Van Riebeeck-penning uitgereik vir vertaalwerk

  • 0
'n Verheugde Riet de Jong-Goossens na ontvangs van die Van Riebeeck-penning in Amsterdam.

Op Saterdag 21 April, is die Van Riebeeck-penning in Amsterdam aan Riet de Jong-Goossens toegeken. Goossens het al meer as vyftig Afrikaanse romans in Nederlands vertaal. Hierdie penning van die Nederlands-Zuidafrikaanse Vereniging (NZAV) word net uitgereik in die geval van ’n buitengewone en langdurige bydrae aan die kulturele en taalkundige betrekkinge tussen Nederland en Suid-Afrika. Verlede jaar was Adriaan van Dis die wenner.

In 2010 het Goossens die Marthinus Nijhoff-prys gekry vir haar vertaling van Marlene van Niekerk se romans. Sy het ook talle ander Afrikaanse skrywers met groot sukses vertaal, byvoorbeeld Dan Sleigh, EKM Dido, Annelie Botes, Riana Scheepers, Ingrid Winterbach, AHM Scholtz en Karin Brynard. Goossens word daarvoor geprys dat sy altyd nougeset en diensbaar aan die teks bly. Sy kan vinnig en onder druk vertaal. Vir Goossens is Afrikaans “een wereld ongelofelijk lijfelijk zweterig en ongerijmd”. Sy is ook ’n gewaardeerde redaksielid van die Maandblad Zuid-Afrika. Dié tydskrif lê haar na aan die hart.

Ena Jansen en Riet de Jong-Goossens

In haar redevoering het Ena Jansen vertel van haar ontmoeting met Goossens in Johannesburg in 1992. Goossens was toe besig met die vertaling van John Miles se Kroniek uit die Doofpot. Jansen se kat moes blykbaar ’n sterk aanvoeling gehad het vir die besoek van die grootste katteliefhebber uit die noordelike halfrond en het met Goossens kom kennis maak. Haar verheugde uitroepe “poes, poes!” het die Afrikaanse lagspiere onbedaarlik gekielie. So het Goossens ook kennis gemaak met Marlene van Niekerk.

Vandag moes die Van Riebeeck-penning miskien liewers die Eva Kretoa-penning genoem word, het Jansen voorgestel. Hierdie jong diensmeisie aan huis van Jan en Maria van Riebeeck in die Kaap was as soebatster en flikflooister deeglik bewus van haar posisie tussen haar eie mense en die vreemde Westerlinge. Die aansluiting tussen die werk van ’n diensmeisie en die werk van ’n vertaalster weerklink vandag pragtig in die nederige e-pos-adres van Goossens. Enkele minute later het Goossens dit in haar dankwoord bevestig.

Tydens ons gesprek in die vergadersaal van die Koninklijk Instituut voor de Tropen (algemeen bekend as die Tropenmuseum) verduidelik Goossens waarom juis Agaat haar uitdagendste vertaling was: “Agaat was die moeilikste. Daar kom soveel registers in voor. Vier verskillende stemme uit vier verskillende periodes telkens deur ’n ander persoon in totaal ’n ander styl: dít maak die vertaalwerk kompleks. Die probleem van die vertaler is dat jy die styl moet handhaaf. ’n Verdere groot probleem tussen Afrikaans en Nederlands is dat Nederlands baie meer grammatikale tydsvorme het as Afrikaans. Ek is daarin opgelei. Tyd is vir my baie belangrik. Agaat is geskryf in die teenwoordige tyd van die hoofkarakter, Milla, én in die verlede tyd – wanneer Milla terugdink aan Agaat se kindertyd en haar eie rol daarin. Die verlede tyd kan in ’n Nederlandse vertaling verskillend aangepak word. Waar daar byvoorbeeld in Afrikaans gesê word: ‘Ek het geëet’ kan daar in Nederlands van ‘Ik heb gegeten’ nog ’n stap verder teruggegaan word na ‘Ik had gegeten.’ Dialoog is natuurlik altyd in die teenwoordige tyd. Milla se dagboeke, subtiel sarkasties voorgelees deur Agaat, was ’n derde styluitdaging. In hierdie gedeeltes is letters uitgelaat. Die taal is byna stenografies. Die kursiewe gedeeltes waarin Milla se gewaarwordinge van haar eie liggaamlike aftakeling voorkom, was vir my die ontroerendste. Hier is die taal pure liriek: sonder leestekens, sonder punte en kommas, sonder hoofletters – in één stroom. Ek moes dus hierdie stukke hardop vir myself voorlees en besluit waar daar punte moes inkom. Vervolgens moes ek op soek gaan na ’n ekwivalente Nederlandse ritme wat die Afrikaanse ritme reflekteer.”

