Varenka Paschke oor die lewe van ’n kunstenaar en haar nuwe solo-uitstalling: ’n onderhoud

  • 1

Kunswerk deur Varenka Paschke (Foto: verskaf)

Varenka Paschka is ’n kunstenaar wie se volgende uitstalling op Woensdag 3 April by die Breytenbach-galery in Wellington open.

Sy praat met Naomi Meyer oor wie sy is en oor haar kuns en inspirasie.

Varenka Paschke (Foto: verskaf)

Varenka, wie is jy en waarom skep jy kuns?

Ek het in 2001 klaargemaak by die Michaelis School of Fine Art by UK (UCT).

Ek het nog altyd tussen skilder en beeldhou beweeg. Ek voel asof ek myself beter in drie dimensies kan uitdruk as in twee, maar ek het ’n gemaklikheid in my eie styl ontwikkel as dit by skilder ook kom, met die gevolg dat ek maklik tussen die mediums van beeldhou, skilder en teken beweeg.

Ek het nog altyd dinge gemaak vandat ek klein was: Ek was die een wat die pophuis gebou het met regte liggies (gekoppel aan batterye) daarin, asook die een wat die bende-“dens”/-skelms uit takke gebou het.

Dis soos ’n diepgesetelde drang wat moet uit! As ek eers ’n idee in my kop kry, moet ek vorm gee daaraan. Ek skep beelde wat na my toe kom in drome, of visies, of sommer net deur iets ge-trigger word ...

Die uitdaging is om my hoër self en my aardse self te laat saamsmelt, en ek voel my werk is ’n vergestalting hiervan.

Wat is jou gunstelingmediums om mee te werk wanneer jy kuns skep?

My mediums verskil en verander van tyd tot tyd. Ek kry idees wat vorm moet kry en dan soek ek die beste manier om hieraan uiting te gee. En as dit beteken dat ek ’n nuwe vaardigheid moet leer om die nuwe medium te leer ken, doen ek dit. Dus werk die proses omgekeerd by my: eers die konsep en dan die medium. Die medium staan in funksie van die idee. By my skilderwerk hou ek taamlik konsekwent by olieverf op doek of op patroonmateriale, miskien omdat die patronen altyd anders is en daar dus altyd ’n nuwe uitdaging is om te probeer vasvang.

.......
Ek kry idees wat vorm moet kry en dan soek ek die beste manier om hieraan uiting te gee. En as dit beteken dat ek ’n nuwe vaardigheid moet leer om die nuwe medium te leer ken, doen ek dit. Dus werk die proses omgekeerd by my: eers die konsep en dan die medium. Die medium staan in funksie van die idee.
.......

In 2020 het ek in Carrara, Italië beland, en het in ’n co-operativo my eerste marmerbeeld leer kerf. Dit was ongelooflik om te sien hoe mens jou eie merk kan maak in klip! Asof ek my eie hand kon uitdruk in steen omdat ék dit kerf. En so neem daai klip al my energie oor ... ongelooflik om dit so te ervaar.

Kunswerk deur Varenka Paschke (Foto: verskaf)

Vertel asseblief vir my van jou volgende kunsuitstalling en waar dit plaasvind.

My nuwe solo-uitstalling kan van 3 April tot 12 Mei in die Breytenbach-galery gesien word.

Die hele uitstalling gaan oor die baarmoeder as sentrale element in ons lewens. Die impak van om een te hê en ook hoe die ontkenning en erkenning van die krag van ons vroulikheid, die bron van alle lewe, ons regeer en bepaal hoe ons in die lewe staan. Almal het te make met ’n baarmoeder. Ons almal kom daaruit en ons verhoudings met ons moeders en geboortes bepaal ons gedragspatrone, lewenspaadjies en besluite. Dis die bron van alle krag van die lewe en dit word (veral in die Weste) grotendeels onderskat.

Kunswerk deur Varenka Paschke (Foto: verskaf)

Waarom kunstenaar wees? Waarom kuns skep?

Ek voel dat die egte doel van kuns is om tyd vas te vang in ’n oomblik. Om tyd te vries! Om sin te maak uit die manie van die alledaagse lewe. Kuns gee mens tyd om te stop, te voel, te dink, te besin. En in dié tydjies wat tyd stilstaan, kom mens se siel tot lewe. Dieselfde effek kry mens aan die ander kant van die proses: Wanneer jy iets maak, gaan jy in ’n tonnel van vloei in en in daardie intieme tye van fokus verdwyn tyd ook.

........
Ek voel dat die egte doel van kuns is om tyd vas te vang in ’n oomblik. Om tyd te vries! Om sin te maak uit die manie van die alledaagse lewe.
........

