Van sand het ons gepraat

  • 0

oor sand het ons gesels …
         
ons het die weerstand van skulpe verpletter, ons het gepraat oor versonke stede,  gebroke amforas, ondergrondse bewegings van sand; gepraat oor die verval in vergetelheid van erbarmlikhede, oor blootse voetspore … ons het nie vergeet van die wandelhoofde van hout, dooie stormwindlampe, geroeste ankers nie … ons het die ligvlekke op die maan wat in die see weerspieël word, ook bygehaal, oor Venus gepraat, die glorieryke liefde van die nag, en ander dinge …
        
want die wyn had ’n goedheid, die liefde van tydeloosheid, en die dolfyn ’n wysheid … ons het dit gesê, noudat die speeltros losgebind is, noudat ons die stuurroede van ons dae hersien het ... het ons gesê ... laat ons praat ...
        
so praat hét ons ...
        
ons het nie na stervisse verwys, na helderglinsterend gestreepte vis of die ligsinnigheid van wiere nie, die diepe slaap van jellievisse op die sand … ons het die spoelklippies oor die hoof gesien, die teervlekke, die reuk van gebrande olie … ’n verbaasde inkvis was in ons nette vasgekeer; maar ons het net gepraat ...
        
oor delikate dinge ...
        
oor sand …

 

  • Poem by ?lyas Tunc, translated into Afrikaans by Charl-Pierre Naudé

[Die gedig kom uit die Turkse digter ?lyas Tunc se manuskrip wat die 2008 Ceyhun Atuf Kansu Poësietoekenning verower het.  Die volledige manuskrip is deur ?lyas Tunc en die Suid-Afrikaanse digter Robert Berold in Engels vertaal. Die gedigte toon iets van die Mediterreense surrealisme van die Odusseus Elytis.]

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top