Op Vrydag 26 Julie 2024 word Acáma Fick 80 jaar oud. Sy het ’n onuitwisbare bydrae gelewer tot die koorlandskap van Suid-Afrika en die lewens van duisende koorlede, studente en toehoorders aangeraak.
Daar is al veel oor haar geskryf en gesê – ek hoef nie hier ’n volledige biografie te skryf nie. Net enkele dinge wat my opgeval het en wat ander hopelik ook sal aanspoor om hulle ervaring en herinneringe te deel.
1.
Acáma se loopbaan as koorleier het begin toe die legendariese Liza Coetzee, skoolhoof van die Hoër Meisieskool Bloemhof op Stellenbosch, haar laat kies het of sy diskus of die skoolkoor wil afrig.
Ek is daarvan oortuig dat, indien Acáma haar met atletiek sou bemoei, die Suid-Afrikaanse diskustradisie wêreldwye agting sou geniet. Sy sou haar navorsingsywer en deeglikheid ingespan het om die beste te lewer wat Bloemhof (en later hoër range) se diskusatlete benodig het.
Die dankbaarheid is egter groot dat Acáma die koor gekies het. Uiteraard het dit beter by haar talente en passies aangesluit, maar sy kon daardeur ook ’n veel groter groep mense beïnvloed, opvoed, oplei, inspireer en kultiveer.
2.
Van die wyshede wat sy tydens koorrepetisies laat val het, net enkeles:
“Sing all the sounds!”
“Ook die stiltes is musiek.”
Sy het my geleer dat aandag aan fyn detail belangrik is vir enige kunsvorm. ’n Staaltjie wat hierby aansluit, kom uit die 1986-reünie, die jaar toe die US Koor 50 bestaansjare gevier het.
Daardie jaar het ons konsertprogram begin met Monteverdi se sesstemmige “Magnificat” uit die 1610-Vespers, gevolg deur ’n groep van vyf liedere wat die vorige vier dirigente vereer het:
- Arthur Sullivan se “O hush thee, my baby”, een van die eerste liedere wat die koor in 1936 in die Kaapse stadsaal onder William Morris gesing het.
- Oom Gawie Cilliers, bekend vir sy volksliedverwerkings, is verteenwoordig deur ’n uitbundige “Saai die waatlemoen”.
- Oom Philip McLachlan, in daardie stadium die langsdienende dirigent, is verteenwoordig deur “Psalm 42” (waarmee hy jare lank sy koorprogramme geopen het) en Viadana se motet “Exultate justi”.
- Johan de Villiers het in 1984 ’n Kerslied, “Transeamus”, met die koor uitgevoer in ’n verwerking deur sy pa, Dirkie. Ek het daardie jaar begin sing en het die “weersing” geniet.
In Desember 1986 het die koor reünie gehou en die 1986-koor het ’n kort program vir die reüniegangers aangebied. Deur die jaar het ons vele konserte gehou – ons kon dus die repertorium in ons slaap sing. En ons had (soos ’n arrogante student sou dink!) niks om te bewys nie: Die reüniegangers sou ons in elk geval toejuig.
En tog het Acáma, by die oefening voor daardie reünieoptrede, op een plekkie in die Sullivan-wiegelied die frasering verander. Nie omdat dit nodig was nie, maar omdat sy steeds daaroor nagedink het en wou sien of dit die musiek dalk beter sou dien. Voortdurend aan die ontwikkel, voortdurend aan die nadink en leer – nooit sommer maar tevrede nie. Beslis ’n lewensles.
3.
Maar natuurlik bly die humor nie uit nie. Net twee staaltjies:
In 1985 sing ons ’n toonsetting deur Arnold van Wyk van Boerneef se vers “Hoe stil kan dit word as Sedoos gaan lê”. In die week voor die konsert, by ’n oefening, was daar verwarring oor watter noot gegee word en watter noot watter stemgroep moes sing. Op die stellasies in die Nederburg-wynveilinglokaal neem die koor weer die noot verkeerd. Acáma stop ons, laat ons weer die aanvangsakkoord sing – maar dis steeds nie wat dit moet wees nie. Sy het later vertel dat sy gedink het sy is moeg – daarom klink dit verkeerd. En ons val weg.
Gou het sy besef dat sy reg was: Die noot was heeltemal verkeerd! Maar toe word dit te laat om te stop en oor te begin ... ’n Oudkoorlid wat hierdie werk jare tevore gesing het, was baie geïnteresseerd in die “nuwe verwerking”, om dit sagkens te stel. Acáma het later gesê sy is spyt daar bestaan geen opname van hierdie uitvoering nie, want dit het geklink soos politonale musiek uit die vyf-en-twintigste eeu uit die buitenste ruimte!
