al die naamborde op die Westville-kampus (sedert die samesmelting tussen die Universiteit van Natal en die Universiteit van Durban-Westville die setel van bestuur) as’t ware oornag in Zoeloe: COMSA Lounge het byvoorbeeld iLawunji yeCOMSA geword. (COMSA was toentertyd die toonaangewende personeelvakbond.)

Die tweede aspek waaraan ons moet aandag gee, is beleid. Tradisioneel dink ons aan ’n beleid as ’n “plan van aksie”, ’n middel tot ’n doel. Maar hierdie siening blyk enigsins naïef te wees binne die bestuursgedrewe korporatiewe opset van UKZN. In ’n stadium was ’n beleid ’n min of meer obskure dokument wat mens moes gaan “soek” of “naslaan”; vandag het beleidstukke egter op ’n manier uithangborde geword: ’n beleid wat “bestaan”, is ’n teken van burokratiese uitnemendheid. Van kernbelang in hierdie bestuurskultuur is dat jy gesién word (dat jy iets dóén). Die beleid is klinkende bewys daarvan. Die “doen” is tussen hakies, vir later. Dis die gesien word – die beleid – wat tel.

En dit is dan ook by uitstek so in die onderhawige geval. Niemand kan dit ontken dat UKZN se aankondiging oor ’n beleid van verpligte infasering van Zoeloe in 2014 alrééds ’n groot sukses is nie: in KwaZulu-Natal, waar die universiteit maar te dikwels onder skoot kom (sporadiese studenteonrus oor uitsluitings en verblyfstekort, wanbetaling van deeltydse dosente se salarisse, ens), was die reaksie in die pers hoogs positief. Kommentators wat bekend is vir hulle kritiek van openbare beleid, soos Pierre de Vos en Jonathan Jansen, het nie gehuiwer om die UKZN se stap as “’n goeie idee” en “progressief” te bestempel nie. (Laasgenoemde het weliswaar – tereg – sy bedenking uitgespreek oor die feit dat Zoeloe verpligtend gemaak word.) In een van sy gereelde rooibekleurde visekanselierscommuniqués het Makgoba dan ook onlangs vier sulke aanprysings (waaronder dié van De Vos) onder sy personeel se aandag gebring.

Dit bring ons, helaas, by die “derde funksie” van taal – een wat hom by herhaling in Afrika (en Suid-Afrika) uitspeel: om beleidsmakers – politici – goed te laat lyk. Deurdrenk van simboliek (van “kultuur”, van “waardes” – “ras” natuurlik ook, al is ons huiwerig om dit te sê) is ’n taal –  die ontwikkeling van ’n taal – ’n hoogs doeltreffende embleem om jou bestuurdersfunksie mee te bemark, die haas ideale blokkie om jou regmerkie by te maak. Terselfdertyd – en hier ontdek ons waarlik die vernuftigheid van taalbeleid as bestuursbeoefening – is taal nie belangrik genoeg om aanleiding te gee tot ’n krisis, sou die implementering, die “doen” van die beleid, in gebreke bly nie. Nee, daarvoor is almal se geheue te kort, en die sosiale prioriteite (geld, gesondheid, behuising) eenvoudig te oorweldigend. Ons is almal goed vertroud met morsige protesaksies oor gebrekkige dienslewering; wanneer laas het mense voetegestamp oor hulle tale wat agterblewe gebly het?

By die senaatsvergadering waartydens UKZN se toepassing van Zoeloe goedgekeur is, is vrae inderdaad geopper oor hoe die beleid geïmplementeer gaan word. Maar die visekanselier het dié debat in die kiem gesmoor: hy wou nie dat die gesprek “ontaard in ’n bespreking van hulpbronne nie, want dit is wat altyd gebeur wanneer Afrika-tale geopper word”. Met ander woorde: laat ons nie die glorie van die “gesién word”beklad met ongemaklike vrae oor die dóén nie.

