Verkiesing 2014

  • 7

Wil 'n slag oor die politiek skryf. Nou nie outydse politiek nie. Nee, meer rustig en realisties. Volgende jaar is daar weer 'n verkiesing en as 'n realis besef 'n mens dat die eintlike geveg – moontlik 'n baie interessante geveg – grootliks buite jou invloedsfeer gaan wees. Voor die opgewondenheid van volgende jaar kan 'n mens rustig daaroor peins.

As blankes en ook as nie-swartes (dis nie nodig om die punt te verduidelik nie), het ons 'n mindere maar belangrike rol. Die besef dat hulle nie meer die hond is nie het 'n redelike groot groep Afrikaners reeds in die negentigs die standpunt laat inneem dat hulle nie in die politiek belangstel nie en nie meer gaan stem nie. Dit is absoluut verkeerd. Dis nodig om die demokrasie te ondersteun en die stembus is 'n belangrike deel daarvan.

[Dis lekker om oud te wees. As ek 'n mindere punt raaksien begin ek daaroor praat, sonder om weer aan die eintlike saak te dink! Wat wou ek sê? O ja, oor die hond – die hond wys hoe verskillend ons is. As 'n swarte jou regtig wil beledig sê hy jy is 'n hond, sonder om 'n clue te hê oor hoe positief ons oor honde voel! Die Arabiere is ook so. Hulle reken diere soos honde en katte is onrein en hulle is permanent buite en word nie versorg nie.]

Ek weet 'n mens bereik 'n punt waar jy regtig gatvol raak en net in 'n hoekie wil gaan sit en jou oë met jou hande wil bedek. Wat doen 'n mens in só 'n geval? Eerstens, wat moet jy nie doen nie: jy bly nie van die stembus af weg nie. As jy rerig gatvol is kan jy dit ook by die stembus sê deur jou stembrief te bederf, maar jy bly nooit weg nie. By die stembus is jy gewoonlik nie in staat om die ou wat jy vrek graag in die parlement wil hê te ondersteun nie, dis meer 'n geval van om vir die minste van 'n paar euwels te stem (nou raak ek erg negatief of net realisties?).

Is nou ook by die punt waar ek die ANC begin jammer kry. Hulle is in 'n gemors en begin dit self besef maar is nie in staat om die regte ding te doen nie, nl om onverbiddelik van vrotsige ondersteuners in belangrike posisies ontslae te raak en die administrasie van veral munisipaliteite (grondvlak) te verbeter. 2014 se verkiesing sal vir hulle 'n verdere waarskuwing wees maar hulle pogings tot verandering sal nie voldoende wees om hulle noodwendige agteruitgang te keer nie, tensy Ceril die haas onmoontlike regkry en sowaar die haas uit die hoed trek.

Moet nog verder oor blanke politiek uitwei. Die dae toe ons politiek as die begin en einde gesien het, is verby. Daar is steeds maniere om invloed uit te oefen. Die media is 'n belangrike een. Ten spyte wat die ANC amptelik sê is dit duidelik dat die media 'n groot positiewe rol speel. Bewustheid van verskeie maniere om invloed uit te oefen is belangrik, maar dit moet nie meebring dat ons politiek afskryf nie. Ons speel op al die snare tot ons beskikking. Wat beteken dit in die praktyk? Om die DA blindelings te steun? Dis verkeerd. Dink mooi waar jou stem die meeste gaan help. Hier in die Kaap, waar die son tans lekker skyn, was my benadering in die vorige verkiesing om munisipaal en provinsiaal vir die DA te stem, maar vir die parlement die Vryheidsfront te ondersteun. Ja ek weet ons is nie almal mal oor laasgenoemde party nie (ek ook nie), maar onthou jy stem vir die beste van 'n paar euwels. Dis nodig dat daar 'n paar ouens in die parlement moet wees wat soms namens die Afrikaners kan walgooi.

Onthou om te gaan stem. Hoop ek kan ook so lank onthou!

George

  • 7

Kommentaar

  • Die VF+ is dan in dieselfde bed as die ANC, met hulle leier in die ANC kabinet.  AfriForum doen 'n beter job vir die Afrikaner.  Indien ek poog om iets vir die Afrikaner te wil doen, dan stem ek DA, want die VF+ het geen kans om enige impak te maak nie.  Inteendeel dit is amper 'n gegewe die VF+ verdwyn die volgende verkiesing.  Ek vermoed Mulder hoop om 'n ambasadeurspos te kry vir getroiue ANC ondersteuning.

