Van ’n tegnologiese moontlikheid tot ’n ryke leergeleentheid: die opvoedkundige waarde van wetenskapsfiksie

  • 0

Science fiction can be used as an imaginative forum to focus on the relationship between science, culture and society. (Brake en Thornton 2003)

Die gebruik van kinderliteratuur in wetenskaponderrig blyk ’n al gewilder onderrigstrategie te wees. Dit is waar wetenskapgeoriënteerde boeke binne ’n leerprogram gebruik word wat lees, skryf en praat binne ’n aktiwiteitsgebaseerde omgewing behels. Die konsep van effektiewe wetenskapsonderrig het dus gegroei in die aanmoediging van ondersoek- en ervaringsgedrewe leer. Kinders behoort sodoende ’n beter begrip van die wetenskappe te vorm. Die vraag kan nou gevra word: Waar, binne hierdie scenario, laat dit die wetenskapfiksie- (WF-) genre?

Volgens Julie E Czerneda (2006:39) het die term wetenskapfiksie ’n sinoniem in die media geword vir enige wetenskaplike ontdekking wat net te vreemd of onverwags is vir die niewetenskaplike om te glo. Tot die ontsteltenis van menige wetenskaplike, reken sy, want die fiksie-element in die konsep etiketteer WF as met opset vals en misleidend, en dit terwyl goeie WF se wetenskap dikwels eerder baie ernstig opgeneem behoort te word. WF is immers nie fantasie nie, want dit kan regtig gebeur (Wybenga en Snyman 2005:462).

WF is baie gewilde leesstof onder kinders en jongmense, daarom is dit juis ’n potensiële bron tot leergeleenthede wat deur ouers en onderwysers ontgin kan word. Hier kan ’n mens vashaak by geletterdheidsvaardighede, maar WF bied ook ’n ideale medium vir die ondersoek van wetenskaplike en sosiale kwessies.

Wetenskap as leerarea word dikwels in die media uitgebeeld as vervelig en saai. Dink maar net aan die tipiese voorstelling van die verstrooide professor, totaal afgesluit binne sy eie wêreldjie en met geen sosiale vaardighede nie. Hierdie beeld van wetenskaplikes en die wetenskap as sodanig kan by kinders die persepsie skep dat dit ’n uiters oninteressante veld is, een waarin hulle hulle nie wil begewe nie, en dit terwyl ons in Suid-Afrika juis ons jongmense in hierdie rigting wil aanmoedig, aangesien prestasie in wiskunde en wetenskap veel te wense laat.

Volgens Brake en Thornton (2003:153) bestaan daar selfs ’n soort sosiale aanvaarbaarheid van ’n gebrek aan wiskundige en wetenskapsvaardighede, terwyl hierdie twee navorsers wetenskaplike vaardighede as fundamenteel tot betekenisvolle deelname binne ’n demokratiese samelewing ag. Hulle reken voorts dat ons in ’n wêreld leef waar daar ’n diepe afhanklikheid van wetenskap en tegnologie bestaan en iemand wat geen wetenskaplike kennis het nie, kan dus nie deel wees van enige ingeligte besluitneming binne sy gemeenskap nie.

WF kan kinders se kommunikasievermoëns en kritiese denkvaardighede ontwikkel deur byvoorbeeld klasbesprekings oor verskillende temas binne die verhaal/verhale te hou. Dit sal leerders noop om kreatiewe, kritiese denkers te wees. Dit sal hulle ook leer om te let op die verband tussen WF en hedendaagse kwessies. Deur die tekste te ondersoek en relevansie te vind kan kwessies oor die toekoms van die mens op aarde, byvoorbeeld ekologiese kwessies, aangespreek word.

Die hoofoogmerk van WF is om idees aan lesers te kommunikeer. Hierdie idees moet die vreemde en die bekende byeenbring. Die verbeelding behoort sodoende ’n alternatiewe werklikheid te bring. Daar moet ’n skakel wees tussen dit wat vreemd is en dit wat realiteit is. WF is ’n kragtige kulturele fenomeen wat op ’n verbeeldingryke wyse waarneming en interpretasie van ons omringende wêreld aanmoedig (Brake en Thornton 2003:31).

