Verna Vels (1933–2014)

  • 1

Gebore en getoë

Verna Barbara Robertson Vels is op 13 Junie 1933 op Reitz in die Oos-Vrystaat gebore. Hulle was ’n klein en hegte gesin, met ma Minnie en pa Vernon wat net twee tuinhekke van oupa Clark se huis op Reitz gewoon het. Haar pa was die bestuurder van die Bethlehem-romery op Reitz. Haar ma was ’n huisvrou en baie bedrywig in die verenigingslewe.

As haar ma en pa Woensdagaande bioskoop toe is, het Verna by haar oumagrootjie gebly. “Dan rits ek op die bed en gaan sit op haar maag. Sy word ’n kameel en ons vlug soos die Israeliete. Sy was eintlik ’n baie kwaai ou dame, maar ons twee het baie goed oor die weg gekom.” En al was sy ’n enigste kind vir amper twaalf jaar, was sy nie ’n alleenkind nie, omdat sy baie niggies en maats gehad het.

Sy vertel aan Douwlina Grobler dat sy ’n geborge kindertyd gehad het. “’n Ma wat nooit te besig vir my was nie, ’n pa wat stories vertel en gelees het en dan op die karakters van die stories voortgeborduur het, ’n dorp met besoekende kunstenaars en konserte en ’n oupa wat jou fliek toe geneem het (as jou huiswerk klaar was!)

“En toe die vreugde van ’n laatlamboetie, toe ek 11 jaar oud was. Ek was te groot om jaloers te wees en het met vreugde net so hard soos my ouers aan hom grootgemaak.” By die klein boetie moes Verna ook onbewustelik iets van die siel van ’n kind geleer het, dinge wat later in haar kinderprogramme neerslag sou vind; en uiteindelik in Liewe Heksie.

“Ek onthou dat ek as kind soms ’n bietjie bang geword het by die gedagte aan al die nare hekse in die sprokies. Ek glo nie ek wou die saak ‘regstel’ nie, maar toe ek grootgeword het, het ek tog gewonder hoe dit sou wees as ’n mens ’n dierbare, dommerige, sagte heksie kon hê. Toe ek weer sien, ry Liewe Heksie met haar punthoedjie en besempie my verbeelding vol.”

Verna onthou dat in haar kinderjare die Afrikaners, Engelse en Jode op Reitz almal saamgewerk het. “Ons was amper nie bewus van mekaar se nasionaliteite nie,” vertel sy aan Corlia Fourie (in Rooi Rose). “Ek het byvoorbeeld eers ontdek een van my maatjies is Joods toe ek na sy barmitswa is. Van die Jode het selfs in die kerkkoor gesing en na die kerkbasaars gegaan. Ons was in die Metodistekerk en tog het ek  baie keer in die NG-Kerkkoor gesing.”

Reitz was vir Verna ’n besonderse mooi dorpie wat ’n ryk kultuur- en musieklewe gehad het. Haar eerste musiekonderwyseres het aan die Royal Academy in Londen studeer. Musiek was deel van hul lewe en haar ouers het baie plate gehad.

Sy vertel verder: “Ek was omtrent vyf voor ek Afrikaans leer praat het. My ma se pa, oupa Clark, was van Skotse afkoms en my pa se ma, ouma O’Callahan, Iers. Dan was daar ook Hugenote en Hollanders. Ek het met party van my grootouers Engels gepraat en met ander Afrikaans. Toe ek baie klein was, het my ouers hoofsaaklik Engels tuis gepraat, maar toe ek skool toe gaan, is ek na Reitz Hoërskool (van Sub A tot matriek) wat veronderstel was om dubbelmedium te wees, maar in wese Afrikaans was. Teen die tyd dat my boetie gebore is, het ons omtrent net Afrikaans in die huis gepraat.”

Oor haar naam vertel Verna dat haar ouers eers gedink het om ’n samestelling van haar ma en pa se name te maak en haar dit te noem. Haar pa was Vernon en haar ma  Minnie en toe kom hulle by “vermin” uit!

“My ma-hulle het vreeslik gesukkel om ’n baby te hê. Ek toe is ek gebore, maar so miserabel, kléin. My ma is trots, sy loop met my daar in Reitz se straat. Ou mev Thorpe, hulle het daar op ’n kleinhoewe gebly, kom toe daar by my ma, kyk so in die pram en vra: ‘What is it?’

“My ma sê: ‘It’s a girl’.

En mev Thorpe sê: “Will it live?’” (Die Burger, 16 Februarie 2011)

Verna het vinnig en maklik leer lees – Afrikaans en Engels. Haar ma-hulle het aan ’n boekklub behoort en hulle het boeke soos Gone with the wind, The story of a lake en  Forever amber gekry. Sy het hulle so op twaalf, dertien jaar begin lees.

“My ouers het my van ontdekkingsreisigers soos Francis Drake en Richard Burton vertel. Dis moontlik waar my liefde vir reis vandaan kom.”

