
Foto: Canva
Vanselfsprekend
Dis ’n jammerte dat ons
deur hierdie alledaagse
mal gejaag na niks
so nalatig vergeet
wat eintlik belangrik is
en ons seëninge
as vanselfsprekend ag;
soos die liefde
wat ons geliefdes
teenoor ons betoon,
die eenvoudige gebare
waarmee hulle ons
immerdeur beloon;
die klein dingetjies
en edelaardige dade
waarvan ons die waarde
so graag onderskat,
tesaam met elke asemteug
wat ons – soms ondankbaar – net vat.

