Fjodor Michailowitsj Dostojewski is op 30 Oktober 1821 gebore. Hy was 16 jaar oud toe sy moeder sterf, en twee jaar later sterf ook sy vader. Hy studeer in die ingenieurswese in St Petersburg en maak kennis met die werk van die Franse skrywers Honoré de Balzac en Victor Hugo. Hy begin trouens om Balzac se werk Eugénie Grandet te vertaal. Terselfdertyd werk hy aan sy eerste boek – Arm mense (Poor folk op Engels). Hy word met die rang van luitenant in die ingenieurskorps van die Russiese weermag aangestel, maar as gevolg van siekte (waarskynlik epilepsie) verlaat hy die weermag. Ondertussen skryf hy heelwat kortverhale wat in tydskrifte en koerante verskyn, en oorweeg dit om ’n satiriese tydskrif uit te gee. Hy raak betrokke by ’n groep anti-Tsaristiese skrywers wat nie die aandag van die Tsaar se polisie ontsnap nie. Toe hy in Maart 1849 in die openbaar ’n revolusionêre brief voorlees wat Wissarion Belinski – die krag agter die andersdenkendes – aan die skrywer Nikolai Gogol geskryf het, word hy en ander lede van die groep gearresteer. Verskeie aanklagte word teen die groep gelê. Dostojewski verloor sy militêre rang en word opgesluit. Hy en sy makkers word ter dood veroordeel. In ’n brief aan sy broer beskryf hy later die toneel en sy belewing van die oomblikke voor die teregstelling, en hoe daar skielik ’n aankondiging gedoen word dat hulle begenadig en na Siberië verban word.

Dostojewski, 1872
Bron: Wikipedia
Hy word daarna vier jaar lank (1849–1853) in ’n militêre kamp by Omsk aangehou, en vertoef nog vier jaar onder huisarres in die dorpie Semipalatinsk. In die gevangenis word die skrywer Dostojewski as ’t ware gebore. ’n Jaar ná sy vrylating begin hy aan Die huis van die dooies werk. Hierna volg ’n verstommende oeuvre wat met sy dood op sestigjarige leeftyd (28 Januarie 1881) afgesluit word, sewe maande nadat hy ’n briljante rede oor Aleksander Poesjkin gelewer het ten tye van die onthulling van die Poesjkin-monument in Moskou.
September 1950. In ateljee 3C in Uitsaaihuis, Commissionerstraat, Johannesburg, repeteer Anna Neethling-Pohl die opvoering van ’n radiodrama. Die jong omroeper is nuuskierig oor hoe dit gedoen word en wat dit alles behels. Hy vra toestemming om in die kontrolekamer waar die regisseur saam met die klankkontroleur sake beheer, stil te sit en kyk en luister. Aan die ander kant van ’n groot klankdigte venster staan die akteurs om ’n mikrofoon. Bekende radiospelers wat hy nog nie ontmoet het nie, maar dikwels gehoor het, in lewende lywe. Geboei, byna aangegryp, hoor hy hoe die gesproke woord die verbeelding kan aanraak, beelde kan oproep en byna voelbare atmosfeer skep. Maar agter die woorde wat hy hoor, is daar iets wat die verbeelding ontglip; ’n soort donkerte en skryning wat ontstel.
Die dramateks lê voor Anna Neethling-Pohl. Sinne, bladsye met aantekeninge. Sy luister en oorweeg elke woord, onderbreek dikwels die dialoog. Hy kry ’n vae indruk van die unieke aard van regie en radiospel.
“Wil jy die teks hê?” vra sy skielik
“Asseblief.”
“Goed. Dan kan jy sommer ook die opening- en slotaankondigings doen.”
’n Groot oomblik, komende van die vermaarde aktrise. Nou voel hy sommer hy is deel van die radiowêreld. Met die teks in die hand na sy kamer in Braamfontein. Hy eet nie, begin lees. Die skrywer is Fjodor Michailowitsj Dostojewski, en die titel van die boek Misdaad en straf. Dit is vertaal en vir die radio verwerk deur FP van der Merwe. Die nag verloop, daar is nie tyd vir slaap nie. Gelukkig ly hy aan slaaploosheid. Die nag word ’n vonds. Daarna lees hy ’n Duitse vertaling van die boek. So begin ’n belangstelling in Dostojewski en sy werke wat lewenslank duur.
