Van kleefband na fopnuus

  • 5

.......

‟Oor die afgelope 45 jaar het die werksomgewing vir personeel in die TV-bedryf drasties verander. Ek was reeds in 1975 daar – twee maande voordat amptelike TV-uitsendings in 1976 begin het.”

.......

Hierdie Januarie 45 jaar gelede het televisie in Suid-Afrika begin. En nou staan ons op die drempel van ’n nuwe era waar TV soos ons dit geken het daardie tyd, sal verdwyn. Tegnologie het ’n nuwe digitale wêreld ontsluit. Die tyd toe ’n televisiekanaal kon besluit wanneer jy wat sal sien, is verby. Nou is dit die individu wat self bepaal wanneer, wat en hoe hy/sy toegang tot oudio-beeld sal kry. Die kyker het die keuse om te besluit welke platform hy verkies om na sy voorkeurprogramme of nuus te kyk – op ’n televisiestel, ’n rekenaar of ’n selfoon. Die ou sakeplan van die uitsaaiers is aan die misluk en ’n nuwe, volhoubare plan vir finansiële stabiliteit is nog nie gevind nie.

2021 gaan ’n maak-of-breek-jaar wees vir die televisiebedryf. Eerstens sal die migrasie van analoog- na digitale televisie uiteindelik behoorlik (hopelik) aangepak word – ses jaar laat. Dan kan meer spektrum beskikbaar gestel word aan byvoorbeeld selfoonmaatskappye om internetonderwys tot in die uithoeke van die land beskikbaar te stel. Dink maar net hoe nuttig dit nou met die koronaviruspandemie sou gewees het as die proses reeds in 2015 afgehandel was.

Tweedens het die regering ’n witskrif gepubliseer met ’n nuwe inkomsteplan om alle uitsendings, nie net televisie nie, te lisensieer. Ook vir die individu. Dit vervang dan die TV-lisensie. Alle maatskappye, soos Netflix en Showmax, wat materiaal per internet stroom, sal vir uitsaairegte moet betaal. Daarby moet hulle 30% plaaslike materiaal lewer. So ’n nuwe bedeling kan glo help om die sukkelende staatsuitsaaier, die SAUK, te help finansier.

Aanvanklik is die SAUK 100% deur TV-lisensies gefinansier. Deesdae betaal minder as ’n kwart van die kykers hulle TV-lisensies. Na net enkele jare moes die SAUK as openbare uitsaaier toe deur advertensies sy inkomste aanvul. Die huidige algehele bedryfskoste van die SAUK is sowat agt miljard rand en die totale advertensiekoek is ses miljard rand. So selfs al sou die SAUK die hele koek vat, sou dit nog nie genoeg wees nie. En dis die hoofbron van die SAUK se inkomste. Die somme werk nie. Dit blyk dat die staat minstens ’n deel sal moet betaal. ’n Nuwe model is nodig, en dit is in die witskrif vervat. Die publiek kan nog tot Februarie kommentaar daarop lewer.

Oor die afgelope 45 jaar het die werksomgewing vir personeel in die TV-bedryf drasties verander. Ek was reeds in 1975 daar – twee maande voordat amptelike TV-uitsendings in 1976 begin het. In die nuuskantoor is ek ingedeel as die junior by een van die twee Afrikaanse skryfspanne. Ons moes prakties leer hoe om ’n nuusbulletin saam te stel en uit te saai. Daar was niemand op die Afrikaanse skryfspanne, of onder die joernaliste in die veld, wat enige ervaring in televisie gehad het nie. Die meeste het van radio gekom, en ander, soos ek, van die koerante.

Ons het elke Donderdag ’n proeflopienuusbulletin opgeneem asof dit ’n lewende uitsending sou wees. Ons voorbereiding vir die uitsending het al op die Maandag begin om die regte stories te kies met die nodige film en grafiese werk daarby. Teen die einde van die bulletin, so teen 20:30 op die Donderdagaand, het dit gevoel asof ons ’n maraton gehardloop het.

