Van geloof tot ongelykheid deel van Diskoers-gesprekke by Aardklop

  • 0

Aktuele kwessies soos grond, ongelykheid, geloof en die toekoms is die onderwerpe waarop daar by vanjaar se Beeld Diskoers-reeks by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees gefokus word.

Met dié reeks gesprekke en debatte kan feesgangers na kenners en meningsvormers luister en hulle kry ook die geleentheid om vrae te stel. Die gespreksleier (met die uitsondering van Donderdag 9 Oktober) is Freek Robinson, aanbieder van Robinson regstreeks en ankeraanbieder van eNuus op kykNET.

Al die gesprekke word aangebied by die ATKV Boeke-oase in Hoffmanstraat oorkant Die Bult. Dit begin soggens om 08:30, duur negentig minute en is gratis.

Die reeks skop Dinsdag 7 Oktober af met Hoe glo ek? met prof Julian Müller (skrywer van Geloof anderkant Sondag), prof Christina Landman (’n direkteur van die Navorsingsinstituut vir Teologie en Religie aan Unisa) en prof Adrio König (skrywer van Terug na die Ou Testament) as die paneellede. Die debat oor geloof is so oud soos die berge. Maar vanjaar het dit weer behoorlik vlamgevat in Afrikaanse geledere met rubrieke in koerante (en talle lesers wat daarop gereageer het) en verskeie boeke wat verskyn het (van alle kante). Daar is behoudendes en soekers. Lyk jou God anders as myne?

Deelnemers vir Die grond, die diere, die grensdrade, die gemeenskap: Hoe boer ons? op Woensdag 8 Oktober sluit in dr Pieter Mulder (leier van die VF+ en voormalige adjunkminister van landbou, bosbou en visserye), dr Theo de Jager (adjunkpresident van Agri SA) en Aggrey Mahanjana, sekretaris-generaal van die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa). Die varke vrek op ’n hooggeplaaste se plaas, plaaswerkers word afgeset, grondhervorming geskied teen ’n slakkepas, plakkate word rondgeswaai ... Kwessies rondom landbou, boerdery en grond is legio. Maak nie saak aan watter kant van die draad jy staan nie, dít is ’n onderwerp waarby almal belang het.

Adriaan Basson (redakteur van Beeld) is op Donderdag 9 Oktober die gespreksleier vir Wat gemaak met ongelykheid? met Frans Cronjé (uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge), Mondli Makhanya, voormalige redakteur van die Sunday Times en rubriekskrywer van City Press) en Flip Buys (uitvoerende hoof van Solidariteit). In die 20ste jaar van die demokrasie van Suid-Afrika is die gesprek oor gelykheid nog lank nie afgehandel nie. Die gaping tussen ryk en arm is van die grootste in die wêreld. Werkloosheid is ’n groot probleem. Die vraag is: Wie “verdien” die werk? En: Wie gaan daaroor besluit?

Die Diskoers-reeks word Vrydag 10 Oktober afgesluit met Hoe lyk die toekoms wat wink? met JP Landman (politieke en ekonomiese tendensontleder), Irma Wilson (toekomskundige) en prof Erik Holm (entomoloog en natuurkenner) as deel van die paneel. Verandering gebeur geleidelik, soveel so dat ’n mens dit skaars agterkom. Maar dink jy aan tien jaar gelede, besef jy die ongelooflike spronge wat gemaak is op verskeie gebiede. Hoe gaan die wêreld (en spesifiek dan ook Suid-Afrika) oor tien jaar lyk? Tegnologiese vooruitgang sluit in mikroskyfies wat onder die vel ingeplant gaan wees, maar die toekoms sluit ook agteruitgang in. Waaroor kan ons opgewonde wees? Waaroor moet ons bekommerd wees?

Die fees word van 7 tot 11 Oktober in Potchefstroom aangebied. Die program is beskikbaar op die webwerf www.cloveraardklop.co.za en besprekings kan gedoen word deur Computicket.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top