Valentynspiekniekkonsert by die Taalmonument Tuinteater

  • 0

Die Paarlse troebadoer Craig Scott tree op in ’n piekniekkonsert by die Tuinteater van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl op Valentynsdag, 14 Februarie. Scott is ’n bekende straatmusikant in die Paarl wat ook gereeld op wynplase optree.

Die twee-uurlange konsert begin om 19:30. Die vertoning sluit Afrikaanse en Engelse romantiese ballades in.

Besoekers is welkom om hul eie piekniekmandjie saam te bring of ’n spesiale Valentynsmandjie by Volksmond Koffiewinkel te bestel teen R230 vir twee persone (tel. 021 863 2800). Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Geen honde of vure word toegelaat nie. Indien die weer sleg is, word die konsert afgestel.
Kaartjies teen R25 per persoon is by die hek beskikbaar, en vooraf by die Taalmuseum in Pastorielaan (Ma. tot Vr. 08:30 tot 16:30) of die Taalmonument (Ma. tot So. 08:30 tot 19:30). Die Tuinteater Somerkonsertreeks word ten bate van die Taalmonument se Leesprojek aangebied.

Toekomstige optredes by die Taalmonument Tuinteater sluit in die Superstars Klopse-troep en vriende op 18 Februarie, ’n komedie-aand met Melt Sieberhagen en Gemengde Vrugte op 16 Maart, Elle Amor met “Soos goeie rooiwyn” – van rock tot klassiek, ballades tot pop op 24 Maart, die Dans van die vlamme ter deelname aan Earth Hour op 31 Maart en ’n hip-hop oop-mikrofoonkonsert in samewerking met Ill Major Movement op 14 April.

Vir verdere inligting oor geleenthede by die Taalmuseum of Taalmonument, skakel 021 872 3441 of besoek www.taalmonument.co.za of www.facebook.com/afrikaansetaalmonument

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top