Verf met lig by die Afrikaanse Taalmonument

  • 0

Die Afrikaanse Taalmonument is deesdae dié bymekaarkomplek vir fotograwe wat graag hul aan hulle fotovaardighede wil skaaf. Peter Haarhoff  bied sedert 2011 fotografiewerkswinkels aan, waartydens deelnemers kan leer "om met lig te verf" en sterresirkels afneem. Chrizane van Zyl het besluit om vir Peter 'n paar vrae te vra voor sy een van sy gewilde sessies bywoon.

Hi Peter. Jy bied al vir 'n geruime tydjie fotografiewerkswinkels by die Taalmonument aan, of hoe?

Ja, seker nou al vir twee jaar – kan selfs langer wees.

Hoekom het jy besluit om hierdie werkswinkels by die Taalmuseum aan te pak? En wat maak die plek spesiaal? 

Die Taalmonument is 'n fantastiese plek om foto's te neem. Dit is baie mooi, en veilig om met jou kamera rond te loop.

Ek het jou ook al op RSG hoor gesels en ek sien op Facebook (en elders op die web) dat jy 'n wye verskeidenheid werkswinkels regoor die land aanbied. Wat geniet jy die meeste van jou beroep en hoekom juis die fokus op fotografie-afrigting?

Ek het meer as twintig jaar ondervinding in die fotografiebedryf en geniet dit om my kennis met ander mense te deel. Fotografie is 'n lekker stokperdjie. Dis iets wat jy orals kan doen, enige tyd van die dag of nag. Sonskyn of reën. Dis ook 'n manier om jou lewe en dié van ander vas te vang. As jy vandag 'n mooi foto neem, beteken dit miskien nie baie nie, maar as jy oor ‘n paar jaar weer na die foto kyk, is dit mos baie meer kosbaar? Fotografie is ook 'n manier om kreatief te wees. Jy kan miskien nie 'n musiekinstrument speel nie, of 'n mooi skildery verf nie, maar dis maklik om jou kreatiwiteit met fotografie uit te druk.

Die Taalmonument en  -besoekersentrum word gereeld deur toeriste besoek. En so ook baie van die ander plekke waar jy sessies aanbied. Hoe lank kombineer jy al fotografie en toerisme, en wat maak dit anders as die meeste fotografieskole?

Ek doen dit nou al ses jaar lank en ek sê altyd: "If you want to take more interesting photos, get your camera to more interesting places."

Dit maak dit anders, want jy leer buite in die natuur en jy sit nie in ‘n klaskamer waar iemand jou net vertél hoe om mooi foto’s te neem nie. My fototoere en -werkswinkels is baie prakties en ek is byderhand om dadelik terugvoering aan elke deelnemer te gee.

So terloops ... wie is die drie pikkewyne wat op jou Facebookblad pronk en die land vol "toer"?

Die Drie Pikkewyne is my "buddies" wat orals saam met my gaan.

Verduidelik asseblief in "gewone Afrikaans" wat die fotografiese tegniek "verf met lig" behels.

Om met lig te verf is ‘n fotografie-tegniek waar die fotograaf tydens 'n lang beligtingstyd met 'n bron van lig soos 'n flits rondbeweeg en selektief areas belig en kleurspatsels byvoeg. Net omdat dit donker is, beteken dit nie jy moet ophou foto’s neem nie.

Wat kan 'n amateurfotograaf soos ek van hierdie sessie by die Taalmonument verwag?

Tydens die werkswinkels leer deelnemers verskillende maniere om met lig te verf, watter bybehore jy benodig en watter kamerastellings die beste werk.

Wat is een van die grootste wanpersepsies van "verf met lig"-fotografie?

Dat dit ingewikkeld is om te doen. Om met lig te verf is maklik om onder die knie te kry en kan jou ure se pret verskaf.

Watter toerusting het 'n mens nodig om hierdie soort fotografie te beoefen?

'n Digitale SLR-kamera, driepoot en afstandbeheerkabel is noodsaaklik.

Is daar verskillende tipes ligbronne wat jy kan gebruik, of gebruik mens maar net flitse? Indien mens met verskillende ligbronne werk, hoe sou elk die uitkoms van die foto beïnvloed?

Jy kan enige ligbron gebruik – jou kamera se flits, 'n gewone handflits, 'n kers of LED-ligte. Wees net versigtig met "laser pointers". Dit kan jou kamera se sensor beskadig.

Sou mens "verf met lig" op dieselfde manier aanpak indien jy met film foto's neem en nie digitaal nie?

Presies dieselfde – jy sal net moet wag tot jy jou film ontwikkel voor jy kan sien hoe die foto’s lyk. Dit is wat lekker is van digitaal. Jy sien dadelik die foto, en kan dan ook verstellings maak as dit nodig is.

Die laaste "Verf met lig"-werkswinkel vind Saterdag 15 Maart 18:00-22:30 by die Taalmonument plaas.

Wat om saam te bring

  • Jou kameratoerusting, met gelaaide batterye, ekstra geheue
  • Driepoot en afstandbeheerkabel
  • Gemaklike skoene en warm klere
  • Pen (notaboek en notas word verskaf)
  • ’n Flits

Wie kan dit bywoon?

Enigeen met ‘n digitale SLR-kamera.
Geskik vir beginner- tot intermediêre fotograwe.

Die werkswinkels kos R350 en sluit aantekeninge in. Die werkswinkels vind van 18:00 tot 22:30 plaas. Bespreking is noodsaaklik by Amira Clayton by tel 021 863 0543/4809 of stuur ‘n e-pos-navraag.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top