In 1988 sing ons Monteverdi se mis vir vier stemme. Lieflike werk, veral die Sanctus, wat met sulke hoë, lang, sagte note begin in al die stempartye. Rustig, eteries, strelend, kalmerend.
...........
Een Sondagoggend sit ons die stuk in na die NG Kerk Drieankerbaai om die mis stuk-stuk as deel van die liturgie uit te voer. Terwyl ons staan en opwarm in die konsistorie, sukkel ons om noot te hou, want die dominee lei die voorafsang en ons kan hom via die interkom hoor – hy sou nie ’n kooroudisie geslaag het nie.
.............
Een Sondagoggend sit ons die stuk in na die NG Kerk Drieankerbaai om die mis stuk-stuk as deel van die liturgie uit te voer. Terwyl ons staan en opwarm in die konsistorie, sukkel ons om noot te hou, want die dominee lei die voorafsang en ons kan hom via die interkom hoor – hy sou nie ’n kooroudisie geslaag het nie.
Toe die diens begin, heet hy ons so hartlik welkom dat dit klink hy gaan ons elkeen se naam noem: die koorlede, die koorbestuurder Bart Cronjé – met passie en waardering word ons verwelkom. En die diens verloop en ons sing en sit en sing weer en so.
Net toe ons regstaan vir die Sanctus (mooi opgewarm en gefokus vir daardie hoë note), sê die dominee hy het ’n groot fout begaan. Hy het nou aan die begin almal welkom geheet (en weer noem hy amper-amper almal se name), maar hy het vergeet om die dirigent welkom te heet. Sy is mevrou Acáma Fick en sy is ’n dosent aan die Krematorium op Stellenbosch.
Kyk, Monteverdi sou sy eie Sanctus nie daardie oggend herken het nie.
In die bus op pad terug het ’n paar van ons die kurrikulum van hierdie deurlugtige akademiese instelling uitgewerk, met spesiale verwysing na die AScáma (sic!) Fick-gedenkbeurs vir studente wat verbrands goed presteer.
4.
So val daar veel te vertel, te onthou, te waardeer. Ek hoop ander neem ook deel aan die gesprek om die mosaïek van Acáma se invloed vollediger te maak.
..........
So val daar veel te vertel, te onthou, te waardeer. Ek hoop ander neem ook deel aan die gesprek om die mosaïek van Acáma se invloed vollediger te maak.
...............
Acáma, mag daar nog mooi jare vir jou voorlê, waarin jy goeie gesondheid geniet, steeds nuwe onderwerpe ondersoek en bewus bly van die groot waardering wat so baie mense vir jou het.
- Coenraad Walters (US Koor 1984–1991; Stellenbosch Camerata 1993–1995, 1999–2001)
Lees ook:
Kommentaar
Dankie Coenraad - ek het lekker gelees. Ek is ook dankbaar dat ek haar op vele vlakke kon ervaar. Wat jy nie bygevoeg het nie, is hoe mooi sy gelyk het as sy dirigeer het nie. Die beweging van haar rok was soos "visuele" musiek.
Juffrou Fick is 'n legende. Ek sou so graag onder haar wou sing.
Dit is werklik 'n voorreg om in 'n koor te sing. Ek het op 'n "laat stadium" van my lewe "toelating" tot 'n koor gekry. Ek was as jong kind in die Kinderkrans toe die Kinderkranstannie 'n konsert reël en daar 'n koor moes wees. Ek sing toe saam en sy hou op klavier speel en ons hou aan sing. Sy stap luisterend verby almal en steek by my vas en gee toe toestemming dat ek buite kan gaan speel terwyl die ander koor oefen. Nooit weer het ek daarna gesing nie. Het een aand, terwyl ek knus en snoesig met 'n dame dans, waag ek toe om die meesleurende lied saam te sing. Sy noem toe egter ek behoort ver met my stem te kom, ver van ander mense af. Ek het een oggend hier by ons plaaslike gemeente 'n uitnodiging/uitdaging gekry om saam in die koor te kom sing. Die orrelis op daardie stadium was Pieter Snyman. Ek weet toe nie wie en wat hy is nie. Ek weet wel hy weet hoe om 'n kerkorrel te laat praat. Ek vind toe later uit hy het diep spore in die musiekarena getrap. Evenwel, ek gaan toe vir 'n oudisie en wragtag waar daar tree hy my aan en word ek toe koor lidnommer 16. Ons het tot sy aftrede by ons gemeente baie plesier en hoogtepunte gehad. Ons het ook getoer, maar in die gemeentes in die gebied waar ons bly. Ek is nog steeds in die koor en wag net vir my solodebuutdeurbraak. Dalk sal ek betaal word om nie te sing nie. Maar geld gaan ek nog van sang maak.