Vernietiging en Christofobie

  • 6

Woorde kan vernietig of stig. Hetsy gebesig of gepen. Daar word soveel woorde van haat rondgegooi op hierdie forum, en sekerlik sal dit altyd so wees. Inteendeel, dit word gesien as deel van S?Net se vuurwarm sukses.

Maar agter elke skrywe heers daar ‘n gees: ‘n duidelike toets van karakter of gesindheid of ideologie. Sommige val onder ‘n groep van amper arrogante onverdraagsaamheid en disrespek teenoor mekaar.

Graag bevestig ek die volgende:

*Die Christelike geloof veroordeel arrogansie en keur nie ‘n meerderwaardige houding teenoor ander gelowe en mense goed nie.
*Ek erken dat daar in die geskiedenis van die Kerk onsensitiewe praktyke plaasgevind het, maar is deel van die Kerk se skandalige mislukkings eerder as die werklike waarhede wat die Christelike geloof omhels.
* Die Christen se gedrag moet gekenmerk word aan nederigheid, en eerder die sout en lig in hierdie wêreld. Indien ‘n lering/prediking/siening nie hierdie element bevat van positiewe oprigting van gevalle mure, keur dit summier af. Die Woord van God besit geesteskrag tot opbouing en nooit dekonstruksie.
* Alhoewel die relativis of ongelowige dalk nie soos die Christen glo, of die Christen dinge insien soos die relativis nie, glo die ware Christen nog steeds dat alle mense na die beeld van God geskape is. Dit al klaar verdien respek.
* Om as wenner van die argument uit die stryd te tree, beteken niks. Niks gewen en niks bereik. Goeie argumente en seepskrywes wen niemand, maar eenvoudige omgee vir mense en hul behoeftes, spreek veel meer. Dit bevestig weereens dat ekonomiese druk, politieke knelpunte asook natuurrampe geen onderskeid maak maar alle mense eenders tref.
* In die praktiese veld sal die gelowige in Jesus Christus (asook ongelowige) wat met kommer na ander uitreik en liefdevol optree, die wees wat werklik harte aanraak. ‘n Warm hand wat in nood uitreik na ander kan die behoeftige se koue verander in guns.
*  Wedersydse respek, vertroue in mekaar, opregte vriendskap moet die basis wees waarop argumente debatteer word, voordat enig iets bereik sal word.

Maar hoe herken ek die verskil tussen feite, fiksie, absolute waarheid, waarhede of relativisme?  En hoe beïnvloed dit sake wanneer mense God se Waarheid ontken? God se Waarheid sal altyd bly voortbestaan omdat dit duidelik en oortuigend is: opreg. Jy hoef dit nie te beveg nie. Want dit val onder God se algemene Genade. Iemand het eendag genoem dat Waarheid is soos ‘n leeu – dit vind altyd sy prooi. 

Empiriese is iets wat tuis begin. In die daaglikse lewe. In my handel en wandel. My gesindheid teenoor ander. In my aanbidding en persoonlike verhouding met ‘n Almagtige Skepper. Hierdie gesindheid spreek harder as woorde daarom die voorbeeld as opdrag van God aan die vrou om haar man ‘sonder woorde’ vir Sy Koninkryk te wen.

Wanneer die geesteslewe van die mens vernietig word sneuwel die sielslewe ook. Dit is erg om te weet dat volgens Beraders ten minste 60% van alle fisiese siektes vanuit die sielsdimensie ontstaan.

Liefde strek dus baie verder as ‘n hol-uitgerygde argument of siening/mening wat ek as ‘n waarheid wil verkondig of beveg.

Want liefde genees: Die siel, die gees asook die liggaam.

Ek glo dit is wat God bedoel het wat ons met die liefde behoort te vermag.

Trienie Mahne

  • 6

Kommentaar

  • Liewe Trienie, 

    As dit alles waar is wat jy so graag wil bevestig, sou ek die grootste respek hê vir alle Christene, maar ongelukkig val jou bevestiging sommer by punt no. 1 al plat. 
     