Daar is kragvelde binne Dostojewski se wêreld. Dit sluit in gestaltes van drie argetipes wat deur al sy werke aan die lig tree: die magsmens, die supermens en die nederige mens. Al sy hoofkarakters raak verstrengel in die botsing tussen die meganistiese denke van die Weste en die dors na geloof by die Messiaanse mens van die Ooste. Daarby sy uitbeelding van vryheid as sluitsteen vir die menslike bestaan.
Ná ’n leesroes deur baie nagte maak hy kennis met ’n Engelse vertaling, Notes from the underground. Soos al Dostojewski se werk, gryp die verhaal van die man wat van onder die vloerplanke na die wêreld kyk, hom aan – die meganistiese siel van St Petersburg, die mens se sug na vryheid as noodsaaklike element van sy bestaan. Hierdie sterk indrukke prikkel sy belangstelling in die eksistensiefilosofie waar, soos Sartre dit stel, “Man on an ice flow” aan die orde kom. Die “outsider”, die eenkantmens, is hier ter sprake. Die resultaat is dat hy hierdie boeke as grondteks vir ’n magisterverhandeling gebruik. In die leesproses kom hy af op ’n Nederlandse vertaling van Dostojewski se boek. Hierdie uitstekende vertaling, Aantekeningen uit het ondergrondse, word toe die grondteks vir die verhandeling. Die outsider, eenkantmens en uithuisige figuur tree in verhale aan soos sommige karakters in sy eie boeke. Hieronder tel drie jeugverhale (wat hy nie as jeugverhale beskou het nie) waarin drie jeugdige karakters as enkelinge hulle menswees en bestaan moet aandurf.
’n Telefoonoproep van dr (later prof) Thomas van der Walt, verbonde aan Unisa se instituut vir jeugverhaal-navorsing, laat ’n ou begeerte nuwe lewe kry. Van der Walt is betrokke by ’n uitstalling van Afrikaanse jeugverhale in ’n biblioteek in Moskou. Dit gebeur in samewerking met plaaslike uitgewers. Thomas is bewus van die belangstelling in die werke van Dostojewski, ook van die magisterverhandeling. Die drie jeugverhale maak deel van die uitstalling uit. Thomas het sy kontakte by die biblioteek daaroor ingelig. Die volgende is ’n uitnodiging aan hom om by dié geleentheid in Moskou ’n referaat oor sy belewing van Dostojewski se werke te lewer. Dit voel vir hom of tot dusver geslote deure oopswaai. Omdat tyd min is, spring hy dadelik aan die skryf van die referaat. Intussen skaf hy klere vir Moskou se klimaat aan – ’n jas, warm onderklere, handskoene, ens. Sy oudste seun, Rudolf, teken ’n spotprent van sy pa met ’n Russiese mus op die kop, met die onderskrif “Yeltsin, wees gewaarsku, hier kom Rudolf Dostokerkski.”
Twee maande voor die vertrek is daar ’n besoek aan Mabalingwe, die natuurreservaat. Hy pak die Nissan Sani met alles wat jare lank al bosveld toe gaan. In die proses stamp hy sy kop teen die ysterslot van die laaideur. Hy besef nie waar die staal die skedel getref het nie. Toe begin erge hoofpyne wat hom herinner aan die jare toe hy aan skeelhoofpyne gely het. Hy besoek ’n chiropraktisyn wat hom dikwels in die verlede behandel het. Maar die hoofpyne wyk nie. Hy ry Mabalingwe toe, sy oudste dogter en haar man in hulle motor agterna. Tuis gekom bel sy en vra of hy daarvan bewus is dat hy heen en weer oor die pad gery het. Nee, hy weet nie daarvan nie. Een Saterdagoggend slaan geheueverlies toe. Hy sluit nog die agterdeur oop vir Katrina, die huishulp. Daarna weet hy nie wat om hom gebeur nie. Die kinders neem hom hospitaal toe. ’n Breinskandering toon dat die stamp teen die yster gelei het tot bloeding, genaamd ’n subdurale hematoom.
Die breinoperasie word deur ’n briljante breinchirurg gedoen. Twee dae na die operasie voel hy sterk genoeg om huis toe te gaan. Die chirurg laat dit toe, mits een van die kinders hom daagliks oppas. ’n Geskeduleerde na-operasiebesoek volg tien dae later. Hy vertel die dokter van die voorgenome besoek aan Rusland.