Sy onthou dat Nuwejaarsdag die groot piekniekdag was. “Hulle het nie daardie tyd verkoeling gehad nie en die beet- en aartappelslaai is in inmaakflesse saamgeneem. Ek haat nou nog waatlemoen, want jy is mos met die goed besmeer. Ons gesin het nogal avontuurlik geëet. My pa het sampioene geken en ons het dikwels ’n mandjie vol sampioene in die veld gaan pluk. My pa het ’n sjieling by die sampioene gesit as dit gekook word en gesê: ‘As daai sjieling swart word, kan ons nie die sampioene eet nie.’”

Toe Verna ongeveer in standerd drie was, het Reitz ’n biblioteek gekry. Die  begrafnisondernemer se vrou was die bibliotekaresse en sy het gewoonlik hartseerboeke vir die lesers aanbeveel.

“Miss Lindsay het Saterdagoggende met die trein van Bethlehem af gekom. Dan het ek en so ’n paar ander kinders elocution-lesse by my ouerhuis gekry om goed Engels te leer praat. Ons moes op die stoep voordra sodat miss Lindsay wat in die veld gaan staan het, ons kon hoor.

“Ek het skool rêrig geniet. Tale en geskiedenis was vir my baie lekker, maar ek was nooit goed met wiskunde nie. Ek het nou wel matesis in matriek deurgekom, maar ek moet sê algebra het vir my ’n geheim gebly.

“Ons het ’n koerant op Reitz gehad, die Reitz-nuus. Ek en Ina Moll het in standerd ses en sewe beriggies vir die koerant geskryf en in ’n stadium ook ’n vervolgverhaal. Daardie dae het jy skool toe geloop of met die fiets gery al was dit ook so koud dat jou handskoene aan die fiets vasgesit het. Net as dit omtrent gekapok  het, het jou ouers jou met die motor gevat.”

Verna het gereeld saam met haar familie bioskoop toe gegaan. Dan het sy en haar maats ál die flieks en die serials gespeel, “ek met my pa se kamerjas as mantel om die een of ander gemaskerde wonder voor te stel. Dit was vir my so snaaks dat toe TV kom, almal so bang was die kinders gaan dit nadoen, terwyl ons dit donkiejare terug al gedoen het.

“As kind was die radio vir my rêrig ’n wonderlike ding. Daar was so ’n groen liggie en as ek daarin loer met die kinderprogramme het ek die tafel en die verjaardagkoeke gesien. Die radio se kinderprogramme is lank deur vroue van Reitz aangebied. Eers was dit Una Fischer, daarna Monica Breed en toe ek.”

Verdere studie en werk

Nadat Verna aan Hoërskool Reitz gematrikuleer het, is sy in 1952 na die Universiteit van Pretoria waar sy in 1954 haar BA-graad behaal met drie hoofvakke te wete Afrikaans-Nederlands, Engels en Kunsgeskiedenis. Oor haar universiteitsjare vertel Verna later: “Ek kom van ’n klein dorpie af, so, dit was ’n groot avontuur! Eerstens oor die feit dat ek in die stad sou bly en tweedens om universiteit toe te gaan. Die hele drie jaar was een groot fees. Ons het baie hard gewerk, maar ook baie pret gehad. Daai dae was die ontgroening grappig en het hulle maar ook ’n aap van jou gemaak. Jy moes die eerste week vlegseltjies dra. Ek onthou die lekker intervarsities waar ons Bloemfontein toe gery het en sjampanje in warmwatersakke gegooi het. Dit het seker flat geword, maar ons het nie omgegee nie.”

Haar graad het haar voorberei om te gaan onderwys gee, maar haar kop het joernalistiek toe gestaan. Maar in daardie tyd het tydskrifte en koerante net belanggestel in mense “met ervaring”.

’n Studentemaat wat vakansies as kontroleur by die SAUK was, het haar aangeraai om te gaan vir ’n stemtoets. Met geen werk in die vooruitsig nie, het sy dit tog gedoen en haar aansoek aan die SAUK gestuur, maar lank nie van hulle gehoor nie. Toe kry sy kennis dat sy ’n stemtoets in Pretoria moes gaan aflê en is sy aangestel as programassistent-plateprogram-opsteller.

Op 1 Desember 1954 sluit sy by die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) aan en begin haar uitsaailoopbaan by die Durbanse ateljees waar sy vroeg reeds ’n belangstelling in kinderprogramme toon en met skryf in die rigting begin. Sy vertel aan Wilma de Bruin: “Die uitsaaiwese was nie ’n jongmensdroom nie, maar die oomblik toe ek by die SAUK in Durban instap, het ek gevoel: dís waar ek hoort. Ek dink altyd dis nogal ’n genade as ’n mens werklik gelukkig is in jou werk. Buiten dat ek onmiddellik tuis gevoel het, sal ek die opwinding wat ek daardie eerste dag ervaar het, nooit vergeet nie. En om al die mense te ontmoet van wie jy nog net gehoor het ... Alewyn Lee, Heine Toerien, Bosman de Kock.”