    Die Christen sien neer op almal wat nie Christene is nie, want hy glo dat sy god die enigste ware god is. Jesus sê self: Niemand kom na die Vader toe behalwe deur my nie. (Of iets in dier voege.) Diegene wat nie in die bonatuurlike glo nie, word spesiaal verag deur die Christen.
  • Chris Dippenaar

    Angus, ek hou van die hoofletter wat Trienie gebruik voor die woord 'Beraders'. So asof hierdie Bybel-bashers 'n titel het wat respek verdien.

  • Angus,

    Jesus het nie daardie woorde gespreek omdat hy arrogant of hoogmoedig was nie, maar juis omdat Hy liefhet. Hy het die volle prys betaal om die woorde wat Hy gespreek het, waardig te wees. Die skrif staan in Johannes 14:6 en dit lees:

    “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Dan gaan Hy voort om sê: “As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het...”

    Maak nie saak watse geloof ons is nie, ons almal moet erken dat die ganse wêreld in sonde sit. Nie een van ons is regverdig nie en ons almal het ’n Redder nodig. Die bestes van ons het ook maar ’n geraamte in die kas en dit ontbreek ons almal aan die heerlikheid van God.

    God die Vader het Sy Seun gegee sodat die wie in Hom glo gered kan word en Jesus se prediking gaan daaroor... en dit alles gaan oor God se liefde wat vir elkeen van ons so groot was dat Hy Sy Eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

    In die tuin van Getsémané, voor Jesus gekruisig was, het Hy bloed gesweet waar Hy verseker in ’n groot stryd was. Hoeveel moet ’n mens ly om bloed te sweet? Ek het al baie hieraan gedink. Hy kon ’n magdom engele van God roep om Hom te kom red, maar Hy’t gekies om gehoorsaam te bly tot dit wat die Vader van Hom gevra het. Sy lewe was nie van hom geneem nie. Hy het dit gewilliglik gegee en selfs nog die soldaat, wie se oor een van sy dissipels afgekap het, weer gesondgemaak. Daarna het Hy saam met die soldate weggestap. Hy het een ongelooflike lyding deurgegaan, maar as ons slegs praat van Sy lyding tydens Sy gebed in die tuin, dan is dit so dat Hy elkeen van ons op hierdie aarde in gedagte gehad het, want God wil dat elkeen gered word en dat almal tot kennis van waarheid sal kom. Dit is waaroor dit gegaan het daar.

    Dit gaan nie oor ‘wie’ is reg en wie is verkeerd nie. Dit gaan oor ’n Saad van Lewe wat die Vader vir ons op die Aarde gesit het en die wat daarvan eet, hulle kan lewe. Jesus het die prys betaal en Hy was die Saad en wanneer enige mens Hom aanvaar, dan word hy deel van die Liggaam van Christus op die Aarde wat ’n voorreg is met baie voorregte ingesluit. Dit is ongelukkig so dat baie mense met die ‘naam’ van Jesus rondloop sonder dat hulle Hom ooit persoonlik ontmoet het. Die Christendom word op hulle beoordeel en geoordeel. In groot kerke is soms slegs ’n handjie vol mense, ware Christene.

    Jesus het die prys betaal. Hy was gehoorsaam tot die einde toe en na drie dae in die Hel het Hy opgestaan en vir 40 dae lank op die Aarde aan mense verskyn voor Hy opgevaar het, terug na Sy Vader. Nadat Hy opgevaar het, het die Vader Sy Heilige Gees gestuur om ons hier te leer en te lei tot die einde toe. Ongelukkig is hierdie so dat baie mense Jesus aanneem, maar nie die Heilige Gees leiding en wysheid aanvaar nie en hul woeste lewens bly voortsit. Dus rig hulle groot skade aan en daarvoor is ons bitter jammer.

    Wat Jesus se liefdes-werk so spesiaal maak, is dat Vader Hom gestuur het. Geen mens sou sondeloos ’n lewende offer kon wees nie en daarom ook dat Hy die vlekkelose Lam is wat die wêreld se sonde op Hom kon neem. Wie dan in Hom glo, word vrygespreek.

