
Foto: Canva
Vermis: saak 2024/M/1225
ek kyk
na die Facebook post
mense wat share
met empatie
mense wat oordeel
ongevoelig
woorde uitdeel
en ek kry seer
ek wonder
sien jy dit
en ek bid
as jy nog lewe
dat jy
gevind wil word
soveel
teenstelling
van kwaad
diep verlang
bang
dat dit
finaal gaan wees
Daar is haat
teen ieder en elk
wat
mense
soos jy
diegene
wat verslaaf bly,
uitbuit
en hulself verryk
wat jul
in kettings bind
wat heroïen
op ’n silwer skinkbord
aan jul bedien
daar is kwaad
vir jou
wat keer op keer
jou kanse verbrou
wat altyd terugkeer
na nog ’n fix
wat sal moor
sal steel
om dit te kry
sterker
egter
as bitterheid
die verlang
die seer
om nie meer
my arms
om jou te vou
die vrees
dat dit
dalk
die laaste
kan wees
my hoop kwyn
want hoe
kan een mens
verdwyn
sonder
’n enkele voetspoor
vermis
’n woordjie
so klein
maar daarin
opgesluit
’n leeftyd
se pyn

