
Adrian Ghenie "Self-portrait as Vincent van Gogh"
Van Gogh se oor is ’n onderwerp wat ek al op menige aandetes moes navigeer. In die regte lewe beskou ek nou nie eintlik myself as die ster in Van Gogh se Starry Starry Night by ’n aandete onder ’n kristalkandelaar nie. My brilraam laat my eerder soos ’n ouer Harry Potter voel. Die waarheid is dat ek meer terughoudend en minder vermaaklik as hierdie Facebook-persoonlikheid van my is.
Een van die herhalende motiewe in my lewe, wanneer ek myself, onverwags langs ’n onbekende gas by ’n ete bevind, is dat mense, wanneer hul uitvind dat ek ’n kunstenaar is, hul vir een of ander rede met my oor Van Gogh se oor wil gesels. Dit het al so gereeld met my gebeur dat ek al Van Gogh's Ear gaan google het sodat ek darem ’n bydrae tot die geselskap kan maak. Van Gogh het in die beste van tye ’n komplekse verhouding met Paul Gauguin gehad en het in ’n psigotiese episode in Arles, eers vir Gauguin met ’n mes gedreig, die lem toe op homself gedraai, waarna hy die helfte van sy oor afgesny het. Die boonste helfte. Die stedelike legende rondom die gebeurtenis is dat hy die halwe oor vir ’n prostituut gegee het wie se naam op die internet ronddryf. I don't kiss and tell. Ek probeer gewoonlik, omdat daar messe en vurke op die tafel voor my lê, die geselskap in ’n ander rigting stuur deur byvoorbeeld ’n sensasionele onthulling te maak dat Van Gogh se Starry Starry Night skildery ’n geskatte waarde van 80 miljoen dollar het. Ek moes ook al na so ’n gesprek aan ’n gas bevestig dat dit glad nie waar is dat Beethoven sy oor ook afgesny het nie. Fake news.
Soos die wyn vloei en dinge dan nou lekker raak aan tafel, wag daar gewoonlik die volgende op my. Die gas voel nou baie naby aan my, skuif die stoel nader en bied dan van nêrens aan, om kaal vir my te poseer. Hoe ons van halwe oor tot by strip club beweeg, nog voor die pavlova by die tafel arriveer, weet ek nie. Die skok trigger gewoonlik by my daardie herinnering toe ek as kind die Scope tydskrif in ’n gangkas van ’n familielid onder die stofsuier ontdek het. Dit was jare voor Loslyf se verskyning. My filters skop dan gewoonlik in en ek verlaat die kamer vir ’n besoek aan die badkamer net om tyd te gee vir dinge om so bietjie af te koel, al weet ek die pavlova is oppad.
As daar ooit danger pay vir kunstenaars betaal word, moet dit hiervoor wees. Getroude vrouens, jonges en oues van dae wil hul klere vir jou uittrek. Ek het deur die jare al baie hieroor gedink, want die meeste van die tyd is hierdie aanbiedings onskuldig en outentiek en nie ’n pickup line nie. Hoekom wil mense so graag hul klere vir kunstenaars uittrek? Dalk het dit te doen met die behoefte om een of ander nalatenskap agter te laat. Dalk is daar ’n bewussyn van jou lyf wat verval wat jy probeer vasvang in tyd? Dalk lê party mense se krag in die seksualisering van hul eie lyf? Of dalk voel hul dat hul weerloosheid onsigbaar is en dat hul dit sigbaar vir jou wil maak.
Ek sal nooit my eerste figuurtekenklas vergeet nie. Ek was ’n onskuldige agttien jaar oud. Die model was ’n Duitse vrou met rooi hare. Sy het ingestap met ’n wit laken om haar lyf. Ek het na haar gekyk en gedink draperings is nogals uitdagend vir ’n eerste klas. Die lig van die venster was agter haar en toe laat val sy die laken. Ek kon vir die eerste 5 minute glad nie teken nie. Die volheid wat voor my afgespeel het, was te oorweldigend vir my. Die ligrooi haartjies op haar vel het haar laat gloei soos ’n hemelvaart. Daar was ligte sproete op haar vel en rekmerke. Vel wat plooi en die sagte beweging van haar hartklop wat bevestig dat dit ’n weerlose mens is wat voor jou staan. Ek het die houtskool opgetel en haar begin teken. Eers die proporsies probeer aandui op die wit vel papier. Die komposisie, die gewigsverplasing. Die donker en die lig. Die middelste toonwaardes en die drapering soos wolke by haar voete. Ek het goed gevorder, maar ek het haar borste uitgelaat. Ek kon eenvoudig nie daar gaan nie. Die dosent het nader gestap en my gevra om op te staan en die eerste tepel geteken. Dit het die ys vir my onbevlekte oë gebreek en ek het my tekening met verligting voltooi.
Wanneer die pavlova uiteindelik arriveer, ontsnap ek uit my dagdroom en sit ek daar met my lepel in die hand. Daar is geen messe op die tafel te bespeur nie. Die lepel voel soos ’n kwas in my hand en ek dink aan Adrian Ghenie se selfportret met die titel "Self-portrait as Vincent Van Gogh". Ek verwyder met my servet, die room en die bloedrooi sousie van die aarbeie uit my mondhoeke sodat dinge minder surrealisties kan voel.
- Vincent van Gogh is op 29 Julie 1890 oorlede.


Kommentaar
Pragtige skryfwerk, dankie.