Vermis

  • 1

Foto: Canva.com

Die skemer hurk al om die huis en Schantell is nog steeds nie terug van die skool af nie. Delores het die afgelope drie ure deur ’n siklus van kwaad, bekommerd, bedonnerd en dan weer hulpeloos gegaan. Die laaste paar maande se SABC-nuus oor vermoorde kinders het soos ’n klip in haar hart kom lê.

Daar was Jeneva Diergal, Delvina Europa, Tazne van Wyk, Michaela Williams ... Hulle het juis by die biduur vir daai kinders se mammies gebid oor die vreeslikheid wat daai gesinne oorval het.

Dan praat sy haarself weer aan: “Hie in Blikkiesdorp sal sulke goete nie gebeur nie. Hie woon slegte mense wat die Boere kom oplaai vir inbreek en steel, maa nie moordenaars nie.”

Delores gooi die vadoek oor haar skouer en stap vir die soveelste keer uit op die stoep om weer in die lang pad af te kyk of Schantell nie al aangestap kom nie.

Drieuur het Delores by die neighbours gaan hoor. Jasmin het gesê sy het Schantell na skool saam met Veronica na die rivier sien stap.

Vieruur was Delores oor na Veronica se huis. “Nai, Auntie, ek is al lankal weer terug by die huis om die djaart te vie voorlat my stiefpa wee sy kop verloor en my slat as hy vannie werk terugkom. Schantell wou nie saam terugkom nie. Sy wou nog riete vleg en Jonathan dophou.”

Vyfuur het Jonathan verby Delores se huis gehaas met sy gebruiklike kaal bolyf en vuil kombers oor die skouers. Die sweet het soos diamante op sy gesig geblink.

“Jonathan!” het sy geroep, “waa is Schantell? Sy het nie na skool huis toe gekom nie.”

“Nai, Auntie,” het hy, sonder om sy pas te verslap, geantwoord. “Sy was lately daa by my by die rivier, maa ek wiet nie waa sy nou issie.”

Jonathan is ’n anderste een. Delores dink terug aan die nag toe hy soos ’n stuk weggegooide Shoprite-sak by die rivier gevind is. Die weer was swaar. Dit het gedonder en geblits maar, prys die Here, geen reën nie. Anders het hy sowaar in die rivier weggespoel. Vossie het die pasgebore baby die volgende oggend vroeg by die rivier ontdek. Vossie sê Jonathan het darem in die skadu van ’n wilgerboom gelê, alhoewel hy vol miere was wat aan sy bloederige naelstring gevriet het.

Elize en Jason het hom ingevat. Elize was die voorste kerksuster en Jason het baie keer bible study meetings gehou alhoewel hy by die City of Cape Town gewerk het en nie ’n pastor was nie. Die social worker het vir Elize en Jason gesê dat Jonathan soos ’n geskenkpakkie is. Niemand wiet wat in hom issie. Sy mommy kon ’n drug addict wies of ’n skoolkind. G’n spoor van sy mommy kon gekry word nie en niemand in Blikkiesdorp het gewiet van iemand wat pregnant was en van die baby ontslae geraak hettie. Almal was geskok dat iemand haar baby so kon weggooi.

Delores se gedagtes ruk terug na die hede. Sy moet iets doen. Die nag se elmboë begin nou al op Blikkiesdorp rus en haar hart is swaar. Ant Henna, die voorvatter gemeenskapsleier in Blikkiesdorp, sal weet wat om te doen. Sy wat Delores is sal na haar toe gaan.

Teen 8 nm het Ant Henna Blikkiesdorp se mense opgekommandeer om na Schantell te begin soek. Sy het kerse uitgedeel en orders gegee. “Maak drie groepe. Lesley en Jan, djulle vat elkeen ’n groep. Delores, djy kan die ander groep vat. Lesley se groep gan soek by die ashope en dam hie agter. Jan, djulle gan klop elke tikkop op en search sy huis en Delores, djulle groep gan soek by die rivier.”

Delores se moed sak tot in haar skoene. Jonathan het homself by haar groep aangemeld en met sy geel klavierklawertande gelag en gesê hy is seker hulle groep gaan wen en eerste vir Schantell kry, so asof dit ’n lekker speletjie is soos om na paaseiers te soek of skattejag te speel. Hy was net so toe sy aanneemouers met hulle motor onder die trein in verongeluk het. Het skoon gelag by die funeral en die pastor moes hom aanspreek.

Delores sug. Sy hoop nie Jonathan gaan dit vanaand vir hulle moeilik maak nie. Hy fluister mos geheime vir geitjies en ken glo die taal van skoenlappers. Sing glo ook soms vir die visse by die rivier. Schantell het haar dit vertel. Sy en Veronica het daarvan gehou om by die rivier te gaan sit en Jonathan dop te hou en onderlangs daaroor te giggel. Sy wat Delores is het baie keer vir Schantell gewarn om weg te bly van Jonathan, maar om een of ander rede het sy soos ’n mot om ’n kersvlam om hom bly draai.

“Nana,” het sy gesê, “Jonathan praat met mense in sy kop. Boelies baklei met hom da praat hy in tale met hulle en swaai sy arms dat hulle moet padgee. Die beste is as hy sy blink geld in die stofpad gooi en dan ewe verbaas dit weer optel soos een wat geld ontdek.”

