Foto: Canva.com
vanmiddag krap
vanmiddag krap die bolug
die wind se hare deurmekaar
ry die verwarde wolke holrug
soos ’n sinkplaatgrondpad
dwarsoor die lankmoedige landskap
van die Bo-Karoo se vaal
regoor die veld se gepotmerkte rug
ek weet nie meer met sekerheid
waarheen hierdie hemelweg lei nie
ek hoop hy bring my veilig huis toe
na ’n lang, vermoeiende dag
wat my hier benede
onnodig rondgeruk het
my behoorlik blikners gery het
sodat die salpeter wit
op my flanke uitgeslaan het
Kommentaar
Pragtige, ware woorde. Almal voel van tyd tot tyd so. Dankie, Willem.
Pragtig - waardevol
O ja, ek kan baie dae hiermee assosieer. Jy het dit pragtig beskryf, Willem.
Dis nou die mooiste wat iemand nog ooit gesê het dit was 'n k@k dag! 😉
Ja, swaer.