Om te maak is in ons aard. Die natuur gee konstant vorm aan alles nuut – dis ’n oneindige siklus van skep en skep en weer skep.
En as ons terugduik in ons diepste selwe in, en ons intuïsie volg, is dit ook in ons aard om te skep. Dus as kunstenaar boots jy die natuur na of jy word ’n verlenging van die alreeds bestaande proses.

Kunswerk deur Varenka Paschke (Foto: verskaf)

Kunswerk deur Varenka Paschke (Foto: verskaf)

Beskou jy KI as ’n probleem – as kompetisie? Ek bedoel nou veral in jou hoedanigheid as skeppende en visuele kunstenaar.

KI is soos alle mensgemaakte tegnologie – baie interessant en hulpvaardig, maar leeg van siel en hart. 

Die hart en die brein is ’n tweerigtinginteraksiestelsel wat kognitiewe prosesse uitvoer en met ander dele van die senuweestelsel kommunikeer. Ons harte straal ook ’n elektromagnetiese veld reg rondom ons uit wat almal om ons beïnvloed. Navorsing wys dat verskillende emosies verantwoordelik is vir verskillende patrone in ons elektromagnetiese veld. Hierdie patrone beïnvloed weer ons kognitiewe en emosionele funksies. Alhoewel die hart en brein in twee rigtings inligting uitruil, stuur die hart baie meer na die brein as andersom. Die hart se elektromagnetiese veld beïnvloed ook ons limbiese stelsel wat ons emosies bepaal.

........
KI is soos alle mensgemaakte tegnologie – baie interessant en hulpvaardig, maar leeg van siel en hart. 
........

 

En aangesien ons harte dus eintlik agter die stuurwiel van ons lewens sit eerder as ons breine, dink ek nie dat KI egte kuns se plek kan oorneem nie. Dis soos die verskil tussen marmer wat deur ’n robot gekerf is en marmer wat deur ’n mens (selfs al is dit met kraggereedskap) gekerf is. Ons sit ons energie oor in daai marmer en die klip straal dit uit! 

En wat is die definisie van egte kuns? Dis iets wat jou emosioneel kan roer! 

Kunswerk deur Varenka Paschke (Foto: verskaf)

Kunswerk deur Varenka Paschke (Foto: verskaf)

Kunstenaarsverklaring

Ons bron, ons oorsprong 
Ons broeikas
Ons heilige houer, die skoot van alles
Ons plek van bonatuurlike ekstase 
Ons toegang tot vryheid
Ons mees onderskatte plek
Ons swakheid en ons grootste, grootste kwesbaarheid 
Ons portaal na ander wêrelde en woorde wat geruisloos die sprankel van sterre uitspreek
Ons plek van ekstatiese plesier 
Plek van misterie, intimiteit en konneksie
Ons hemel 
Ons hel
Ons plek van goddelikheid 
Ons plek van skaamte 
Ons plek van skoonmaak en leegloop
Die plek waar man en vrou saam tuiskom soos twee pole van twee magnete wat ’n geheel vorm in kosmiese ontploffings
’n Plek van towerkrag en alchemie
’n Plek van lewe gee, van oerkrag en -weë
’n Magiese plek wat ’n vrou in staat stel om haar aardsheid te ontstyg ?
Ons plek van weerloosheid en vreesloosheid
Ons plek van oorgawe, sonder pretensie, sonder beheer
Ons aarde, ons terracotta 
Ons sagte, fluweelsagte krag!

Hierdie uitstalling en werk is opgedra aan Juanita Kotzé, my flambojante, rooikop, vlamvrouvriendin wat skielik in 2022 die aarde vir die hemel verruil het.

Our source, our beginning 
Our incubator 
Our sacred barrel, the lap of all
Our place of heavenly ecstasy 
Our weakness and our greatest vulnerability 
Our ticket to freedom
Our most underrated place
Our portal to other worlds and words spoken on traces of stars rather than on syllables
Our place of pleasure and treasure 
Our place of mystery, intimacy, connection 
Our heaven
Our hell 
Our place of cleansing and emptying 
Our place of divinity 
Our place of shame
The place where man and woman come together like two magnets finding their whole in cosmic explosions
A place of miraculous powers and alchemy 
A place of giving life, of primal power and emotional charge
A magical place which enables ascension from earthliness 
Our place of defencelessness and fearlessness 
Our place of surrender without pretence, without control
Our earth, our terracotta 
Our soft, velvety soft force! 

I dedicate this work and exhibition to Juanita Kotzé, my flamboyant, fiery redhead friend who in 2022 suddenly left the earth behind for the heavens. 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top