Vereeniging – die onvoltooide vrede deur Leon Wessels: ’n lesersindruk

  • 0

Vereeniging – die onvoltooide vrede
Leon Wessels
Umuzi

ASIN: B0050O9RLE

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Ek het die boek gelees nie omdat ek in die politiek belangstel as sodanig nie, maar deels omdat die skrywer saam met my in Hoërskool Monument, Krugersdorp was, in ’n hoër graad. Hy het daardie tyd al uitgestaan as ’n leier, alhoewel hy, nie sonder misnoeë nie, skryf hoe hy op die lys van gekose prefekte was, maar tog op die laaste oomblik deur ’n onderwyser of twee uitgestem is. Sy meisie van daardie tyd (nou sy uiters suksesvolle vrou) was hoofmeisie en dit was sekerlik ’n bitter pil om te sluk. Dit was egter ’n ervaring wat hom oor jare telkemale sou herhaal en waardeur hy baie geleer het om terugslae en verwerping te hanteer, selfs op kabinetsvlak.

Hy skryf oor sy kinderdae as die seun van ’n polisieman, die tipiese Afrikaanse gesin van die 1940’s. Sy groot liefde was perdry en hy kon die sport van jongs af beoefen, wat ’n groot aanbeveling was toe hy polisiekollege toe is en in die berede eenheid opgeneem is. Ek onthou dat die skoolhoof aan die einde van Leon se eerste jaar trots aangekondig het dat Leon die polisiekandidaat-van-die-jaar-toekenning verwerf het. Hy het sy eerste politieke tree as lid van Nusas aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO (nou Noordwes-Universiteit) gegee. Hy het die universiteit verlaat met ’n regsgraad in sy sak en het op sy geboortedorp – Krugersdorp – as regspraktisyn begin praktiseer. Daar het ’n “woelgeespredikant” hom genader om as parlementslid vir Krugersdorp te staan en van daar het sy politieke loopbaan momentum gekry.

Wessels skryf sy lewensverhaal teen die agtergrond van die Suid-Afrikaanse geskiedenis vanaf die Vrede van Vereeniging ná die Suid-Afrikaanse oorlog; sy rede is dat die onstuimigheid wat deur sy kinderdae en verder geheers het, ’n lang aanloop gehad het en dat mens hierdie perspektief moes hê ten einde sekere dinge te verstaan. Hy skryf:

Twee toesprake – dié van Jan Smuts in Mei 1902 en FW de Klerk in 1990 – het die gang van die Suid-Afrikaanse geskiedenis onmiddellik en ingrypend verander. Smuts se toespraak ná die Anglo-Boereoorlog het die pad gebaan vir vrede tussen Boer en Brit, met die uitsluiting van swart mense uit die landspolitiek. FW de Klerk – van 1972-1989 parlementslid vir Vereeniging – het 88 jaar later die deur geopen vir vrede met die internasionale gemeenskap en die insluiting van swart Suid-Afrikaners in die landspolitiek. (55)

Politieke woelinge en probleme met die Verenigde Nasies was aan die orde van die dag en hy sou mettertyd al hoe meer dáárby betrokke raak, totdat hy uiteindelik raadslid vir Krugersdorp sou word, parlementslid vir Vereeniging, later adjunkminister van wet en orde, en heelwat later lid van die Grondwetskrywende vergadering en menseregtekommissie tot sy aftrede. Sy politieke loopbaan was opwindend en intens; mens kan byna nie glo dat een mens soveel in ’n leeftyd kon beleef en vermag nie. Hy beskryf sy jare as lid van die regerende party, die protokol, spanning tydens vergaderings van die koukus, afjakke deur die staatspresident van die tyd en ander insidente met rou eerlikheid. My persoonlike opinie is dat hy onthou sal word as brugbouer tussen partye en veral groepe van verskillende rasse; hy beskryf vele gevalle waar delikate gesprekke sake op ’n mespunt gebalanseer het. Hierdie werk gee mens baie insig in veral die agter-die-skerms-politiek. Sy outobiografie is in keurige taal geskryf en onderhoudend; mens kan dit nie neersit tot die laaste bladsy nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top