jy kom op die dag
toe die heuningvoëls
om die donker botsels
van vuurpyle tros
die kleurmense van die Kaap
dra aronskelke
oor 'n treinspoor
soos langsteelkerse in die nag
jy tree die vleipad na ons af
jou voete twee skutblare
jou bene stingelsag
ek herken jou van ver
roep vuurling vuurling
die lelies brand hul fakkels op jou koms
'n hegrank klou en word gesnoei
kyk hoe die bloedblom vir jou bloei
jy kom in die koelheid van Augustus
in wolke stuifmeel in stormwind
selfs die ritsel van wimpers oor wange
profeteer 'n magtige vlammereën
welbekende seun
'n leeftyd lank groei jy voort
uit water en geseënde saad
maar hoe ek dié vroeglente
gaan verwoord
dit weet digter alleen
Uit: woud van nege en negentig vlerke, Tafelberg, 2009
Hierdie gedig is deur Herman van den Bergh getoonset. Klik hier om die toonsetting in MP3 af te laai.
Besoek Carina Stander en Herman van den Bergh se webwerwe.