Sy het gou agtergekom dat program-assistent in der waarheid omroeper was, maar dat net mans destyds laasgenoemde titel gehad het. “Aanvanklik sit ’n mens maar net ‘in’ by die omroeper. Dan, so na ’n week, kry jy kans om die laaste weervoorspelling van die dag te lees. Met my eerste weervoorspelling het die omroeper, JC Potgieter, so ewe die papier aan die brand gesteek en moes ek lees dat dit klap om voor die vlamme te bly.”

Die plate-opstellery in die diskoteek vir musiekprogramme wat van Durban uitgesaai was, was ook ’n groot lekkerte. Kollegas het graag hulp verleen en vir die bystand van mense soos Louwtjie Fourie en Charles Oxtoby, ’n “groot gees” in die uitsaai- en musiekwêreld, is Verna vandag nog dankbaar.

Haar ervaring by dié streekradiodiens was net aangenaam: “Dis nou één ding van ’n streek: jy doen van alles en nog wat. Ek het egter baie gou in kinderprogramme belanggestel. Dit was ook in Durban waar my eerste kinderverhale, wat later Liewe Heksie-stories geword het, op papier en oor die lug gestalte gekry het, toe Bessie Mentz, destyds aanbieder van Siembamba uit Grahamstad, my genader het om ’n paar stories te skryf.”

In 1963 word sy na Johannesburg verplaas as aanbieder van Vrouerubriek. Hierdie vyf jaar was heerlik. Al het dit harde werk gekos om ’n daaglikse program te versorg en aan te bied. Al is so ’n program net ’n halfuur op die lug, kos dit ure se voorbereiding. Benewens Vrouerubriek het sy ook die kunsprogramme behartig. Daar was baie kunsprogramme: ’n reeks oor kabinetsvroue, een deur Dina Wessels oor die ekonomie wat briewe van veral manlike luisteraars laat instroom het vir afskrifte van dié praatjies, asook onderhoude met talle bekende persoonlikhede. “Die trots van my lewe is ’n foto saam met Marlene Dietrich. Ek was die eerste persoon wat ’n radio-onderhoud met haar gevoer het. Dit was ook vir my ’n besondere eer om met plaaslike uitblinkers soos Mimi Coertze en Emma Renzi onderhoude te kon voer.”

Een van die hoogtepunte in Verna se uitsaailoopbaan was toe sy in 1968 by Radio Nederland Wêreldomroep in Hilversum, Nederland gewerk het. “Ons het elke middag ’n Afrikaanse program op kortgolf uitgesaai.” Hulle het ook vanuit Nederland vir “Uitspan op ’n Hollandse werf” bydraes gestuur wat ’n radioprogram was wat op Saterdae hier in Suid-Afrika uitgesaai is. Sy moes ook verskeie onderhoude in Nederland op versoek doen – en niemand het geweier omdat sy ’n Suid-Afrikaner was nie. Só het sy onder meer met die Nederlandse digter Adriaan Roland-Holst ’n onderhoud gevoer.

In haar jaar in Nederland moes Verna subtiele en openlike diskrimibasie teen apartheid-Suid-Afrika trotseer. Eindelik was sy op die vergadering waar Suid-Afrika uitgeskop is uit die organisasie Universitè Radio Television International (Urti), waarvan die land ’n stigterslid was.

Terug in Suid-Afrika was kinder- en jeugprogramme haar voorland en het sy Jongspan-ateljee, sowel as kunsprogramme behartig.

Met John van der Bergh se aftrede in Durban 1973 het Morkel van Tonder vir Verna oorreed om as organiseerder van die Afrikaanse Programdiens in Natal gaan werk t en so die eerste vrou te word wat as organiseerder in ’n streek aangestel word. Sy keer in 1974 terug na Johannesburg waar sy by televisie aangestel word as organiseerder van die Afrikaanse joernaalprogramme wat kinder- en jeugprogramme insluit. Programme soos Kraaines en Wielie-Walie ontstaan onder haar leiding en vir al die jare van sy bestaan, was sy die stem van Bennie Boekwurm van Wielie-Walie. Sy was ook verantwoordelik vir gewone aanbieders én nuusaanbieders.

Dit was ’n geweldige klomp werk, vertel Verna aan Wilma de Bruin. Maar omdat niemand eintlik geweet het wat in die spel was nie, het feitlik alle organiseerders te veel hooi op hul vurk gehad. Om die werklas minder te maak, is portefeuljes gaandeweg verdeel en die mantel van die kinder- en jeugprogramme het op Verna se skouers geval.

