Van Muizenberg tot Musina op die rug van ’n muis

  • 0

Vandag abba ek jou. Ja, vir jou wat internasionaal reis asof jy elke weekdag vanaf jou voorstad ’n bus haal middestad toe en terug. Ja, vir jou – besonder goed bekend met reise as letterkunde (insluitende die skitterende versameling uitgegee in hemelstraat as gids vir duimgooi op die melkweg *).

Vandag ry jy op my rug! En ek – kerkmuis? Ek ry op ’n rekenaarmuis se rug – vanaf Muizenberg tot by Musina. Ek wil immers weet wat in Suid-Afrika aangaan. Wil jy?

Nou se prys van petrol verhoed selfs dat ek aan ’n pomp se stank loop snuif, so vergeet van tenk volmaak. En bedelaars kla nie. Ons padkos? Pitkos! Net Pitkos!

Mooi bly, Muizenberg! Hier gaan ons!

Nog voordat ons Plumstead op pad na die N1 haal, neuk armoede ons oë pimpel en pers. Armoede sit nie op hempsmoue nie. Armoede kruip in honger mae en maak moles in bloed en brein. Wie slurp tog gewillig snoekkop-sop? Nietemin skree enorme wit letters geverf op ’n groot swartbord langs die pad: “5 snoekkoppe R10.” ’n Entjie verder vra Die Burger se plakkate: “Is vlieë menskos?”

Naby die M5 wys busbestuurders se staking weer eens: die kultuur van al hoe minder werk vir al hoe meer geld verfoes hierdie land. Die baan vir busse is leeg.  Groepies mense gooi duim. Twee mammies waag hul lewens (en ook dié van hul kleingoed) deur in die pad te staan en te vra vir saamry. Die een dra ’n peuter vasgebind op haar rug, die ander het ’n kleuter aan die een hand en hys haar ander een omhoog met ’n R10 noot vasgeknyp tussen duim en wysvinger, so asof sy  trots ’n vlaggie van onafhanklikheid laat wapper.

Ek wonder luid, sodat jy dit sal hoor: “Tel hierdie twee kleintjies onder die ses tot agt miljoen Suid-Afrikaanse kinders wat tans sonder pa’s grootword?” Dit beteken dat, uit ’n totale bevolking van 47,8 miljoen, nie te veel huishoudings op ’n broodwinner kan staatmaak nie, want te dikwels is “mammie” glad nie opgelei vir werk nie. Kan enige ontwikkelende land sodoende ooit armoede ontgroei?  

Peuter se mammie lyk nes ’n skooldogter. Is sy een van die 94 000 skooldogters wat luidens amptelike statistieke teen 2011 swanger was? Uit Kaapstad-omgewing word swanger skooldogters wat van die Oos-Kaap kom alte dikwels terug huis toe gestuur. Die pa’s is meestal nie skoolseuns nie, maar ouer mans, sogenaamde “sugar daddies”. Hulle is dikwels onderwysers, “stroopsoet” gekonfyt in “doen sonder ophou getroud se lekker ding, sonder ooit lobola te betaal”.  

Links sien ons Duiwelspiek se Rondebosch-aansig. Teen die berghang pryk “’n kamma-Griekse tempel” gewy aan Cecil John Rhodes en sy ambisie van rykdom uit heerskappy van Kaap tot Kaïro in toeka se tyd, toe Afrika se mans nie durf dink aan styf staan sonder om ook pa te staan nie.     

By die M5-N1-wisselaar – groen rigtingswyser Paarl –  draai ons regs. Voet in die hoek deur een van Suid-Afrika se stedelike gebiede. Binne 60 km van sulke gebiede woon 46,5% van Suid-Afrika se 4,6 miljoen werklose mense en 77,31% van hulle moet sien kom klaar met inkomste onder die broodlyn. Dieselfde gebiede maak jaarliks altesame minstens R1 miljard se nie-geografiese waardetoevoegings.

Eerste stilhou: Hugenote-tonnel-tolhek. Geen tolgeld vir ons nie. Ons reis mos nie op wiele nie. Die vraag dring deur: “Gaan onwelkome toepassing van tolgeld bydra tot die val van ’n regering?”

Dubbelrybane slinger langs die Molenaarrivier verby. Dan enkelbaanpad Worcester toe, maar verby na die Hexriviervallei en De Doorns waar die visuele luuksheid van lappieskombers-wingerde in skerp kontras staan met stroke grond wat verbrand is tydens die loonoptrede van Desember 2012. Sommige plaaswerkers is nou slegter daaraan toe as voor die vra van ’n minimum van R150 per dag. Boere doen sedertdien weg met byvoordele wat voorheen verskaf is. Stygende lewenskoste vergoed nie vir verlore byvoordele nie.

Touwsrivier: “Varkkop R25,” luidens die plaaslike slagter se kru wit verf op swart.

Matjiesfontein: anachronistiese oorblyfsel en monument vir die vergange Britse Ryk. Rhodes het Kaïro nie gehaal nie, maar het die Karoo beslis beheer. 

Nou poog Shell om dieselfde te doen met hidrobreking. Lei dié eksperiment na toegang tot ongeveer 300 000 vate aardgas per dag, sonder enige nadeel? Of is dit die begin van armoede deur water op ongehoorde skaal in ’n dorsland te vergiftig?

Laingsburg: daarna 200 km se doodmoeg-doodvrek-gery-pad, diegene wat dit oorleef, ry Beaufort-Wes binne.

“Beautiful, beautiful Beaufort-Wes!” sing die digter-sanger Gert Vlok Nel ewe gemaak-liries in Afrikaans geradbraak met Engels.