Eggenoot Jacques de Jong neem die boeket oor van sy vrou, Riet Goossens. Sy staan met die Van Riebeeck-penning en 'n eksemplaar van die jongste Maandblad Zuid-Afrika.

Tydens die skemerkelkie na afloop van die prysoorhandiging het ek die voorreg gehad om ’n onderhoud met Goossens te voer.

Agaat was u moeilikste vertaling, maar watter boek het u met die meeste plesier vertaal?

Elke boek wat op my weg kom, vertaal ek met ontsettend veel plesier. Die een boek is die plesier van die probleem (die moeilike) en die ander boek is die plesier van die maklike, dat dit vlot gaan. Alle boeke wat ek vertaal het, het ’n goeie inhoud gehad.

Binne die wêreld van vertalers is daar ’n skeiding tussen streng vertaal en vry vertaal, ook soms hertaal genoem. Waar plaas u uself op hierdie skaal?

Ek weet dat daar tans ’n diskussie is dat vertalers hulle eie stem mag laat hoor, maar dis nie my opvatting nie. Ek vind dat vertaling ’n dienende funksie het. Dit is my plig om die skrywer so getrou as moontlik weer te gee via die Nederlandse teks. Die boek moet lekker lees. Ek lees altyd hardop vir myself.

Een van die Afrikaanse Sestigers het jare gelede gesê dat om ’n vertaling te lees, is so goed as om jou geliefde deur ’n sakdoek te soen. Wat dink u van so ’n uitspraak?

Hy’s gek. As jy die Nederlandse vertaling van ’n Afrikaanse teks lees, is dit so goed jy soen jou geliefde direk op die mond. Vertaling is geen tweederangse tydverdryf nie. In boekwinkels is daar vertaalde werk uit die gekste tale: Hongaars, Turks, Sweeds – en ons het hulle almal vertaal. Vertaling is ’n kuns, of miskien moet ek sê ’n kuns-ambag.

Onlangs het NRC-Handelsblad ’n artikel gepubliseer oor taalstudies wat aan universiteite opgeneem word in breër studierigtings, soos Literatuur en Samelewing. Wat dink u daarvan?

Dis verskriklik! Ek het self ’n deeglike opleiding van sewe jaar lank gehad met baie taalkunde. Taalkunde is essensieël vir vertaalwerk, maak nie saak in watter taal nie. Hoe sou ek byvoorbeeld so goed met die verskillende tydsvorme kon omgaan sonder ’n begrip van die konstruksie van ’n taal? Elke vertaalkursus sou ’n jaar taalkunde moes insluit. Ek merk die voordeel wat ek daaruit het.

Op my slotopmerking dat mens ook baie deursettingsvermoë moet hê om so lywige roman soos Agaat aan te pak, reageer Goossens vrolik. “Agaat was een genot.” En dan vertel sy hoe sy op 1 Januarie ’n lêer op haar rekenaar geskep het met die voorneme “morgen begin ik echt” en klaar gemaak het op 1 Oktober.

Lees Ena Jansen se lofrede vir Riet de Jong-Goossens.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top