In die twee jaar voordat televisie amptelik op 5 Januarie 1976 op die lug gegaan het, is Verna aktief betrokke by die vervaardiging en beplanning van programme en uiteindelik ook by die aankoop van programme in die buiteland. Oor die beginjare van televisie sê Verna dat sy baie trots is op die gehalte van kinder- en jeugprogramme wat hulle destyds uitgesaai het. “Ons het nie enige verwysingsraamwerk gehad nie. Ons moes iets uit niks skep. Daar was nie ’n ding waaraan ons nie ons hande gewaag het nie. As jy nie beter weet nie, is jy mos nie bang nie! Gelukkig het ek ook saam met briljante regisseurs gewerk.”

Sy het redelik vroeg in haar loopbaan vir die radio begin skryf. Die eerste Liewe Heksie-verhaal is reeds in 1961 op Siembamba, die bekende Afrikaanse kinderprogram, uitgesaai, maar dit was eers met ’n verdere reeks in 1963 dat hierdie kleurvolle heksie bekendheid begin verwerf het en ’n huishoudelike naam onder Afrikaanse kinders (én grootmense) geword het. Met die verloop van tyd is daar etlike Liewe Heksie-reekse uitgesaai.

In daardie dae het Liewe Heksie nie die hoofrol in die stories vertolk nie. Blommie was die hoofkarakter en die eerste stories was bekend as Blommie Kabouter en die heks wat vergeet het. “Ek het toe al met die idee van ’n heks wat nie bangmaak nie, rondgeloop, want as kind was ek so bang vir Sneeuwitjie se heks.

“Ek het die idee van Blommeland en die silwer roos in die pragtige omgewing waar Heksie en haar maatjies hulle bevind, van Richard Strauss se opera Der Rosenkavalier gekry,” vertel Verna aan Dolores Price in Vrouekeur van 17 Mei 2002. “Toe ek die opera die eerste keer gesien het, het ek gedink dit sal nogal goed werk om so ’n silwer roos in ’n kinderverhaal te gebruik.” En so is Blommeland se silwer roos geskep.

Verna verduidelik dat kinders baie goed kan identifiseer met die probleme wat Liewe Heksie het om die onlogiese van die grootmenswêreld te verstaan. Sy is nie baie slim nie, maar totaal onskuldig. En hoewel die stories eenvoudig voorkom, het Verna baie dinkwerk in elke storie ingesit en is verskeie stories uitgegooi as Liewe Heksie té slim voorgekom het.

Die sukses van hierdie stories kan toegeskryf word aan Verna se empatie met kinders. “Hoewel ek ongetroud is, kan ek goed onthou hoe dit was om ’n kind te wees en die tipe goed wat my beïndruk het of my aandag vasgevang het.

“Liewe Heksie het geen pretensies nie. En die stories is nie geskryf met enige opvoedkundige bedoelinge nie. Hulle is net daar om kinders te vermaak en om hopelik hulle verbeelding te stimuleer.”

Die eerste Liewe Heksie-boeke verskyn in 1965 by Human & Rousseau en deur die jare het daar nog etlike boeke, omnibusse, plate en CD’s die lig gesien. Die klein onbeholpe en ietwat “dommerige” heksie betree ook die tegnologiese era met die publikasie van Liewe Heksie en die rekenaar in 1999. Hierdie Liewe Heksie-boek is deur Piet Grobler geïllustreer, want die boek moes anders lyk as die voriges, verduidelik Verna. “Ons moes egter steeds die gevoel van die karakters en die verhale behou.”

Grobler het met kenmerkende humor klein pragstukkies geskep. Maar toe hy ’n skets van koning Rosekrans met ’n oorbel en ’n poniestert voorlê, het Verna dit afgekeur, want “dit was nie in karakter met die koning wat ek geskep het nie.”

Liewe Heksie maak in 1978 haar debuut op televisie in ’n reeks van 26 programme en ’n tweede reeks in 1981. Vir die televisiereeks van altesaam 52 programme het Verna van die bestaande verhale verwerk en ook nuwe stories geskryf. Die reekse gee ook aanleiding tot ’n aantal boekies met illustrasies uit die televisieproduksies.

Verna was baie lugtig oor die ontvangs van Liewe Heksie op die kassie en oor die reaksie van die jong kykers. “Die probleem is dat elke kyker sy eie idee gehad het van hoe Liewe Heksie moet lyk. Maar ek was baie in my skik met die pop wat Rod Campbell en die spesiale effekte-departement geskep het. Sy het dieselfde klere en hoed aangehad, maar haar gesiggie het verander.”

Die ander probleem was dat die kinders Liewe Heksie se stem baie goed geken het as gevolg van die radio en die klankkassette. Verna het al die stemme in die stories gedoen, en daar is besluit dat Liewe Heksie beslis só moes klink soos sy altyd geklink het. Verna was dus verantwoordelik vir die stemme van Liewe Heksie en Blommie Kabouter in die televisiereeks.

