Van ikoniese monsters tot skeppende karakters: Pendoring 2012 is hier

  • 0

Dis amper weer tyd vir die jaarlikse Pendoring-toekennings! Franette Klerck, Pendoring-hoofbestuurder, gesels met Steyn du Toit oor hierdie jaar se inskrywingsproses, program en pryse.

As Pendoring-hoofbestuurder, hoe sou jy die toekennings aan iemand verduidelik wat nog nooit daarvan gehoor het nie?

Pendoring erken en bekroon voortreflike Afrikaanse reklame, en beklemtoon ook die belangrikheid van Afrikaanse bemarkingsboodskappe en moedertaalreklame. Dus speel Pendoring ‘n baie belangrike rol om Afrikaans in staat te stel om sy regmatige plek in die reklamelandskap in te neem.

Die gesaghebbendheid van Pendoring is egter nie meer net tot die Afrikaanse mark beperk nie; dit geniet erkenning oor taal- en kultuurgrense heen. Sedert die ontstaan daarvan 18 jaar gelede het dit ontwikkel in inklusiewe reklametoekennings. In die Eg Suid-Afrikaanse kategorie word daar ook voorsiening gemaak om voortreflike reklame in al elf amptelike landstale te erken en te bekroon. Die enigste kriteria is dat die advertensie eg Suid-Afrikaans moet wees – dit moet dus ‘n konsep wees wat net in Suid-Afrika kan werk. Die Eish!-advertensie van Klipdrift is ‘n goeie voorbeeld.

Die glans en prestige van die jaarlikse Pendoring-toekenningsaand is steeds die hoogtepunt van elke jaar se veldtog.

Die Pendoring-webtuiste is elke jaar iets om na uit te sien. Wie is die kunstenaar wat verantwoordelik is vir die visuele elemente en watter tema wou julle hê?

Ons bied aan die wenagentskap van die Prestige-toekenning die geleentheid om die volgende jaar se Pendoring-veldtog te skep. Dit is vir ons ‘n eer om die beste span in die land aan die stuur van ons reklameveldtog te hê. Sou hulle dit egter van die hand wys, volg ‘n tenderproses. Gelukkig gebeur dit nie sommer nie. In 2011 was die wenner van die Prestige-prys Draftfcb Kaapstad, en hulle skeppende span is dus verantwoordelik vir vanjaar se veldtog.

Dis juis die Prestige-prys wat die saadjie geplant het vir die tema van die 2012-Pendoring-veldtog. Wat Pendoring regtig besonders maak, is die ongelooflike kontantpryse vir wenners. En natuurlik die kroonjuweel, die Prestige-prys met sy oorsese studiebeurs wat jou inderwaarheid ‘n geleentheid bied om jou kreatiewe staal te wys op ‘n plaaslike en ’n internasionale verhoog. Vandaar dan die veldtogtema Vat oor. Want, soos vanjaar se veldtog beloof: “Met R50 000 in jou sak word die wêreld jou speelplek.”

Die geïntegreerde Pendoring-veldtog wat onder meer plakkate, gedrukte en virale advertensies, ’n radioflits en ’n speletjie op die Pendoring-webwerf behels, is geïnspireer deur die plakkate van ikoniese wetenskapsfiksierolprente uit die 1940’s, 1950’s en 1960’s. Dink maar aan Godzilla wat Tokio oorneem, die 50 Foot Woman wat Londen vernietig of die enorme seemonster wat Sydney verpletter. Ons wou op ’n prettige manier fokus op hoe cool Suid-Afrikaanse reklame kan wees, en het hierdie ikoniese monsters vervang deur tipies Suid-Afrikaanse skeppende karakters.

Die skeppende span van 2012 se Pendoring-veldtog is André de Wet (kopieskrywer), Riaan van Wyk (kunshoof), Aaron Harris en Doug Larter (skeppende hoofde), Mike Barnwell (uitvoerende skeppende hoof) en Francois de Villiers (voormalige uitvoerende skeppende hoof). Kronk and Clement de Bruin het gesorg vir die illustrasies en BNRY is die digitale agentskap.