In Beaufort-Wes loop die pad hom vas teen ’n besondere groot sirkel en omsingel dit. Op die sirkel is in 1873 ’n tronk gebou. Sedertdien doen dit kastig “doeltreffende” diens, asof ouderwetse tronke Suid-Afrika se misdaad ooit sal hokslaan.

Beaufort-Wes: 37 000 inwoners; twee uit elke drie volwassenes is werkloos. Binne een jaar is 20 mense hier vermoor. Dit staan gelyk aan 60 per 100 000 mense en is bykans tien keer meer as in New York. Beaufort-Wes se moordstatistieke is 20 keer hoër as Londen s’n, en een en ’n half keer meer as Johannesburg s’n (al is laasgenoemde een van die gevaarlikste stede ter wêreld).

Blaaskans. Gaan maak joune hier leeg! Die volgende plek waar die N1 ’n beboude gebied binneloop, is Johannesburg.

Voet in die hoek by Drie Susters verby, in en uit die Noord-Kaap en terug in die Wes-Kaap in, dan Colesberg verby en oor die Oranjerivier. Vrystaat! Noordwaarts – ook verby Bloemfontein en verder.

Voertuie op die pad? Ja, baie! Maar min mense langs die pad doenig met landbou. Die platteland loop die laaste paar dekades leeg. Boerderye verminder met bykans een derde, oorblywendes meganiseer. Al hoe minder mense kry plaaswerk. Werkers verstedelik op soek na werk wat nie bestaan nie en die verval tot armoede kring steeds uit.

Verkeerdevlei Tol Plaza, die tweede van die tien tolhekke op die N1 vanaf Kaapstad  op pad Musina toe. Watter rol speel hulle as presedente in ’n land waar groepe burgers so uiteenlopend soos die Demokratiese Alliansie, Cosatu, die Rooms-Katolieke Kerk en Outa deurgaans tolgeld teenstaan omdat die takslas daarvan te swaar op belastingbetalers druk? Wat is die laaste strooi? 
Vaal Tol Plaza naby Ngwathe (voorheen Parys) en naby Metsimaholo (voorheen Sasolburg) waar Zamdela se inwoners tydens Januarie 2013 kos- en drankwinkels leegplunder en betoog teen saamsmelt met die Metsimaholo-munisipaliteit en Ngwathe-munisipaliteit. Onder meer vrees hulle dat hulle sal verarm as hulle inkomste en voordele uit die Sasol-aanleg met Ngwathe-inwoners deel.                                                                                                                                                                                                                                                                                               
Vaalrivier oorgesteek. Gauteng! Vanderbijlpark dié ry ons mis, maar ons ontsnap nie die rookbelaaide lug nie. Stortings uit talle goudmyne ontsier landskappe langs die pad.
Eens op ’n tyd was ontginning van goud Suid-Afrika se grootste geldmaker. Nou veroorsaak suur mynwater omgewingsprobleme. Beskikbare gouderts het drasties verminder. Winsgewende ontginning is onseker. Boonop kwel vakbonde wat vyandelik tussen mynbase, politici en beleggers wedywer. Uiteindelik dra geweld by tot die afdanking van werkers. Afdankings vererger armoede op groot skaal.
Toringgeboue en torings dui aan: Brixton, Hillbrow, sentrale sakegebied en Sandton. Voet in die hoek op die westelike verbypad deur Johannesburg se westelike voorstede en ook deur ’n klompie in die noorde, deur die Buccleuch-wisselaar. Hier loop 300 000 voertuie per dag.
Dis Centurion verby, deur Tshwane (beteken “apies-rivier”, voorheen Pretoria, onlangs vernoem na die seun van ’n Zulu-leier, Opperhoof Mushi, wat in die 18de eeu ’n nedersetting hier gestig het.)
Snel voort oor platteland wat volgeplant met kos is: onder meer grondbone, sorghum, aartappels. Die  pad omseil Bela-Bela (Tswana vir “die pot wat kook” en voorheen Warmbad.) Die  warmwaterbron hier lewer 22 000 liter per uur teen 52 °C.
Volgende is Modimolle (voorheen Nylstroom). Die deurpad  eindig hier. Die Waterberg se gestalte kruin links van ons op die gesigseinder. Die Bosveld se nabome, apiesdoring, aalwyne en stamvrugte streel die oë.
Mokopane (voorheen Potgietersrus), maar die pad loop verby. ’n Klompie kilometer links van die N1 lê Zebediela. Bykans 400 miljoen lemoene word per jaar hier gepluk. Die opbrengs is genoeg om een lemoen vir elke agtste mens op aarde te gee. Die hele landgoed is hoogs gemeganiseerd en die mees gevorderde tegnieke vir sitrusvrugte kweek ontstaan op Zebediela. Dit bied min werk vir arbeiders.
Dan Polokwane ­– betekenis: “plek van veiligheid” (voorheen Pietersburg). Dit word in 1992 amptelik ’n stad en is die Limpopo-provinsie se hoofstad en die jongste stedelike gebied met te min werk vir inwoners.
Ons druk deur. Oor die Steenbokskeerkring, verby Louis Trichardt en deur twee kort tonnels in die Soutpansberg tot in Musina.
Musina. Suid-Afrika se noordelikste dorp. Die N1-gedeelte wat dit koppel aan Zimbabwe is een van die besigste paaie ter wêreld en die besigste in Afrika. Dit as gevolg van invoer vir markte en van mense. Luidens die New York Times het Musina in Januarie 2009 ’n bewegende bevolking van ongeveer 15 000 buitelanders, waarvan talle in ’n vlugtelingekamp by die dorp se landbou-tentoonstellinggrond of in die dorp se strate vertoef. Hulle kom soek werk in ‘n werklose Suid-Afrika.

* Douglas Adams – The Hitchhiker’s Guide to the Galaxy ­­­­­­­­­­­

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top