Heksie het die kykers vermaak met haar spitsvondige sêgoed en het ons voorgestel aan haar goeie vriend Karel Kat en haar geliefde maatjie Blommie Kabouter. Haar geselsies en voorvalle met koning Rosekrans het selfs die grootmense laat glimlag en haar onderonsies met die Gifappeltjies en die Geel Heks het tot die spanningselement bygedra. Haar kat Matewis het saam met haar in almal se harte gekruip.

Verna was bekommerd oor die nuwe geslag kinders wat so voor die rekenaars en televisie grootword. “Ek weet nie of ’n mens kan veralgemeen deur te sê kinders lees deesdae (2002) minder nie, maar dit is tog ’n ding waaroor ’n mens besorg is. ’n Kind kan nie ’n beter maat as ’n boek hê nie. Daarom het ek baie lof vir die Harry Potter-boeke. Ek glo dit het weer kinders aan die lees gesit.”

Liewe Heksie het nie beperk gebly tot die uitsaaimedium en gedrukte woord nie. Sy het ook in dramas wat Verna vir kinders geskryf het, die verhoog betree en opgetree op die verhoë van die “groot huise” soos die Kunstekaap in Kaapstad, die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein en die Staatsteater in Pretoria. Verna het ook ’n Liewe Heksie-drama, Die dag toe Liewe Heksie se kop gedraai het, in 1998vir die KKNK geskryf en vir die Drama-departement van die Universiteit van Pretoria, Liewe Heksie en die rotbende, ter viering van hulle 30ste bestaansjaar.

Verna het ook ’n jeugverhaal, Alet, in 1965 vir die radio geskryf wat tot 1977 vier uitsendings beleef het en in 1978 deur Perskor in boekvorm uitgegee is.

Sy het haar nie net beperk tot werk vir die kinders en jeug nie en het heelwat verwerkings van radiodramas gedoen, asook oorspronklike skryfwerk vir die volwasse radioprogramme gedoen. Van die bekendste en gewildste verwerkings vir die destydse radioteaters, was Nou reisiger (’n verwerking van die roman Now voyager), Terug in Warskou en In die skadu van Vermeer. Oorspronklike dramas vir Kleinteater was Helena van Troje van Eeden en Oom Henkie gaan saam, asook die vervolgverhaal Hanno wat twee uitsendings beleef het. Oom Henkie gaan saam is opgeneem in Debuut, ’n versameling hoorspele en eenakters wat in 1966 versamel is deur Ciska en Francois Marais.

In Februarie 1983 is Verna aangestel as die Programdirekteur: TV1 (Afrikaans), die hoogste pos wat ’n vrou tot in daardie jare beklee het. Ná etlike herstrukturerings binne die SAUK beklee sy verskeie verdere poste en tree in 1993 uit na ’n loopbaan van amper 39 jaar in die uitsaaidiens.

In haar loopbaan is Verna verskeie keer vereer met toekennings van kultuurinstansies. In 1985 het die Federasie van Rapportryerskorpse aan haar ’n literatuurprys gegee vir die publikasie van die Liewe Heksie-reeks; in 1990 het die ATKV-Dames vir haar vereer vir haar vertolking van verskeie kinderstories se karakters en as skrywer van jeug- en kinderverhale; in 1995 ontvang sy ’n erepenning vir kultuurbevordering van Dames Aktueel; in 1996 ’n toekenning van die FAK (Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge) vir die bevordering van die uitvoerende kunste, veral in die elektroniese medium en in 1994 ’n Artes van die SAUK vir haar bydrae tot die uitsaaiwese. Hierdie was die prestige-prys, die Bestuurstoekenning, wat net aan die bestes toegeken word en dit het die kroon gespan op haar toewyding van meer as 38 jaar.

In Junie 2000 ken die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Tienie Holloway-medalje vir kleuterliteratuur aan haar toe vir Liewe Heksie en die rekenaar en ander nuwe Liewe Heksie-stories, met inagneming van die voortreflike bydrae wat sy in 23 publikasies sedert 1965 tot die literêre kategorie van kleuterliteratuur gemaak het. Verna ontvang in 2001 ’n oorkonde van die ATKV as erkenning van haar buitengewone bydrae tot die Afrikaanse kinderlektuur in die besonder.

Haar almal mater, die Universiteit van Pretoria, vereer haar in November 2000 met ’n Laureata-toekenning van Tuksalumni en in 2002 ontvang sy die CP Hoogenhout-toekenning vir kinderliteratuur van Unisa. Hierdie toekenning is deur Protea Boekhuis geborg. Verna was verheug en het aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 20 September 2002) gesê dat dit wonderlik is om die erkenning te kry. “Dis asof Liewe Heksie die vorige twee jaar haar eie renaissance beleef nadat Liewe Heksie en die rekenaar verskyn het. Daar was altyd belangstelling in die Liewe Heksie-boeke, maar dit het skielik toegeneem. Toe Liewe Heksie en die rekenaar in 1999 verskyn het, was dit die eerste boek ná ’n stilte van tien jaar. Ek het toe gewonder of Liewe Heksie nog ’n gehoor het.”