    Jaco Fourie

  • Jaco, Afriforum is 'n belangrike een, wat ek moes genoem het. As jy hulle bo die VF+ stel stem ek ook met jou saam, maar dit is belangrik om alle beskikbare metodes aan te wend. Die DA word deur 'n groot persentasie Afrikaners ondersteun, maar die DA probeer in die openbaar opsy staan van hierdie ondersteuners en sal weinig vir Afrikaans of Afrikaner ondersteuners, as 'n groep, doen. Hier in die Kaap beheer hulle die stadsraad en die provinsie, maar gee nie om vir Afrikaans nie. Die meerderheidstaal in die provinsie word meestal geïgnoreer of kry tweedeklas behandeling. Die ander dag is ons slegs in Engels van 'n kragonderbreking in kennis gestel - dis normale optrede. Die DA se groot doel is om meer swart ondersteuners te werf en dinge sal in die toekoms verder verswak.

    Ek is nie heeltemal gemaklik met die rol van verdediger van die VF+ nie, maar ons gaan slegter daaraan toe wees as hulle verdwyn en daarom sal ek hulle steun (as jy die wenner wil steun, stem ANC). Pieter Mulder speel 'n groot rol om die verhouding tussen die boere en die regering beter te laat verloop. Gee aan hom erkenning vir die belangrike en positiewe rol wat hy hier speel.

    Groetnis,
    George

  • Ek sien geen verskil tussen verkiesings in SA en verkiesings in enige ander Afrika "demokrasie" nie. Die grootste stam wen. Om seker te maak hulle stem, blameer die Witman en die Weste, dan is hulle opgewerk genoeg om te toi-toi, busse aan die brand te steek, nog 'n paar witmense aan te val en te stem.

     

    Dit verander nie, nooit nie. Zimbabwe, Somalia, Congo, you name it.

    My waardevolste stem ooit was toe ek gestem het om Afrika te verlaat en elders 'n nuwe lewe te maak.

     Van hier af sien ek dalk meer raak as die wie naarstigtelik iets positiefs agter elke bos soek.

     

    Ek groet

    Duitswester.

     

  • CorneliusHenn

    Beste George,

    Baie dankie vir hierdie sinvolle bydrae.

    Vir jare lank reeds gryp ek na elke strooihalm om in hierdie sogenaamde demokrasie te oorleef.

    Ek stem absoluut saam met jou, hoe 'n klug ookal; jy bly NOOIT van die stembus weg nie!

    Alhoewel ek ook my lewe lank "regs" stem, ek dit miskien om ander redes as jy doen.

    Ek dink glad nie oor my kruisie na nie, ek VOEL dit uit my hart.

    Hierdie werklikheid het my jare gelede getref in my skoene deurloop vir Sy Edele Doktor Andries Treurnicht, en 'n wit slimjannie met net 'n kortbroek en vuil onderhemp aan, vir my probeer vertel dat Doktor Andries Treurnicht nie weet waarvan hy praat nie.

    Nou ja, so is daar menige slimjan met minder as graad agt agter sy naam, wat meer van die politiek ken as enige geleerde; hulle lees mos dan self die koerant!

    Hier op die werf is daar ook genoeg voorbeeld van gebreinspoelde slimjanne deur die korpokrasie se media.

    Ek ken ook die voorreg om met ou-president FW de Klerk te gesels het in my lewe.

    Dis nog altyd baie duidelik vir my dat elke politikus wat hul standpunt in die openbaar en teen soveel oorweldigende kritiek huldig, beslis kundig is in hul onderwerp en in staat is om 'n leier te wees.

    Dis nie vir algemene kiesers nodig om hulself oor die vermoë of intelligensie van enige leier verkiesbaar, te kwel nie.

    En dis hoe die korpokrasie se media die demokrasie uitbuit; hulle maak of elkeen wat hul twak lees die slimste is, en dan stem mense agter hierdie sogenaamde slimmigheid aan.

    Hierdie stelling van jou, is dus die enigste waar ek drasties met jou verskil: "By die stembus is jy gewoonlik nie in staat om die ou wat jy vrek graag in die parlement wil hê te ondersteun nie, dis meer 'n geval van om vir die minste van 'n paar euwels te stem".

    Die sogenaamde euwels, is byna deur die bank skeef gerekte waarheid deur die media.

    Niemand is volmaak nie...

    Stem met jou hart!