WF kan vir die leser wys op die potensiaal van wetenskap en tegnologie en aandui hoe dit tot voordeel van die mensdom ingespan kan word, en dit kan maniere uitwys waarop die lewe op aarde verbeter kan word. By die parallelle lees van ’n WF-teks en ’n situasie uit die werklike lewe kan kinders geprikkel word tot ondersoekende vraagstelling oor, en die formulering van, oplossings vir eietydse kwessies.

Daar bestaan vele definisies van WF, maar hulle kom min of meer almal daarop neer dat dit ’n literatuur is wat daarna streef om verbeelding, wetenskaplike kennis oor die werklikheid en die wetenskaplike metode te assimileer. Die gemeenskap, wetenskap en tegnologie word in so ’n mate en op so ’n wyse verweef dat dit betekenisvol is tot menslike bestaan. Die mens word ’n uitlaatklep gebied vir sy angste, onsekerhede en verwarring via die sosiale kritiek en “Wat sou gebeur indien ...?” wat WF beloof. WF is nie profeties nie, dit is eerder ’n kreatiewe en vernuwende aanspreking van komplekse menslike vrae oor ons rol in die kosmos. Hierdie vrae verg ’n verbreding in kennis van ’n verskeidenheid dissiplines ten einde te oefen vir moontlike optrede in die toekoms. Dit is hoekom die realisme van WF dit ’n belangrike komponent binne die opvoedingsproses van kinders kan maak.

In Afrikaans is daar verskeie voorbeelde van WF, waarvan die eerste waarskynlik CJ Langenhoven se Loeloeraai is (Wybenga en Snyman 2005:18). Later volg skrywers soos WA de Klerk, Helena Hugo, Leon Rousseau, Tertia Botha, John Coetzee, Elsa Hamersma, Chris Karsten, Empie Maritz, Martie Preller en Jan Rabie. Nuwer stemme is onder andere Francois Bloemhof, Jaco Jacobs, Fanie Viljoen en Elizabeth Wasserman, laasgenoemde met haar briljante Anna Atoom-reeks. Ons eie taal bied dus ’n ryke bron waaruit ouers en onderwysers kan put.

Hoe kan WF dan nou in ’n besige klaskamer aangewend word?

Dit is moontlik deur wetenskaplike-geletterdheidsaktiwiteite reeds in die klasbeplanningsfase in te werk. ’n Storie word byvoorbeeld voorgelees. Dan is daar leerder-deelname in die vorm van vasvrakompetisies of blokkiesraaisels. Volgens Czerneda is die ontwikkeling van wetenskaplike geletterdheid egter ’n deurlopende proses (2006:41). Daar moet ’n soort denkpatroon en redenasievermoë by kinders ontwikkel word wat hulle ontvanklik sal maak vir nuwe idees en krities bewus sal maak van die gevolge van verandering, sodat hulle gereed vir die toekoms sal wees.

WF is ’n instrument wat met ’n opvoedkundige doel aangewend kan word. Dit kan deelname, die kommunikering van idees, ’n genieting van die navorsingsproses, korrelering en aanwending van data, laterale-denke-vermoëns, kritiese ontleding en sosiale interaksie aanmoedig. Dit kan ook lei tot die ontwikkeling van ander lewensvaardighede, soos goeie begrip, leesvermoë en ’n gevorderde woordeskat.

Die impak van wetenskap op alle lewensterreine van die mens is onteenseglik. Om wetenskap verstaanbaar en genotvol te maak, moet dit relevant gemaak word. Wetenskap moet met ander woorde lewendig gemaak word. Dit is hier waar WF aangewend kan word in die ontvreemding van wetenskap en om ’n brug te bou na openbare bewustheid. WF kan wetenskap uit die laboratorium gaan haal en dit in kultuur inbring (Brake en Thornton 2003:34).

Bibliografie

Brake, M en R Thornton. 2003. Science fiction in the classroom. Physics Education, 38(1).
Czerneda, JE. 2006. Science Fiction and Science literacy. The Science teacher. Februarie 2006.
Griffiths, M. 2009. Dress rehearsal for the future: why science fiction should be part of the curriculum. http://www.lablit.com.
Hamdan, SI ea. 2012. Ideas in Science Fiction: probing contemporary contexts through Science Fiction texts. Asian Social Science, 8(4).
Wybenga, G en M Snyman (samestellers). 2005. Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: ’n gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek. Pretoria: Lapa.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top