“Nee, jy kan nie. As jy in Rusland ’n terugslag kry, is jy in groot moeilikheid. Ek kan dit nie toelaat nie.”
Die jas, die winteronderklere en die handskoen bly waar hulle is. Die referaat bly in die laai. Hy lig Thomas van der Walt in. Daar is geen uitkoms nie. Die gedagte om Dostojewski se spore te volg en ’n biografiese essay daaroor te skryf bly eweneens in die slag.
Toe verskyn André Jakowlew op die toneel – dosent aan die Universiteit van Moskou. Hy skryf gedigte in Afrikaans, is betrokke by Afrikaanse studies aan die universiteit. Hy ontmoet hom by die Universiteit van Pretoria waar Jakowlew op besoek is aan die Departement Afrikaans. Die hoop vlam op. Jakowlew is nie net oor Afrikaans entoesiasties nie, maar ook oor die moontlike besoek aan Rusland. Die enigste struikelblok is ’n tekort aan geld, maar as ’n plan beraam kan word, sal hy wel ’n plan kan maak. Die Afrikaanse program van die SAUK voer ’n onderhoud met André waar hy een van sy gedigte in Afrikaans voorlees. Die atmosfeer vir die besoek is geskep.
Die plan behels ’n besoek aan die Dostojewski-museum in St Petersburg. Twee dae sal ook afgesonder word vir ’n besoek aan die Hermitage, waar van die wêreld se grootste kunsskatte byeengebring is. ’n Besoek aan die Semenowskiplein waar Dostojewski gewag het om gefusilleer te word nadat hy die doodstraf opgelê is weens kritiek op die Tsaar, maar toe begenadig is, soos reeds hier bo genoem
Hy sal dus Dostojewski se spoor vat vanaf sy studentedae, die agt jaar in gevangeskap, en sy eerste boeke tot by die grootse Karamazof-broers. Die motto van dié groot werk kom uit Johannes 12, vers 24: “Voorwaar, ek sê vir julle: as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen, maar as dit sterf, dra dit veel vrug.”
Hy en André bly in verbinding oor die besoek, maar op ’n dag kom die boodskap wat tot ’n tweede teleurstelling lei. Hy skryf naamlik dat hy in ’n egskeidingsgeding betrokke is, dat hy Moskou gaan verlaat en nie weet wanneer dinge weer normaal sal raak nie. Verder skryf hy dat hy moontlik ’n dosentepos aan die Universiteit van St Petersburg kan kry.
Intussen is daar ’n onverwagte ontmoeting met Jerzy Koch, verbonde aan die Universiteit van Wrocłav in Pole. Hy maak ’n studie van die Afrikaanse letterkunde, onder meer ’n grondige studie van Die son struikel. Tydens die herdenking van die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899, ’n inisiatief van Thomas van der Walt, lewer hy ’n lesing oor die boek. Daar is groot opgewondenheid toe Jerzy voorstel dat Thomas ná sy besoek aan St Petersburg na Wrocłav reis. Jerzy het ’n passie vir Nederlandistiek, wat hy aan die Universiteit van Wrocłav doseer.
Ook dié droom bly egter maar net ’n droom. Ná hierdie terugslag ondersoek hy ander moontlikhede om Rusland op sy eie te besoek. ’n Bootreis van St Petersburg na Moskou wat slegs enkele dae in St Petersburg insluit, klink vir hom oppervlakkig en ver verwyder van wat hy daar wil doen. Hy wil nie reis nie, maar wil navorsing doen en skryf. Dus nog ’n dooiepunt.
Thomas van der Walt laat weer van hom hoor. Sy vriende in Moskou is vuur en vlam oor ’n moontlike besoek. Maar dié keer is Omsk die eindpunt. ’n Dostojewski-studiekring in Omsk nooi die skrywer om hulle te besoek en die praatjie te lewer. Reis- en verblyfkoste plaas egter ’n demper op die entoesiasme. Hy maak somme, besef dat hy finansieel nie sterk genoeg is om die projek aan te pak nie. Maar die vlam is nog nie geblus nie. Tot Thomas bel. Hulle sou ’n begeleier op die hele besoek hê; alles is gereël, maar Unisa het hom duidelik laat verstaan dat hy nie langer uitstel sal kry om sy doktorale studie te voltooi nie. Hy het nie ’n keuse nie.
