
Foto: Canva
Vergif(sug)ting
wat het geword van
vakansies
op die pad
deur die Karoo
Pa wat met
my en Ma by
vulstasies stilhou
die voorruit
oortrek van
vasgevliegde torre
wat het geword van
paddas wat
snags hier in my
stadstuin moet kwaak
van vliegies
wat donkeraand
hul lampies om my
skyn wanneer ek opkyk
na die hemel en sterre
ook by my
voordeur wag
die lig saans op
geitjies wat nie opdaag nie
en vanoggend
by haar rotvangs
lê ’n vergifde nonnetjiesuil
asemloos langs my roosboom