    Belangrik dan ook om te onthou dat Jesus die Woord van God is, wat lewendig geword het en onder ons kom woon het. Hy was van die begin af by God en niks het tot bestaan gekom, sonder dat Hy betrokke was nie. Daarom dan het Hy tot Sy eie gekom, maar hulle het Hom nie erken nie. Dit is ons... almal op die Aarde, waarvan die Jode die uitverkore volk was. Die genade het later op ‘ons’ as die heidene gekom na Sy opstanding en hemelvaart - wat ons nou kort terug herdenk het.

    Die rede, dink ek... hoekom meeste Christene so angstig is dat ander mense Jesus ook as Saligmaker ontvang, is omdat God se kinders soveel ontvang in hul verhouding met die Here. Daar is soveel dinge wat mens nooit geken het nie, wat jou deel raak. Die oue het verbygegaan en kyk, alles het nuut geword en voor mens nie die Gees van God ontvang het nie, kan hierdie dinge nie vir ’n mens verstaanbaar wees nie. ’n Eenvoudige voorbeeld hiervan is baie mense wat na hul bekering getuig dat hulle nooit voorheen gesien het hoe blou die lug en hoe groen die gras is nie. Dat hulle nooit voorheen die voëltjies hoor sing het nie. Hul aardse liggaam se sintuie word ook in die bekerings-proses oopgemaak in ’n wyse wat nie voorheen ervaar kan word nie. Die ganse skepping sing, maar die lied se woorde en melodie kan nie met Aardse sintuie gehoor of geniet word nie.

    Mense vanuit al die gelowe kom tot bekering in Christus Jesus en almal het dit eens dat hulle nooit voorheen die vrede ervaar het wat hulle ontvang in Hom nie. Vrede is een van die dinge wat ons ontvang... en dit is ’n vrede wat alle verstand te bowe gaan. Dit is ’n vrede wat nie in die wêreld, buite Jesus Christus ervaar kan word nie. Daar is baie ander dinge wat geen mensin sy verbeelding kan oproep dat dit dalk kan bestaan nie, nie voor die Gees hom nie deel geraak het nie. Meeste van die goed kan nie eens beskryf word nie en wanneer iemand tot bekering kom, dan is dit een vreugde om te sien hoe hy probeer verduidelik hoe hy voel en wat hy ervaar, sien of beleef. Daar is bloot nie woorde voor nie. Dit is dalk in een woord as ‘heerlikheid’ beskryfbaar.

    Graag wil ek verduidelik wat ek bedoel, wanneer ek sê dat God wil hê dat elkeen gered word en tot kennis van die waarheid kom. Dalk is dit ’n gevaarlike beeld wat ek gebruik, maar kom ons praat oor KFC, McDonalds, Nando’s, Chicken Licken, Fish Aways en al daardie plekke. Die resep vir KFC is ‘slegs’ by KFC. Ons kan nie Nando’s of Fish Aways instap en KFC bestel nie. Ons sal dit bloot nie kry nie.
    Net so het God gekies om sekere dinge in Christus Jesus vir ons te gee en maak nie saak waar ons anders gaan soek nie... ons sal dit nie daar kry nie. Jesus het die prys betaal en is waardig en daarom het God Jesus se naam bo elke ander naam verhoog. God eer Hom en wanneer ons Jesus eer, dan ontvang ons saam met Hom ’n heerlike erfenis wat mens nie kan ken voor jy nie die Seun van God ontmoet, leer ken het en aanvaar het nie.

    Die pad saam met Jesus is wonderbaarlik en intens kosbaar. Dit is ’n verhouding en in geen ander geloof is daar ’n persoonlike verhouding tussen God en mens nie. Die verhouding word gekenmerk deur byvoorbeeld ’n twee-gesprek. God antwoord Sy kinders en dit wat Hy sê, gebeur presies net so. God genees hulle wie Hom soek. Hy salf hulle met vreugde-olie en gee hulle blydskap onuitspreeklik. Hy besoek hulle en rig hulle weg. Waarsku hulle van gevare op die pad en berei hulle voor vir sekere take wat Hy hulle sou oplê. Sy las is lig en Sy juk sag. Daar is lewe wat geen mens ooit geken het voor hulle Hom nie leer ken het nie.

