"Verjaarsdagliedjie" deur Melodie Slabbert

  • 0

Verjaarsdagliedjie

ek onthou jou, son-kind
hoogty in die park

– die brander het amper omgeslaan! –

en jy het grootgeword, virtuele kind
kyk, duskant die remote en mouse pad
en fosforletters op jou rekenaarskerm

brand  ’n ánder somer:
as dit reën, was die sipresse
hulle stofjasse skoon

Ladybirds vlieg rond
met kolletjies beloftes
en ’n vlinder knip sy vlerke blou-oog

virtuele dogtertjie,
jy wat hoogsomer verjaar
kyk rond, skoonheid is orals:

ek maak my potlood skerp
en die saagsel wat uit die skerpmaker krul
is óók ’n vlindervlerk

ek is maar ’n outydse skrywer
en die tegnologie verander te vinnig
maar ek weet Watermeyer het gesê

as  jy in ’n kind se oë kyk
dan sien jy God –
ook  jý wat nou hier luister

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top