Teen dié tyd het ’n gedagte wat reeds vroeër ingesluip het, duidelik na vore getree: “Dit is jou nie beskore om na Rusland te reis om Dostojewski se lewenspoor te volg en sy werke en filosofie in jou taal aan die lig te bring nie.” Al wat ná al die opgewondenheid en vooruitsigte oorgebly het, is die referaat wat so lank reeds in ’n laai lê.
Kragvelde binne die wêreld van FM Dostojewski
Deur watter stiltes moes hy gaan
van daadlose vernedering,
tot hierdie vreemde diep bestaan:
dat só sy deemoed hom omring –
’n wit kelk van geborgenheid
waarin hy lê, van alle drang
en trots vervreemd en wil tot stryd –,
dat só in hom die stroom en dwang
van mens-wees tot die yswit stand
van roerlose waatre kon verloop.
Geen smaadwoord beef tot deur die wand
waaragter hy skuil teen die Hoop
en al haar laatre bitterheid;
want alles het gegroei in hom
tot dié geduld-in-lydsaamheid
waaraan die goue vreugde blom.
NP Van Wyk Louw
Die gedig kom uit Die halwe kring (1947, derde druk), die eerste digbundel wat ek as student met drie maande se sakgeld gekoop het. Dit is die beeld van ’n onbekende gees wat later in my jongmensbestaan sou ingryp, en vanweë die krag daarvan, vandag nog deel van my bewussynswêreld uitmaak.
My eerste kennismaking met ’n werk van Fjodor Michailowitsj Dostojewski was in meer as een opsig nogal dramaties. Dit was in die vorm van ’n radiodrama, verwerk en in Afrikaans vertaal. Die radiodrama was Misdaad en straf.
Ek lees daarna ’n Duitse vertaling van Misdaad en straf. Dit het my soos ’n donderslag getref – intellektueel en geestelik. My klein wêreld van literêre ervaring is tot in sy fondamente geskud deur ’n skrywer wat prosa skryf soos ek nog nooit onder oë gehad het nie. Drie figure groei uit die teks: Machiavelli, Nietzsche en Jesus. Drie geeste, drie idees: die man van absolute mag, die supermens en die nederige man aan die kruis – al drie in ’n enkele karakter geteleskopeer. Raskolnikof verklaar dat alles toelaatbaar is, selfs moord. Daarmee konstateer hy sy absolute mag oor homself, sy medemens en die wêreld. Maar dan kom die pynlike oomblik van waarheid: Sy daad lei nie tot die gewaande hoogtes van ’n mens-god nie, maar tot die duisternis van eensame aanhouding en berou. Hy word gedwing tot die besef dat die mens nie God is nie – die eerste stap om God te leer ken. Die mislukking van geweld gee aanleiding tot nederigheid en selfverloëning – Dostojewski se voorwaarde vir wedergeboorte.
Reeds tydens die lees van die boek het gedagtes oor die eksistensiële probleem by my opgekom.
Daarna het ’n tydperk van Dostojewski-koors gevolg. Nagte, weke en maande lank het ek sy werk gelees en herlees, afgewissel met ’n studie van sy lewe, wat nie minder aangrypend en tragies was as dié van sy groot karakters nie. Eers jare later, toe ek Dostojewski se werk in historiese perspektief kon plaas, het ek besef in watter mate karakters soos Raskolnikof in Misdaad en straf, Stawrogin, Sjatof en Kirillof in Die duiwels, Misjkin in Die idioot, Ivan, Dmitri en andere in Die Karamazof-broers, die groot dilemma van Dostojewski se tyd weerspieël het: die mens wat vasgevang is tussen die argetipes van die supermens en die Messiaanse mens – ’n kardinale faktor in die geestelike skeiding tussen die Ooste en die Weste. Wat konsep, opset en noodwendigheid betref, kan Dostojewski se werk as tragedies bestempel word wat die Russiese mens voor ’n wesenlike probleem te staan bring. Sy hoofkarakters is draers van die soewereiniteit van die rede, en hulle lewens word in gebrokenheid gedompel deur die innerlike stryd tussen die gees van die Ooste en die nuwe gees van die Weste.