In 2005 is Verna saam met vyf ander oud-Reitzers met Afrikone-oorkondes vereer vir besonderse bydraes wat hulle as Suid-Afrikaners gelewer het. Die toekennings was deel van die ATKV se 75ste bestaansjaarviering. Die ander was Matys Roets, Monica Breed, Piet Strauss, Johrné van Huyssteen en Francois van der Watt.

In 2008 het Anamazing Workshop in Johannesburg waar Isabelle Rorke uitvoerende vervaardiger is, Verna Vels se Blommeland in ’n 3D-wêreld omskep. Hulle beoog om die 3D-Liewe Heksie-reeks van 26 episodes teen volgende jaar te voltooi, het Rorke gesê. Dit sou in 2009 hopelik op die kassie gewees het.

“So ’n karakter is soos ’n kind wat jy die wêreld instuur,” vertel Verna in Beeld van 8 April 2008. “Ek is seker ’n bietjie heilig daarop dat sy nie moet verander nie. Blommeland is tydloos en as dit té modern gemaak word, sal dit iets heeltemal anders wees.”

Alan Cameron was die regisseur en artistieke direkteur van die reeks. “Ons het lank met Verna gesels oor hoe om die essensie van Liewe Heksie te behou,” sê hy. (Beeld, 8 April 2008)

Vir Verna is dit ’n riem onder die hart dat daar nou nog ’n geslag kinders is wat vir Liewe Heksie gaan leer ken. En boonop is daar ’n behoefte aan goeie kinder- en animasieprogramme in Afrikaans.

In 2011 is Verna by die kykNET Fiëstas vereer vir haar lewenslange bydrae tot die woordkuns. En by 2013 se Woordfees op Stellenbosch is haar oeuvre saam met dié van E Kotze, Elsa Joubert en Dot Serfontein in oënskou geneem. Riaan Cruywagen en Iris Bester het Verna se lewe en bydrae tot die Suid-Afrikaanse kultuurskat gevier.

Verna was ook een van die vroue op wie kykNET in 2012 gefokus het in die reeks Formidabele vroue.

By 2013 se Suidoosterfees in Kaapstad was Liewe Heksie weer op die planke. Met haar persente, ’n biki-kini en rolskaatse het sy Blommeland nog kleurryker gemaak. Maar soos altyd is daar die groot grillerige Geelheks wat probeer om die vieringe in die (rolskaats)wiele ry.  Levinia vra mooi: “Asseblief klein en groot kaboutervriende van Menseland, help my dat ons al die stoute karnallies kan verwilder.” (LitNet)

Om by te dra tot Liewe Heksie se altyd gewilde avonture, is daar deelname uit die gehoor en aksie wat voortrol en voortsnel. Margit Meyer-Rödenbeck (alias Dowwe Dolla) is die "nuwe" Heksie en Deon van Zyl speel Karel Kat, Geelheks en Koning Rosekrans. ’n Aanbieding vir die hele gesin: van die volwassenes het by die KKNK gesê dit was hul vermaaklikste produksie in jare! Mariana Malan skryf in die feeskoerant Krit: “Impromptu teater op sy beste.  Margit Meyer-Rödenbeck het as Liewe Heksie die jong gehoor in die palm van haar hand.”

Ná haar aftrede skryf Verna, afgesien van die nuwe Liewe Heksie en die rekenaar, ook ander kinderverhale vir ’n stel van drie CD’s wat sy saam met die sanger Gert van Tonder van Groep Twee en Wielie-Walie-faam opgeneem het. Sy doen die vertellings en Gert sing die liedjies. Sy sit ook twee keer per week in die regisseurstoel van die Afrikaanse sepie, 7de Laan, waar sy die toesighoudende regisseur is. “Ek geniet dit baie. Dis vir my verskriklik lekker om weer in die bedryf te wees.”

Verna is baie lief vir reis en is veral hartstogtelik lief vir Frankryk. Sy lees graag en het ’n groot voorliefde en belangstelling in musiek, die teater, kunste en films. Wanneer die geleentheid hom voordoen, kook sy graag, maar met meer geesdrif as sukses! Sy is ’n groot diereliefhebber met honde wat haar huis regeer het.

Een van Verna se groot liefdes is musiek. Daar is vir haar niks wonderliker as om ’n konsert by te woon nie. “Ek sal nooit  vergeet nie: Een aand in Berlyn was dit ek en Danie Odendaal en Annie Basson, ons toer nogal baie lekker saam. Toe het hulle Mahler se derde simfonie gespeel, die groot Berlynse filharmoniese orkes. Ek kan nie vir jou sê hoe ’n sielsbevredigende ding dit was nie. Sommer twee dae daarna sweef jy nog. Daar is niks beters as ’n goeie aand in ’n teater nie. Want dis asof als tintel," het sy aan Anim van Wyk (Die Burger, 16 Februarie 2011) vertel.