In die praktyk het ons weens die aard van die tegnologie ’n paar uitdagings gehad. TV-nuus sonder die toepaslike visuele inkleding is eenvoudig nie TV nie. Ons het ons internasionale film gekry van ITN of Visnews in Londen. Dit was in so ’n groot ronde aluminiumhouer verpak. Dis op gewone internasionale vlugte versend. Daar was gewoonlik so tien rolletjies 16 mm-film in die houer. Dit het gehandel oor internasionale stories van so twee tot drie dae vantevore – van arbeidsonrus in Brittanje tot ’n busramp in die Pandjab, Indië. Ons span het saam na die film gekyk op ’n Steenbeck-redigeertafel. Dit was nogal ’n gedoente om die film netjies oor al die rolletjies van die masjien te ryg.

.......

‟Daarna moes jy met die hulp van ’n operateur jou storie redigeer. Die redigeerder moes letterlik die film knip. Dit word dan in stroke met wasgoedpennetjies in volgorde aan ’n draad gehang. Die gekose filmstroke word dan met Sellotape aanmekaar geplak.”

.......

Daar was natuurlik ook plaaslike film van ons veldjoernaliste. Dié stories is met ’n Arriflex-filmkamera geskiet. Voordat die joernalis en kamera-operateur vertrek het op ’n storie, is die kamera se film gelaai. Die film sou vir so 12 minute hou. As jy te lank bly skiet, raak die film klaar en dan is dit ’n lang proses om onder ’n swart doek die film in die kamera uit te haal sonder dat dit aan lig blootgestel word. ’n Nuwe film word dan ewe versigtig gelaai en dan kan die skietery weer begin. Hierdie realiteit het ’n mens gedwing om baie bepland jou storie te skiet sodat al die skote wat jy nodig het, binne die 12 minute op film vasgelê kon word. Boonop moes jy probeer om jou skote in volgorde te skiet soos jy dit in jou stories sou gebruik, want so bespaar jy baie tyd in die redigeerproses. Met jou storie klaar geskiet, moes jy jou terug haas kantoor toe om die film in die laboratorium te laat ontwikkel. Dít het minstens ’n halfuur geneem terwyl jy naels kou en die horlosie dophou.

Daarna moes jy met die hulp van ’n operateur jou storie redigeer. Die redigeerder moes letterlik die film knip. Dit word dan in stroke met wasgoedpennetjies in volgorde aan ’n draad gehang. Die gekose filmstroke word dan met Sellotape aanmekaar geplak. En die redigeerder moes seker maak dat die las aan beide kante behoorlik met die kleefband vasgeplak is – anders kan die lasplek loskom in die uitsaaiproses – wat wel van tyd tot tyd gebeur het as die redigeerder onder tydsdruk kortpaaie kies. Soos jy jou kan voorstel, het die redigeerdery nogal tyd geneem en jy moes mooi beplan om betyds klaar te wees.

Die hardekopienuus het ons gekry van AFP (Agence France-Presse) , DPA (Deutsche Presse-Agentur), Reuters en die plaaslike nuusagentskap, Sapa. Dis per teleks aan ons gestuur op sulke lang rolle papier. Dit was dan my taak as junior om gereeld die velle papier te gaan haal. Ek moes dit dan met ’n liniaal skeur in velle per storie en aan die redakteur gee. Hy het die velle per storie in hopies gepak en in volgorde gerangskik. Elk het dan sy pakkie velletjies met jou stories gekry wat jy dan moes skryf saam met visuele materiaal – wat ook grafiese werk insluit. Ons het tikmasjiene gebruik. Elk het sy botteljie Tipp-Ex byderhand gehad wat jy gebruik het om spel- of tikfoute te bedek. Na ’n paar goeie blase om die vloeistof te laat stol, kon jy dan weer die woord tik. Uiteindelik is so 20 kopieë van die voltooide tekste gemaak en op ’n groot tafel in volgorde uitgepak. Elke spanlid moes dan om die tafel loop en ’n kopie van elke storie optel. ’n Volledige stel tekste van die aand se stories word dan aan al die tegniese personeel en die nuusleser gegee.

Elke geredigeerde filmstorie is in ’n rolletjie in ’n houer geplaas en met haas na die “telecine”-masjiene, op ’n ander vloer as die uitsendingsateljee, geneem. Daar word die film, in volgorde soos op die tekste aangedui, gelaai vir uitsending. By een geleentheid het die produksiesekretaresse in haar haas met die houer geredigeerde filmrolletjies geval en van die rolletjies het uitgerol op die stowwerige vloer. Heelparty van ons moes help en ’n filmstorie gryp, by die telecinemasjien gaan staan en die storie invoer op bevel van die regisseur terwyl jy die film blaas om die stof af te kry. Tog kon jy op die beeld sien dat dit vol stofkolletjies was.