Dostojewski se siening van die konflik tussen die rede en vryheid word aangrypend weergegee in Aantekeninge uit die ondergrondse. By die lees van dié werk het ek so sterk onder die indruk van die probleem van die enkeling, die buitestaander of uithuisige figuur gekom, dat ek op grond daarvan ’n magisterstudie aangepak het oor vryheid as ’n fundamenteel eksistensiële prinsipe soos aan die orde gestel in Aantekeninge uit die ondergrondse. In daardie stadium het die eksistensiële probleem reeds neerslag gevind in Gannavlei (1958) en Die son struikel (1960). Ek beskou Dostojewski geensins as ’n eksistensialis nie, maar ek onderskryf Walter Kaufmann se siening: “I can see no reason for calling Dostojevskij an existentialist, but I do think that Part One of Notes from Underground is the best ouverture for existentialism ever written.” Friedrich Nietzsche, onbetwiste argitek van eksistensiële denke, erken Dostojewski se invloed, met besondere verwysing na Aantekeninge uit die ondergrondse.
Die lees van Die duiwels, Die idioot en Die Karamazof-broers kan ek beskryf as ’n volgehoue proses van intellektuele en geestelike suiwering. Dostojewski se boeiende ontleding van die Russiese psige begelei as ’t ware sy beskrywing van die Messiaanse mens uit die Ooste. Raskolnikof beliggaam die ideaal van die soewereine mens; Stawrogin en andere in Die duiwels verkondig die ideaal van die magstaat. Hierdie karakters is nie tot berou in staat nie, en uiteindelik wreek die gees van geweld hom op sy voorstanders. Soos reeds aangedui, was Machiavelli en Nietzsche in die gedagte teenwoordig by die lees van Misdaad en straf. In die geval van Die duiwels was dit die figuur van Karl Marx, vader van ateïstiese sosialisme en profeet van die hemel op aarde, wat opgedoem het. In historiese perspektief beskou, het Dostojewski in Die duiwels ’n blik gewerp op die tragiese verband tussen die koud-rasionele inhoud van die Westerse denke en die brandende begeerte by die Messiaanse mens om te glo. In sowel Misdaad en straf as Die idioot triomfeer die Messiaanse mens.
As kind is ek geboei maar ook in ’n mate ontstel deur die Bergpredikasie (1933-vertaling), in die besonder die vers in Matteus 5: “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” Ware begrip vir dié woorde het jare later gekom met die lees van Die idioot. Dié verhaal het my dae lank laat loop en dink aan die geheimenisse wat in die siel en verstand opgeroep is van dié man-na-die-beeld-van-Christus wat as ’n idioot beskou is, maar wat in sy kinderlike onskuld en vertroue – miskien ook as gevolg van die epilepsie wat hom telkens na ’n hoër vlak van innerlike kontemplasie voer – die simbool van die wedergebore mens geword het. Die invloed van Misjkin op die ander karakters, insluitend ’n moordenaar en ’n histeriese courtisane, asook andere op die drumpel van waansin, het my by die eerste deurlees verstom. Deur liefde en begrip lei hy hierdie verlore siele op ’n soektog na die waarheid. Die boodskap is duidelik: Nederigheid en lyding kan die mens tot herrysenis lei.
Die Misjkin-tema keer in Die Karamazof-broers terug. Dié verstommende werk het ek aan die einde van die eerste Dostojewski-leeskoors ter hand geneem. Ek moes die boek ’n paar keer lees om perspektief te kry op die inslag van ’n prosawerk soos ek nog nie tot in daardie stadium gelees het nie. Ek het as ’t ware deel geword van ’n universum van denke, menslike lyding, tragedie en verlossing – alles in ’n enkele bewussynsoomblik vasgevang. Dit was inderdaad ’n roerende en openbarende ervaring. Ek beskou Die Karamazof-broers steeds as een van die grootste prosawerke van alle tye. Ek het algaande begryp dat dié werk alles beliggaam wat Dostojewski die denker sy eie gemaak het. Soos iemand dit gestel het: Die Karamazof-broers is die bergpiek waarvandaan die organiese eenheid van Dostojewski se hele skeppende lewe oorskou kan word.