Franette Klerck, Pendoring-hoofbestuurder


Die Pendoring-toekennings vind reeds die afgelope 18 jaar plaas, soos jy reeds gemeld het. Wat is dit wat juis hierdie geleentheid so gesog maak? 

Die Pendoring-toekennings is uniek in soverre tradisionele mediamededingers hul verskille opsy sit en kragte saamsnoer om voortreflike Afrikaanse reklame te bevorder.

Dit is ook uniek in die sin dat ons wenners met kontantpryse beloon, ‘n studiebeurs gee aan die wenner in die studentekategorie, en ‘n oorsese studietoer aan die algehele wenner gee.

Die toekenningsaand is alom bekend as die beste en gunsteling-bedryfsfunksie, en is dan ook in 2010 deur die bedryfstydskrif ADvantage as die beste bedryfsgeleentheid van die jaar aangewys. Dis beslis ‘n hoogtepunt op die reklamekalender.

Dit is boonop ‘n samekoms en viering van ons kultuur en kreatiwiteit waar die room van Afrikaanse en Suid-Afrikaanse reklame erkenning kry en vereer word.

kykNET en Pendoring vorm saam 'n baie gedugte span. Wat is die geheim?

As een van die gunsteling-kanale op DStv wat sy man trots Afrikaans staan en kykers oor kultuur- en taalgrense heen lok, is dit vir Pendoring ‘n eer om kykNET vanjaar weer as ‘n goue borg te verwelkom.

Maar dit is vir kykNET net so belangrik om hom weer agter Pendoring te skaar, juis omdat Afrikaans en verbruikers die kanaal se kernbesigheid is, sê Karen Meiring, hoof van Afrikaanse kanale op M-Net. Volgens Karen is kykers geweldig uitgesproke oor reklame in Afrikaans & hulle wil in Afrikaans aangespreek word, want behalwe dat hulle dit veel beter verstaan as enige ander taal, is dit hul hartstaal. Handelsname wat in Afrikaans adverteer, het dus nie net ‘n baie sterker beeld by Afrikaanse verbruikers nie, maar geniet ook hul voorkeur. 

Volgens Karen maak die sukses van Afrikaanse reklame en die vrug wat dit vir bemarkers en handelsname oplewer, dit beslis die moeite werd. Sy meen die trefkrag van die advertensie speel ook ‘n groot rol; en die feit dat die gehalte van Afrikaanse reklame ook besig is om te verbeter, dra verder by tot adverteerders se sukses.

Die erkenning en motivering wat Pendoring aan die Afrikaanse reklamebedryf gee, is van deurslaggewende belang vir ‘n gesonde Afrikaanse skeppende bedryf. En kykNET verpersoonlik die hedendaagse Afrikaanssprekende wat saam aan die land se toekoms wil bou.

2010 se program


Rakende hierdie jaar se toekennings - wat spesiaals beplan julle vir die aand? Enige verrassings?

Wat dit anders maak vanjaar, is die feit dat Pendoring vir die eerste keer deel is van Creative Week Cape Town (17 – 23 September), met die Pendoring-bekroningsaand op Vrydag 21 September. Die Loerie-toekennings word op die Saterdag en Sondag (die 22ste en 23ste) gedoen. Verandering bring gewoonlik vernuwing, en daarom is ons baie opgewonde oor dié stap. Die uitnodiging om deel te wees van Creative Week Cape Town is regtig ’n veer in Pendoring se hoed, want ’n groot aantal skeppendes uit alle dissiplines, asook bemarkers en mediaverteenwoordigers, sal na verwagting weer tydens daardie week in Kaapstad saamtrek. Dit beteken dat Afrikaanse en Eg Suid-Afrikaanse skeppende werk dus uitstekende blootstelling gaan kry.

Kapenaars wat nog nooit die voorreg gehad het om die makietie van die jaar by te woon nie, gaan vanjaar die geleentheid kry om die room van Afrikaanse en Suid-Afrikaanse reklame as’t ware op hul voorstoep te geniet. Die gala-aand is een groot (reklame)fees van Afrikaanse en Suid-Afrikaanse reklame! Ons streef elke jaar na vernuwing, en gaste kan beslis ‘n paar verrassings verwag!  Kunstenaars soos Sterling EQ, Gugulethu Tenors, Bittereinder, die kletsrymer Jack Parow en Tumi Molekane gaan sorg vir witwarm vermaak. Die MC’s vir vanjaar se toekennings is Soli Philander en Elma Smit.

