Vars lug
Ek neem ’n teug:
Bedrog, babavloed en bedelary
wat my longe vul.
Wat word van ons regering?
Valse ministers en
valser adjunkte
bedien bedagsaam
die dronk gemeenskap
met ’n blommende bord bedrog vir:
oggend-, middag én aandete!
G’n word vervolg,
want selfs die gereg het g’n gewete;
maak die res van die nasie vergete.
’n Beneukse bom wag om te bars.
Die bloed sal bedek word
en bloedplaatjies begin swoeg.
Ons regering:
bemanning van ons blommelandboot
wat ’n tydbom vertroetel.
Wat word van ons jeug?
G’n meer waardes of betekenis aan lewens.
Meisie, seun, bonkig of gebou,
maak nie saak nie,
dra by tot babavloed,
liefde, lewe verlore.
Die babavloed wat ons jeugskip oorspoel
vernietig die brûe na ons
beplande loopbane,
dubbelverdiepingwonings.
Ons jeug:
bestem om brood en botter te bedel
Wat van ons bedelaars?
Benerig, buigend, bedelend
kom bedelaar na kombi:
two bob, five bob of even ten bob
virre brood, brother.
Beste besigheidsboffins
beweeg bakhand verby beroemdes.
Ons bedelaars:
baar baba’s en voer
die regering met belasting
van bunnychows en bokswyn.
Ek neem ’n teug:
bedrog, babavloed en bedelary
besoedel my wankelende longe.
![]() |



