Vanself ... soos asem - Amanda Strydom

  • 0

"Van God."

Net dit. Nie 'n rasionaliserende relaas oor hoe haar bipolêre depressie 'n klomp energie laat loskom soos Thomas Moore in sy Care of the Soul beweer met depressie gebeur nie. Nee.

"Van God."

Van Hom, sê Amanda Strydom - nie Amandla Strydom of Miss Mandy of Die Diva of die wat-ook-al nie - kom al haar energie vir die skepping en vertolking van 'n lied.

"Een of twee sinne sal by my begin spook. Ek skryf hulle vinnig neer, anders vlieg hulle weg." 'n "In-gewing" kan 'n mens dit seker noem en nie, beklemtoon sy, die een of ander Muse nie.

Dan skop haar gedissiplineerdheid in.

"Ek hou aan skryf en kap en beitel totdat daar 'n struktuur staan wat 'n mens kan komponeer. Die inhoud is vir my die essensie; die musiek die raam wat dit moet komplementeer. Dan los ek die liriek. Soms vir 'n dag, soms vir 'n paar maande. As ek dit ná afstand van tyd weer lees, beitel ek verder tot ek tevrede is. Alle foefies en dwangrym moet uit. Dit moet vloei. Soos gedagtes."

En wanneer sy werk, wérk sy.

Liriek skryf is vir haar "die hardste werk", al gebruik sy soms ander liedskrywers soos Stef Bos se werk as "brugtekste" of as vertolkingsuitdagings, soos met Brel.

In 'n voorlopergesprek ná 'n optrede op Rosendal in die Oos-Vrystaat het sy dié proses "moeilik" genoem en gesê sy werk "in isolasie". In haar ateljee in die stad. Skryf en kap en beitel en slyp ís wérk.

Dan kom haar pianis, Janine Neethling, by en saam toonset, oftewel komponeer, hulle die lied, waarna Janine dit vir orkes verwerk en die opname gemaak word.

"Ek weet instinktief of iets werk of nie werk nie. En ek vertrou my instinkte 100 persent. Dis hoe ek werk. Ek skryf alleenlik dit wat ek ken."

En die produk is telkens alom oorspronklik en gewis nie "kommersieel" nie, of dit nou 'n enkele lied in watter styl ook al is, of 'n stuk diggeweefde eenvrou-musiekteater.

"Ek het nog nooit my siel verkoop nie. En as ek myself verveel, hoeveel te meer nog die arme luisteraar. Op my Nederland-toer het 'n lig in my kop aangegaan: ek het opnuut respek vir my kuns gekry ... ek dien my kuns en vernuwe my konstant."

Geantisipeerde gehoorreaksie as sodanig gee nie vir haar die deurslag wanneer sy skep of vertolk nie. En, tog, skielik is jy daar. In die kollig op die verhoog: Amanda Strydom. Met 'n teenwoordigheid wat die ganse ruimte vul.

Jy word asof uitgelewer ingetrek en deur Amanda se "instinktiewe vertolking" op reis geneem saam met haar ... 'n naatlose vertolking gebore nie uit ritse repetisies nie, want vir haar "kom dit vanself ... soos asem".

Ingetrek in elke woord, sinsnede en frasering, elke ademende gebaar en infleksie en stilte. In in elke stilte van die groot geheel in. En julle reis. Na binne. Saam.

"Ek nooi die gehoor om te deel in 'n emosionele reis."

In die stad, op die platteland en in die buiteland wéét die kykende, luisterende, meelewende en meegesleurde gehoor elke oomblik dat Amanda die gedagtes en emosies kén wat sy oordra. Kuns, kunstenaar en gehoor voer gesprek. En dié gesprek eindig nie by die uitstap uit die lokaal nie.

"Ek staan naak op die verhoog. Ek is rou en eerlik, gestroop van alle foefies, gestroop van indulgence, onverbiddelik eerlik. Ek het iets om te sê, iets om te deel. Ek wil die gehoor se persepsie verskuif. Hulle moet 'anders' daar uitstap ... nuwe mense."

En die vertoning is verby. Jy stap uit. Jy. Die res van die gehoor. Ook Amanda. Almal inderdaad "anders".

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top