Soos altyd is daar ’n vyfster-maaltyd met kos so reg uit die boeke, geskenksakke wat bult met verrassings vir elke gas, en die gebruiklike after party, geborg deur MK. Ons beplan om te doen presies wat ons Vat oor!-slagspreuk sê: ons gaan gaste se harte op die 21ste September oorneem! Die bedryf moet beslis nie vanjaar se toekennings misloop nie! Kaartjies kan bespreek word by Corrie le Roux, corrie@vibrantmedia.co.za of bel haar by 011 880 5202.

Hoe lyk die inskrywings sover? Is die kwaliteit beter of swakker as vorige jare?

Ek sal daardie vraag eers later vir jou kan beantwoord. Die inskrywings sluit op 25 Julie en die beoordeling vind plaas op 16, 17 en 18 Augustus. Ons sal eers dan die finale getal inskrywings hê, en kan bepaal wat die gehalte van vanjaar se inskrywings was.

Wanneer is die sluitingsdatum vir inskrywings en waar kan meer inligting verkry word?

Inskrywings word aanlyn gedoen op ons webwerf, www.pendoring.co.za. Inskrywings het reeds geopen en sluit op 25 Julie. Al die inligting ten opsigte van kategorieë, pryse, inskrywingsvereistes, ens is op die webwerf. 

Daar is soos altyd groot pryse op die spel – dit is juis wat Pendoring uniek maak! Ons is die enigste reklamekompetisie wat wenners met kontantpryse beloon.

Pryse sluit in:

  • Die gesogte Prestige-toekenning vir die algehele wenner: ’n oorsese studiereis ter waarde van R50 000.
  • Vanjaar vir die eerste keer: ‘n vet kontantprys van R20 000 vir die algehele wenner in die Eg Suid-Afrikaanse kategorie. 
  • Soos altyd, ’n kontantprys van R6 000 vir alle goue wenners en R2 500 vir silwer wenners.
  • ’n R10 000-studiebeurs, boonop, vir die algehele studentewenner, asook ‘n internskap by Draftfcb in 2013.

En dis nie net skeppende mense wat wen nie! Die adverteerder van die wenner van die Prestige-toekenning wen ook meer as R2,2 miljoen se gratis media van deelnemende Pendoring-vennote.

Watter raad het jy vir iemand wat daaraan dink om in te skryf – hoe kan hulle bepaal of hulle werk kwalifiseer?

Al die werk word beoordeel aan die hand van die volgende riglyne:

  1. Is dit ‘n innoverende konsep wat nuwe en vars denke bring?
  2. Is dit ’n uitstekende uitvoering?
  3. Is die ingeskrewe werk relevant tot die handelsnaam?
  4. Is die ingeskrewe werk relevant tot die teikengehoor?
  5. Is die ingeskrewe werk relevant tot die gekose medium?
  6. Het verbruikers van die advertensie gehou? Wat is verbruikers se sinnigheid in die advertensie?
  7. In die kategorie Eg Suid-Afrikaans kan inskrywings in enige van die land se 11 amptelike tale wees, solank die konsep eg en uniek Suid-Afrikaans is. Dit moet dus ‘n konsep wees wat net in Suid-Afrika kan werk.

Hoe en wanneer word die beoordelaars bekendgestel?

Die paneel bestaan uit een internasionale beoordelaar, wat ook die voorsitter van die jurie is. Hy word bygestaan deur 16 bewese skeppendes in die bedryf. Talle van hulle het reeds verskeie internasionale toekennings op hulle kerfstok.

Alle werk word anoniem beoordeel en daar is geen verwysing na die agentskap op die inskrywing nie.

Die volle beoordelaarspaneel word op 1 Junie 2012 op die Pendoring-webwerf bekendgemaak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top