Nog ’n groot passie van haar is om bekendes se grafte na te loop. Tydens Verna se laaste besoek aan Parys, haar hartstad, het sy die skrywer en kunsversamelaar, Gertrude Stein se graf met ’n groot gesukkel opgespoor. Noodgedwonge moes sy by ’n jong meisie rigting vra. “En sy vat die kaart en draai hom om! Toe het ek hom onderstebo gehad. Dis nou die soort goed wat Heksie sou doen!” vertel sy in Die Burger aan Anim van Wyk.

Op Donderdagaand 21 Augustus 2014 is Verna Vels in haar huis in Johannesburg oorlede. Sy het aan kanker gely. Haar gedenkdiens is op 27 Augustus in die Trinity Metodistekerk in Linden in Johannesburg gehou. Talle bekendes, soos Diaan Lawrenson en haar man Jody Abrahams, Theodore Jantjies, Christine Basson, Niekie van den Berg, Anna-Mart van der Merwe, Riaan Cruywagen en sy vrou, Riana, Pierre van Pletzen, Vinette Ebrahim en Carike Keuzenkamp het die diens bygewoon.

James van den Berg, haar neef se seun, het die bedankings afgesluit met ’n verwysing na haar geesteskind: “Liewe Heksie, ons gaan jou mis.”

Huldeblyke

  • Riaan Cruywagen: "Ek het ’n dierbare en geliefde oudkollega verloor. Haar medemenslikheid, beleefdheid, gasvryheid, humorsin en professionaliteit is net van die goed wat haar laat uitstaan het. Sy was so belese! Ek het altyd iets geleer as ek by haar gaan kuier het en weer intellektueel ryker huis toe gegaan. Op Liewe Heksie se stel kon ons so gelag het en dan was Verna net geduldig met ons. Dit was die grootste voorreg om deel van die Liewe Heksie-reeks te kon wees. (...) Haar nalatenskap as volledige mense-mens sal nog jare lank gekoester word." (Die Burger, 23 Augustus 2014)
  • Leon van Nierop: "Verna Vels was ’n groot gees. Om teenoor Verna Vels te speel en te werk, was soos om teenoor Steven Spielberg te werk. ’n Reusagtige voorreg. Ek onthou nog hoe ek haar eenkeer 'Juffrou Verna' genoem het en sy net vir my gesê het: 'Ek is net ’n doodgewone mens soos jy. Noem my Verna.'" (Die Burger, 23 Augustus 2014)
  • Monica Breed: "Ek het ’n hartsvriendin verloor. Ek treur nou oor my vriendin." (Die Burger, 23 Augustus 2014)
  • Magdaleen Kruger, stasiebestuurder van RSG: "Verna was seker 40 keer in Parys, haar hartstad. Sy kon vlot Frans praat, het ’n ontsaglike kennis van die wêreldletterkunde en skilderkuns gehad. Sy was die nederigste mens wat ek ken en had baie humor en het die heeltyd grappe vertel. Haar kundigheid en vaardigheid het sy met almal gedeel." (Die Burger, 23 Augustus 2014)
  • Leon Rousseau: "Al die gewilde Afrikaanse reekse, van Trompie tot Maasdorp, was op ’n ouer mark gerig. Die Liewe Heksie-stories het kinders bereik wanneer hulle die maklikste leer lees, en dít is wanneer hulle nog baie jonk is. Dit geld veral die TV-uitgawes van 1978 af, want  dit was op die TV-reekse gebaseer. Hulle was korter en eenvoudiger." (Die Burger, 23 Augustus 2014)
  • Margit Meyer-Rödenbeck: "Verna Vels het die eerste ikoniese kinderkarakter in Afrikaans geskep. Dis ’n volronde karakter wat onmiddellik in oud en jonk se harte kruip met haar 'dom' naïwiteit wat haar altyd in die moeilikheid laat beland. Vels het getrou gebly aan die ongeskrewe beginsel van kindertoneel. Heksie simboliseer die 'goeie' in stryd met die nare geelheks (die bose). En die goeie oorwin altyd die stryd." (Die Burger, 23 Augustus 2014)
  • Danie Odendaal, vervaardiger van 7de Laan: "Verna Vels se gedenkdiens was soos sy: mooi en met geen tierlantyntjies en valse emosies nie. Dit was straight down the ­line, net soos Verna was. Ek dink dit sal nog ’n tydjie vat voor dit insink dat iemand wat so ’n sleutelrol in my lewe vertolk het, en aan wie ek so ongelooflik close was as vriendin en kollega, skielik nie meer daar gaan wees nie. Ons het saamgewerk van die dag wat ek in TV begin werk het. Ons het ook baie saam gereis. Sy was altyd lus en reg vir nog ’n avontuur. Dit is nou haar volgende avontuur.” (Die Burger, 28 Augustus 2014)
  • Iris Bester (in 2013): "Verna het groot hoogtes bereik, tog bly sy nederig. In bestuursposte was sy altyd regverdig en het sy respek afgedwing deur haar kundigheid en manier van dinge doen. Sy het nooit geskroom om te sê presies wat sy dink nie, maar sy het ook ’n wonderlike sin vir humor, wat dit ’n plesier gemaak het om saam met haar te werk. (Die Burger, 4 Maart 2013)
  • ATKV: "Verna Vels is ’n ikoon in die Afrikaanse kultuurlandskap. Sy het diep spore getrap in vele Afrikaanse en ander huishoudings. Haar geliefde Liewe Heksie is volksbesit en die karaktertjie leef steeds voort in die harte van oud en jonk. (...) Verna Vels sal altyd onthou en gemis word vir haar menswees en vir die positiewe wyse waarop sy soveel mense se lewens verryk en verdiep het met haar vele talente en geesdrif vir die lewe."
  • NB-uitgewers: "Verna was as radiomens bekend as ’n nougesette, deeglike joernalis wat veral vir die vrou in daardie medium ’n bres geslaan het, maar dit is deur haar jeugprogramme wat haar persoonlikheid en die ruimheid van haar gees en humorsin gebloei het." (LitNet)