Destyds was ons nuusaanbieders almal programaanbieders by RSG. Geen van hulle het TV-ervaring gehad nie. Hulle was ook nie joernaliste nie en het geen aandeel aan die skryf van die bulletins gehad nie. Dit was nuuslesers soos Roelf Jacobs, Cor Nortjé en Nic Swanepoel. Hulle het rustig so sesuur se kant by die kantoor aangekom, deur die tekste gelees, grimeerkamer toe gegaan en dan gaan lees.

Die ou bedeling was ’n meganiese een. Die produksieproses was lank, moeisaam en die toerusting duur. Die kyker het geen keuse, inspraak of betrokkenheid gehad nie. Die bulletin het op om agtuur begin en klaar.

Kom ons spring minstens 25 jaar vorentoe. Die internet het alles verander en ons leef in ’n digitaal-geïntegreerde wêreld waar die individu die keuse het om sy nuus van enige bron waar ook al te kry. Die toerusting is kleiner, goedkoper, multifunksioneel en die kwaliteit uitsonderlik.

Solank daar wifi is, kan jy van waar ook al regstreeks, per selfoon of skootrekenaar, in ’n nuusbulletin verskyn en jou storie vertel. Jy kan self ook jou selfoon gebruik om materiaal op te neem, te redigeer en aan te stuur na jou nuuskantoor of selfs na jou eie blog. So word elke persoon met ’n selfoon eintlik ’n joernalis van ’n aard. Die sosiale media het ’n lewe van sy eie begin kry. Dis nie net ’n gerief om stories uit te ruil en vriende te maak nie. Dit kan gebruik word as kanaal om fopnuus te versprei en revolusies aan te hits. So het president Donald Trump van Amerika die eerste wêreldfiguur geword wat as’t ware per twiet op Twitter geregeer en moles gemaak het.

Die internet en swak ekonomiese omstandighede veroorsaak tans ’n bloedbad onder koerante, tydskrifte en tradisionele TV-kanale. Ná COVID-19 gaan die medialandskap beduidend anders lyk. Die skielike druk op mense om sosiale interaksie te vermy en deur tegnologie sake te doen en webinare te hou, sal die proses net verder momentum gee. Maar in hierdie dae is dit des te meer noodsaaklik om versigtig te wees vir fopnuus. Opgeleide joernaliste word gebind deur kodes, gebruikers van sosiale media nie. Geloofwaardigheid is die grootste bate vir diegene wat in ’n onsekere omgewing wil oorleef. Dis een van die ou waardes wat sal bly staan. Ek is dankbaar dat ek vir 45 jaar lank deel van die ontwikkeling en belewenis van televisie in Suid-Afrika kon wees.

  • 5

Kommentaar

  • Ann Cornelissen

    'n Moeilike en tydrowende proses...en die kykers publiek het nooit geweet van al die moeite nie!! Haal my hoed vir julle af👏👏👏. Dankie Freek vir die openbaring!

  • Pieter Cloete

    Jammer dat 'n interessante artikel bederf word met negatiewe opmerking oor oudpresident Trump. Moet maar seker getrou bly aan sy mediabase.

  • Ja, dis nou net Biden. Sosialisme en kommunisme aan die opleef. Nuwe wêreldorde. Alles word beheer.

  • Jorrie Jordaan

    Een van die eerste barometers van geloofwaardigheid van die nuus is die mate waarin die media onder staatsbeheer staan. In hierdie opsig dop SA die toets. Want die media loop heelpad katvoet om die wanoptrede van die owerhede.

  • Esther Retief

    Fassinerende terugblik. Voor TV was ons enigste visuele nuus die flikkerende wit en swart-beelde op die ou klein skerm in 'n rolprentteater, African mirror, toe ek 'n plattelandse kind was. Die latere pragtige kleuradvertensies oor bv die roei kompetisies tussen Oxford en Cambridge, vir Rothmans King size-sigarette, het die asem weggeslaan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top