Ek wil nie hier ingaan op die lastige besonderhede van befondsing vir ekstra dosenteposte, nuwe kurrikula, klasroosters en lesinglokale nie (daar word geraam dat daar tussen nou en 2014 voorsiening gemaak sal moet word vir ’n verdere 4 000 studente wat Zoeloe leer). Laat ek maar net sê dat die dringendheid van hierdie ongemaklike vrae intussen toegeneem het, veral in die geledere van die gewone akademici – ingesluit die universiteit se twee Zoeloedepartemente, een in Durban, een in Pietermaritzburg – wat tot op datum van die deurslaggewende moment feitlik geheel en al ongeken en ongeraadpleeg gebly het in die formulering en implementering van die beleid. Ek kan maar net hoop dat die burokratiese funksie van taal nie maar wéér eens, ten spyte van al die oënskynlik goeie bedoelings, die wérklike funksies van taal gaan verdring nie, en dat dat die progressiewe baanbrekerstaalbeleid van UKZN nie maar net sal bly by ’n polities-gemotiveerde aandrang om die bordjies te verhang nie.

  • 2

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    RW Johnson is goed bekend met die toestande aan die UKZN en het 'n e-boek daaroor gepubliseer wat ek op 29 Januarie op SêNet bespreek het, onder andere die (onheilige) alliansie van Blade Nzimande en William Makgoba. Daar kan min twyfel wees dat dit hier gaan om die kweking van Zoeloe-nasionalisme. Etnisiteit is sekerlik die dryfveer of voorwendsel. Die kabinet het die besluit om verpligte Zoeloe-vaardigheidsklasse in te stel, verwelkom (Die Burger, 31 Mei, p 6).

    Dit gaan nie net om Zoeloe aan al die ingeskrewe studente op te dring nie. Die universiteitsadministrasie word ook verzoeloe. Daar word klaarblyklik gepoog om veral twee etniese groepe sover moontlik uit te sluit. Die een groep is die Indiërs/Asiate, onder andere omdat die UKZN 'n groot getal sodanige personeellede as erflating ontvang het vanweë die amalgamasie met die Universiteit Durban-Westville. Die ander groep is natuurlik die wittes teen wie sonder meer op suiwer rassistiese gronde in die nuwe Suid-Afrika gediskrimineer word. Daar is berig dat Makgoba gesê het dat hy eerder swartes uit Afrika as Suid-Afrikaanse wittes as dosente wil aanstel.

    Dit is interessant as Jonathan Jansen teen 'n verpligte kursus aan UKZN beswaar gemaak het, want hy het 'n kursus met 'n sterk ideologiese inslag verpligtend aan die Universiteit Vrystaat gemaak. Ek noem dit kortweg 'n kursus in Jansenisme. Ek het al hierdie vraag gestel: Hoe sou Jansen gereageer het as prof N Sieberhagen, die rektor van die Universiteit Wes-Kaapland in die jare sewentig, toe Jansen daar student was, 'n verpligte kursus gelaai met Sieberhagen se ideologiese voorkeure ingestel het?

    As verwelkom word dat Zoeloe verpligtend aan die UKZN gemaak word, waarom word Afrikaans nie verpligtend aan die Universiteit Stellenbosch gemaak nie? Die US kan histories as die bakermat van Afrikaner-nasionalisme beskou word. As Zoeloe-nasionalisme in die nuwe Suid-Afrika in orde is, waarom nie ook Afrikaner-nasionalisme nie? As alle US-studente vaardig in Afrikaans gemaak word, kan die huidige onverkwiklike duplisering van onderrigtaal uitgeskakel word. Die US kan dus weer 'n eentalige Afrikaanse universiteit word. Wat gebeur in die praktyk? Die US-raad het op 29 April besluit om Engels pleks van Afrikaans die hoofonderrigtaal te maak en geen haan kraai daaroor nie.

    Johannes Comestor

  • Waag net een histories "blanke" inrigting van opleiding (skool of universiteit) om Afrikaans verpligtend te maak en sien wat peul daaruit. Ek sou my opgeklits het oor sulke besluite maar dit is weereens die bewys van wat werklik in die land aangaan. Ek gun dit vir die mense wat sulke besluite maak en dit deurvoer. Siestog hulle het in die verlede nooit so iets mag gedoen het nie. Elke dag kom ek meer tot die besef en vra ek vir myself, myself wat maak jy in hierdie land? Ons sien nog net die ore van die seekoei.  En onthou net wittes is rassiste.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top