“Djy moenie so danig met die klong wies nie, Schantell,” het Delores gesê. “Djy het nou jong meisie geraak en Jonathan bly ’n man, al act hy soos ’n kind. ’n Mens weet nooit met sulke mense nie.”

Die groepe begin uitmekaar beweeg elkeen na sy soekplek. Delores kyk onderlangs na Jonathan. Hy is hiper excited en loop voor. Steek-steek kort-kort met ’n stok na ’n graspol. Delores kan nie help om op te let dat sy ore net soos haar teepothandvatsels aan weerskante van sy kop lyk nie. Kort-kort kyk hy om en wink met sy regterhand. Sy Rastahare hang oor sy gesig soos ’n vuil gordyn.

“Lat hy maa aanstap,” sê sy vir die groepie by haar. “Ons hou maa so bymekaar met die kerslig. Ko ons mak eers ’n kringetjie. Gee djulle hande dat ons die Meester kan vra om ons te help. My hart spring uit my bors oor wat ons dalk gan kry.”

...........

Jonathan sit vroegmôre reeds onder sy geboorteboom. Hy hou daarvan om onder die lang takke van die wilgerboom te sit en hom te verbeel dit is sy biologiese ma se lang trane wat so om hom val. Dan dink hy hoe sy hom mis en wonder waar hy is en jammer is dat sy hom moes weggee. Vandag is die wilgerboom se lang takke ook vir hom die trane van Auntie Loor omdat hulle gisternag nie vir Schantell kon kry nie. Hy wonder wat van haar geword het. Hulle het die dag wat sy verdwyn het nog so lekker saamgespeel.

...........

Delores se oë is rooi en opgepof soos ’n uilskuiken. Gisternag het niks opgelewer nie. Nie by die dam of by die tikkoppe of die rivier nie. Geen taal of tyding van Schantell nie. Die besef dat Schantell nou rêrig weg is, het vanoggend tot haar deurgedring toe sy haar nie kon wakker maak vir skool nie. Sy het op Schantell se bed gaan sit en onbedaarlik gesnik. Sy sal haarself nou moet regruk en die taxi dorp toe vat om Schantell as ’n missing person te gaan aanmeld.

...........

Jonathan staan lui op en rek homself uit. Die son sit al hoog. Hy vat sy stapstok en loop langs die rivier af. Hier het hy en Schantell vissie-vissie gespeel nadat Veronica getjaila het. Sy moes die djaart gan vie voor haar stiefpa haa wee slat. Schantell wou nie saamgan nie.

“Ek likes djou,” het sy gesê. “Ek wil hoor hoe djy vi die visse sing. Niemand in Blikkiesdorp ka so mooi soos djy sing nie.” Sy het gelag en haar tanne het soos doudruppels geshine. Sy was vi hom mooi en sy hart het warm in sy binneste geklop.

“Kom ons speel muskiet-muskiet, dan steek ek djou,” het hy gesê.

 “No ways, daai’s ni my soort game nie. Ek willi daai spiel nie. Ek is nog te jonk,” en sy het skaam gelyk. “Kom ons spiel vissie-vissie dan is eki vis en djy sing vi my.”

“Oukei,” het hy gesê.

...........

Delores kom uitgeput huis toe. Sy het die polisievrou alles verduidelik en ’n affidavit afgelê.

“Mevrou, meeste kinders word perdfris en gesond gevind,” het die polisievrou haar probeer gerusstel, maar Delores het geweet Schantell kan obsternaat wees, maar sy is nie ene wat somme sal weghardloop van die huis af nie.

Delores skop haar skoene uit en gaan lê skuins op die rusbank. Na ’n ruk staan sy op. Daar is nog skottelgoed in die zink.

...........

Jonathan stap al laer en laer af met die rivier, verby die plek tot waar hulle gisternag gesoek het. Hy krap hier en daar tussen takke wat afgespoel het en in ’n bondel opmekaar lê. Dan sien hy haar tussen die riete. Sy dryf op haar maag. Hy draai haar om en haar oë kyk snaaks na hom soos toe hulle vissie-vissie gespeel het. Hulle het mekaar langs die rivier gedjaag, toe glip haar voet en val sy in. Sy het in die vlak water opgestaan en gelag.

“Nou is ek somme ’n regte vis,” het sy gesê. “Kom ek maak of ek swem, dan sing djy vi my.” Sy het plat op haar maag in die water gaan lê. Hy het vir haar begin sing. Toe sy later wou opstaan, het hy haar plat gedruk en nog ’n paar songs gesing. Toe hy klaar was, wou sy nie opstaan nie. Hy het haar omgedraai en sy het snaaks na hom gekyk. Toe los hy haar en gaan sit onder sy boom. Toe hy weer gaan kyk of sy nou al opgestaan het, was sy weg.

...........

“Auntie Loor! Auntie Loor!”

Delores los die skottelgoed en loop met die vadoek oor haar skouer voordeur toe. Sy stoot die sifdeur oop. Jonathan staan met die druipnat Schantell in sy arms. Hy buk met ’n groot glimlag op sy gesig vooroor en sit haar by Delores se voete neer soos ’n trotse kat wat ’n dooie muis vir sy baas kom wys. Die bloed in Delores se kop sak af na haar voete. Haar hand ruk op na haar mond en dan klief haar gille die hele Blikkiesdorp in stukke.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top