Die uitgawe van Die Karamazof-broers in my besit bevat as epigraaf die woorde van Johannes 12, vers 24: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug.” Tydens die leesproses het dié woorde my bygebly, en hulle verwoord waarskynlik Dostojewski se nalatenskap. Al die swaar wat Dostojewski moes ly, alles wat hy geskryf het, wil ’n mens met Motsjoelski laat saamstem dat Dostojewski ’n plek verdien naas Christenskrywers soos Dante, Pascal en Milton. Hy is die profeet van die lewende mens, van vryheid, nederigheid, selfverloëning en wedergeboorte van die mensdom.
Die meeste skrywers van die jare sestig was ernstig gemoeid met die probleem van die buitestaander (outsider), veral onder die invloed van Franse skrywers soos Sartre en Camus. In my geval was dit Nietzsche en Dostojewski. In Die son struikel is God vir Diederik dood soos hy vir Nietzsche was in die magstaat van Bismarck. En Diederik se sterwe in sy soeke na God is in wese sy wedergeboorte. Aantekeninge uit die ondergrondse het my eie beeld van die afgeslote, uithuisige mens wat oorhoops is met homself en met die wêreld, as ’t ware gevoed. Dostojewski se “man onder die vloerplanke” worstel met die rede en met vryheid, vasgevang in die rasionalisme en meganistiese denkwyses van sy tyd. In Die moeder (1965) is die naamlose man in gevangeskap aan die worstel met die mag van die wetenskap (die atoombom), dekadensie en verwording wat sy verwoeste wêreld gedryf het.
Dostojewski se ondergrondse wese is nie in geskiedenis of die wetenskap geïnteresseerd nie. Hy redeneer onder meer dat wanneer geloof in die wetenskap en die suiwer rede tussen die mens en vryheid staan, isoleer dit die mens van homself. Vir hom is die menslike bestaan in wese ’n moeisame proses waarin vryheid die grondslag vir selfverwesenliking vorm. Op die keper beskou is Aantekeninge uit die ondergrondse ’n geloofsbelydenis, terwyl in Misdaad en straf, Die idioot, Die duiwels en Die Karamazof-broers die vryheidsprinsipe tot lewe kom, telkens in ’n ander wêreld. Uiteindelik, volgens Dostojewski, regverdig die vryheid om te kies – wat dikwels ’n skrikwekkende keuse is – nie slegs die bestaan van die mens nie, maar ook die bestaan van God.
Bibliografie
Berdjajew, N. 1947. Het Russische denken in de 19e en 20e eeuw. Aspecten en perspectieven, vertaal deur S van Praag. Amsterdam: De Besige Bij.
Blignault, A. 1991. ’n Skrywer deur al die kringe van die hel. Insig, Oktober.
Dostojewski, FM. 1949. Diary of a writer, vertaal en geannoteer deur Boris
Brasol. Londen: Cassell.
—. 1950. The Brothers Karamazov, vertaal deur C Garnett. New York: Random House.
—. s j. Schuld und Sühne, vertaal deur Michael Grusemann. Berlin: Wegweiser.
—. 1953a. Devils, vertaal deur Magarshack. Londen: Penguin.
—. 1953b. The idiot, vertaal deur E.M. Martin. Londen: Everyman.
—. 1957. Aantekeningen uit het ondergrondse, vertaal deur Hans Leerink, Amsterdam: Van Oorschot.
Kaufmann, Walter. 1956. Existentialism from Dostoevsky to Sartre. New York: The World Publishing Company.
Louw, NP Van Wyk. 1937. Die halwe kring. Kaapstad: Nasionale Pers.
Schubart, W. s j. De komende Europeesche mensch, vertaal deur WJ Merckens. Haarlem: De Librije.
Van Niekerk, Dolf. 1965. Die moeder. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Van Niekerk, RJ. 1967. Vryheid as fundamentaal-eksistensiële prinsipe in “Aantekeningen uit het ondergrondse” van FM Dostojewski. MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria.
Wilson, C. 1956. The outsider. Londen: Gollanz.


Kommentaar
Baie dankie, dr Van Niekerk - u stuk bied besondere insig in die werk van Dostoevsky, en hoe die oeuvre, skrywer en konteks inmekaar sit. ‘n Verstommende lewenslange passie waarvan hier uitgepuur in enkele paragrawe die buitelyne sigbaar word. Dankie vir die moeite om dit op te skryf en te deel .Dis ‘n merkwaardige geskiedenis - die uwe soos die syne ...