Publikasies

Publikasie

Liewe Heksie

Publikasiedatum

  • 1965
  • 1972
  • 1978

ISBN

  • 0798100524 (hb)
  • 0798188507 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liewe Heksie kom weer

Publikasiedatum

  • 1965
  • 1978
  • 1995

ISBN

  • 0798102284 (sb)
  • 0798134321 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liewe Heksie en Matewis

Publikasiedatum

  • 1968
  • 1981

ISBN

079810189X (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liewe Heksie in die pekel

Publikasiedatum

  • 1972
  • 1978

ISBN

0798102292 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liewe Heksie gaan maan toe

Publikasiedatum

  • 1973

ISBN

07981 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liewe Heksie vang vis

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1975
  • 1979

ISBN

0798103035 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Alet

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1984

ISBN

0628013086 (hb)

Uitgewers

Johannesburg: Perskor (Word gepubliseer met vergunning van die SAUK)

Literêre vorm

Jeugboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liewe Heksie en die tent

Publikasiedatum

1978

ISBN

0798108622 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liewe Heksie en die sterretjies-kombuis

Publikasiedatum

1978

ISBN

0798108665 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liewe Heksie en die koekoekie

Publikasiedatum

1978

ISBN

0798108673 (1978)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liewe Heksie en die silwer roos

Publikasiedatum

1978

ISBN

079810872X (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liewe Heksie kry ’n kat

Publikasiedatum

1979

ISBN

0798109602 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liewe Heksie en die helikopter

Publikasiedatum

1979

ISBN

0798109610 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Met Huppel en Liewe Heksie op die planke: 'n viertal kindertoneelstukke. WO Kühne en Verna Vels en saamgestel deur die Instituut vir Navorsing in Kinder- en Jeuglektuur

Publikasiedatum

1984

ISBN

0624020460 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kindertoneelstukke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liewe Heksie en die rugbywedstryd

Publikasiedatum

1988

ISBN

07981 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die appelboom

Publikasiedatum

1991

ISBN

0869645390 (sb)

Uitgewers

Johannesburg:  Dalro

Literêre vorm

Kindertoneel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liewe Heksie: tien verhoogverwerkings van “Liewe Heksie”  stories

Publikasiedatum

1991

ISBN

0869645382 (sb)

Uitgewers

Johannesburg: Dalro

Literêre vorm

Kindertoneel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lekker Liewe Heksie-stories

Publikasiedatum

1995

ISBN

0798134259 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die groot Liewe Heksie-storieboek

Publikasiedatum

1995

ISBN

0798134267 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liewe Heksie en die pampoene

Publikasiedatum

1995

ISBN

0798134283 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liewe Heksie maak ’n plan

Publikasiedatum

1995

ISBN

0798134291 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liewe Heksie en die rekenaar en ander nuwe Liewe Heksie-stories

Publikasiedatum

1999

ISBN

0798139218 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

  • CP Hoogenhout-prys 2002
  • ATKV-Kinderboekprys 6–7 jaar 2001

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Liewe Heksie-omnibus

Publikasiedatum

2002

ISBN

0798142219 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor Verna Vels beskikbaar op die internet:

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2014-09-03
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan [email protected].

  

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Lelanie Schoeman

    My dogtertjie hou haar 8ste Verjaarsdagpartytjie op Saterdag, 31 Augustus 2013. Sy wil so graag vir Karel Kat en Liewe Heksie en kie by haar partytjie hê, maar ons het geen idee waar om sulke karakters te bespreek vir die partytjie nie.  Enige hulp of raad?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top