    En dis presies waar Afrika, die slim wittes voor is; hulle steun hul leiers met die hart.

    Wat het die wit Afrikaners se slimmigheid hul in ieder geval in die politiek gebring?

    Die "regse" albatros om die nek, is ook maar net 'n foefie om enigeen wat vir hulself kan dink, in skande te brandmerk en te onderdruk.

    Elke mens het 'n Godgegewe identiteit.

    Hierdie identiteit is daar om God mee te dien.

    Ek is 'n Afrikaner.

    Is dit 'n skande, of maak dit my "regs" as ek besorg is oor die toekoms van my mede Afrikaners, of dalk waag om trots te wees oor my erfenis?

    Apartheid word daagliks in ons kele afgedruk as die skuld vir al Afrika se probleme, maar waag 'n Afrikaner 'n konsentrasiekamp begraafplaas skoon te maak, dan is hulle kamstig "regs", en jy weet; Hitler het sesmiljoen Jode vermoor (met die diepste respek en deernis vir my Joodse broers en susters)!

    Hou maar gerus ene Wouter se Ingelse vyandigheid jeens die Afrikaner hier dop.

    Boeregroete,

    Cornelius

  • CorneliusHenn

    Beste Duitswester,

    Jou besluit is egte Voortrekkerhart!

    Mag jy nooit daaroor twyfel nie.

    Had ek maar 'n wa om oor die groot waters te trek, was ek dalk ook al lankal Noord van die ewenaar.

    Boeregroete,

    Cornelius

  • Vir almal hierbo

    Ek kry maagkrampe wanneer ek  die volgende lees:

    "Die DA word deur 'n groot persentasie Afrikaners ondersteun, maar die DA probeer in die openbaar opsy staan van hierdie ondersteuners en sal weinig vir Afrikaans of Afrikaner ondersteuners, as 'n groep, doen".

    Die DA is daar om die alternatiewe regering te word.  Die MEERDERHEID Afrikaners stem daarvoor, want hulle  sentiment op nasionale vlak is om die ANC te ontsetel, en sonder Engelse, Jode, swartes, bruinmens, Indiers ens. wat dieselfde daaroor voel, gaan dit onmoontlik wees.  Afrikaners op sy eenetjie sal dit in der ewigheid nooit regkry nie.  Afrikaners het lankal die VF+ die trekpas gegee.  Volgende jaar skop hulle hierdie lamsakke heeltemal uit  die parlement uit.   AfriForum is vandag daar om na Afrikanerbelange om te sien.  Ondersteun hulle eerder met u lidmaatskap-fooi.

    "My waardevolste stem ooit was toe ek gestem het om Afrika te verlaat en elders 'n nuwe lewe te maak".

    Dan wat maak jy hier op SêNet? Hoekom skakel jy nie geheel en al by jou nuwe vader / moederland in sonder om ons met jou wannabee sentiment te verveel nie?

    "Hierdie werklikheid het my jare gelede getref in my skoene deurloop vir Sy Edele Doktor Andries Treurnicht, en 'n wit slimjannie met net 'n kortbroek en vuil onderhemp aan, vir my probeer vertel dat Doktor Andries Treurnicht nie weet waarvan hy praat nie".

    Treurnicht het 'n kak houding en siening oor die lewe gehad.  Ek glo die wit slimjannie was seker ek gewees met die vuil onderhemp en kortbroek wat jou vertel het die man weet nie waarvan hy praat nie.

    "Had ek maar 'n wa om oor die groot waters te trek, was ek dalk ook al lankal Noord van die ewenaar".

    Had ek maar net die ekstra middele gehad, sou ek jou uit die land uitgehelp het.  Weeklaers soos jy ontsenu die volk.

    Jaco Fourie

  • Beste Cornelius, jou hart is reg en dit is die belangrike een. Heelwat van ons sogenaamde kennis en sekerhede sal oor tien jaar al weer heelwat anders lyk.

    Jaco, ek reageer net op een punt. Die Afrikaners het al die ondersteuning nodig wat ons kan kry en dit sluit baie beslis almal in wat voorheen deel van ons groep was en verhuis het. Hulle belangstelling en meelewing is nie iets om oor neus op te trek nie. Die Jode het hulle voortbestaan daaraan te danke dat hulle soveel buitelandse ondersteuners het. Duitswester lewer goeie en leesbare bydraes op hierdie werf en hopelik ignoreer hy jou met 'n groot ignorasie.

    George

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top