    Dus as jy in al my woorde ooit dit kan vind om te verstaan dat dit nie gaan dat ons neersien op almal wat nie Christene is nie. Dit is dat ons so intens BRAND om al die heerlikhede met hulle te deel. Dit is dat ons by ’n kraan staan wat borrelende lewende water gee en die uitnodiging was van Jesus self wat gesê het dat elkeen wat dors kan kom en Hy sal hom lewende water gee en nooit sal hulle weer dors nie. Dis die water wat ons as Christene wil deel. Daar is net een Kraan, maar genoeg water vir almal. Daar is net een Brood, maar Hy was gebreek vir almal en so is Hy genoeg.

    Daar is baie ander gelowe wat in die bo-natuurlike beweeg. Ons kan praat van Hindoeïsme en Satanisme as ons ernstig wil raak . Daar is verseker baie areas van Spiritualisme... maar in elke mens is daar ’n honger en in elke mens is daar ’n dors en daar is net een Kraan en daar is net een Brood. Daar is net een ware versadiging. En Hy wat Homself gegee het, sê...

    “Kom... eet... drink... Verniet”

    Self het Hy alles gegee, maar verniet mag ons ontvang.

    Graag vra ek jou om verskoning vir die vals beelde, arrogansie, meerderwaardige houdings, disrespek, dwalings en verkeerde wyses van die Christendom in ons tye. Aan baie dinge is ons skuldig omdat ons nie deur die Gees wandel nie. Baie ander word gepleeg deur hulle wie Sy Naam misbruik, maar Hom nie waarlik ken nie. Dan is daar ook baie dinge wat verkeerd verstaan of geïnterpreteer word. Dit roepende misverstande. Eenvoudige misverstand dat wanneer ek iemand voorstel om vanaf ’n ander geloof tot die Christendom te bekeer, is my hart nie dat ek neersien op sy god nie, maar dat ek bloot begeer dat hy kan beleef wat ek beleef in die verhouding met my Here wat vir hom ook gesterf het... net soos vir my.

    Vandag deel ek my geloof met jou dat Jesus die Saad is wat gesterf het tot elkeen van ons wat lewe op die Aarde en diegene wie kies om Jesus te aanvaar... in hulle kom Hy tot lewe. ’n Lewe wat die wêreld nie kan sien of verstaan nie. Iets om nie te mis nie.

    In die wêreld het ek aan peule gekou, maar in die huis van my Vader geniet ek ’n feestelike maal. Daar is waarlik voedsel. Moet dus nie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens (Jesus) julle sal gee, want Hom het God, die Vader, verseël.

    Maak nie saak in watse geloof of ongeloof ons staan nie. Om die werk van God te volbring, is om te glo in Hom wie God gestuur het. Geen ander mens dra die getuienis dat hy sy lewe neergelê het sodat elkeen wat in Hom glo (dat Hy van God kom) die ewige lewe kan beërwe nie. Geen ander mens dra die getuienis daarbo, dat hy vanuit die dode opgestaan het nie en geen ander geloof het deel aan die Heilige Gees van God nie.

    Nie oor ons dink ons is beter nie. Oor God Sy Seun eer en oor die wie Sy seun eer, raak kinders van die huis van die Hemelse Vader.

    Voorwaar iets om te wil wees.

  • Chris Dippenaar

    Trienie, jy en Berdine is altwee bietjie kieskeurig met julle aanhalings. As jy nou Joh. 14:6 vervang met Mark. 10:18 gaan jou KFC effens rou en olierig wees: "En Jesus sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, naamlik God". Dit neuk 'n bietjie met jou "vlekkelose Lam", of hoe?

  • In die begin was die Woord (Jesus), en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie. 

    (Joh 1:1-5)   

     
     Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom. 
     (2Co 5:21)
  • Chris Dippenaar

    Nee, Suster Berdine, jy het net versies hier geplaas wat jy verkies, nie 'n antwoord nie, en hierdie versies word weerspreek deur Markus 10:18 (sien ook Lukas 18:19). Jy moet maar vir KdK vra om jou te leer hoe om hierdie een te spin.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top