Op 25 April het ek geskryf onder die opskrif Verkiesing 2014 en dit het heelwat reaksie uitgelok. As ek nou weer oor politiek skryf is dit nie omdat ek 'n vreeslike politieke dierasie is nie, dit is dat daar interessante dinge aan die gebeur is.
Die tweede paragraaf van genoemde brief het met die volgende sin begin: As blankes en ook as nie-swartes (dis nie nodig om die punt te verduidelik nie), het ons 'n mindere maar belangrike rol. Al bly ek in die Kaap het ek nie op daardie stadium besef hoe warm onder die kraag my mede Kapenaars van donkerder skakering is nie. Ons weet seker almal van Solidariteit se hofsaak teen die gevangenisdiens en die hoop bestaan dat 'n gunstige uitspraak in hierdie saak bruin amptenare in die Kaap se kanse op bevordering en werksgeleenthede aansienlik sal verbeter.
Maandag was daar 'n bespreking op Praat Saam (RSG) oor die bruin politiek en is ander aspekte van die saak belig. Die saampraters was Peter Marais, vorige premier van die Wes-Kaap, Basil Kivedo, burgemeester van Worcester en Philip Dexter, wat die ANC namens Marius Fransman, die provinsiale ANC leier, verteenwoordig het. Die besprekingspunt was of daar plek is vir 'n eksklusiewe bruin politieke party in die Wes-Kaap. Noodwendig is Dexter hierteen gekant en die rektor van die Universiteit van Stellenbosch het as inbeller hom versigtig en sterk by die ANC geskaar.
Die steun vir 'n bruin politieke party deur Marais, Kivedo en luisteraars was skynbaar oorweldigend en sterk emosioneel en hou in gedagte dat Kivedo 'n DA-man is. Daar kan lank oor die saak uitgewei word, maar om dit kort en kragtig te stel, die bruin mense (die meerderheidsgroep in die provinsie) is gatvol vir die ANC. Soos hulle in die ou Suid-Afrika aan die agterste speen moes suig is hulle in dieselfde posisie in die NSA. Ek dink hulle besef, dat soos die vakbonde, kan hulle maar praat maar die hoogeres in die ANC loop eenvoudig hulle swart nasionalistiese pad.
Dit word gesê dat 'n week in die partypolitiek lank kan wees en baie dinge kan nog voor April 2014 gebeur, maar tans lyk dit of die ANC groot probleme in die Wes-Kaap kan verwag. Dit bring my by die hoofpunt van my vorige brief. 'n Mens moet jou stem op die mees effektiewe wyse gebruik. As dinge sou loop volgens huidige aanduidings moet blankes in die Wes-Kaap hulle gewig by die nuwe party ingooi (nie soseer in terme van lawaai en direkte betrokkenheid nie, maar in steun by die stembus ). Dit sal in die hele land 'n totaal nuwe politieke omgewing skep en die moontlikheid om mettertyd aansienlik groter provinsiale magte vir die Wes- en Noord-Kaap te beding.
Die ANC het homself bewys as 'n logge liggaam met swak leierskap en ons moet die moontlikhede wat die huidige situasie bied ten volle benut.
George


Kommentaar
George,
Indien aan jou wense voldoen word, sal die ANC baie baat daarby vind . Die meerderheid bruinmense stem tans nie vir die ANC nie, wel DA in die Weskaap. Hoe meer verdeeld die opposisie word, hoe langer gaan die ANC in bewind bly, nieteenstaande enige verminderde steun vir die ANC in die daaropvolgende verkiesings nie.
Jy skryf: "Dit sal in die hele land 'n totaal nuwe politieke omgewing skep (hierdie bruin party) en die moontlikheid om mettertyd aansienlik groter provinsiale magte vir die Wes- en Noord-Kaap te beding."
Jy droom maat. Wat vir een provinsiale magte geld, geld vir al die ander ook. Zuma soek reeds meer as 2/3 meerderheid. Gee jy dit hom deur wyse van 'n verdere verdeelde opposisie, is daar reeds sprake om die aantal provinsies te verminder. In die Wes-en-Noordkaap geval, moontlik met die Ooskaap te amalgimeer, dan sien julle jul gatte onder die meerderheid Xhosa bewind.
Jaco Fourie