LitNet het lesers uitgenooi om met die oog op Valentynsdag ’n brief aan ’n verlore of anonieme geliefde te skryf. Lina Spies het die 64 inskrywings wat ontvang is, beoordeel, en die vyf beste briewe, sowel as die algehele wenner, aangewys. Hier volg haar terugvoer.
..........
Die vyf beste briewe is ontvang van Thamara Erasmus, Martha Poller, Jan Schaafsma, Henlie Barnard en Vonite Janse van Vuuren.
Thamara Erasmus het die wenbrief geskryf. Dit is ’n diep aangrypende brief van die skrywer, wat alleen ’n borsamputasie en die behandeling met chemoterapie die hoof moet bied, aan haar vervreemde eggenoot. Die sentrale kontras in die brief is tussen die aanvanklike liefdesgeluk en die latere pynlike vervreemding. Die brief begin met die weergawe van ’n vreugdevolle ervaring tydens die egpaar se wittebrood op ’n ongespesifiseerde plek in die Ooste waar hulle in ’n lugballon opstyg bo lande geel Luoping-kanolablomme. Dié vreugdevolle ervaring van kleur en lig is in skrynende kontras met die latere donker verhaal van die man se verwerping van sy vrou in ’n siekte wat skendend ingryp op haar vroueliggaam.
Martha Poller skryf ’n aangrypende brief van die skrywer oor haar geliefde wat aan die Grensoorlog moes gaan deelneem en in ’n skermutseling gesterf het. ’n Besondere verdienste van die skrywer is dat sy nie eindeloos uitbrei op haar emosies nie. Sy konstateer ervarings of suggereer dit waarvan die essensiële seksuele ervaring met die geliefde tot ’n swangerskap gelei het wat op ’n vroeë miskraam uitgeloop het. Sy eindig deur net te konstateer dat sy aan hom dink as sy ’n boek lees wat hy graag wou hê en ’n gemmerkoekie eet waarvoor hy so lief was.
Vonite Janse van Rensburg het ‘n baie goeie brief geskryf. Die skrywer bewaar die geheim dat sy aan ’n gestorwe geliefde skryf deur ’n opdrag aan hom oor hoe hulle Valentynsdag gaan vier in ligte trant. Eers aan die einde blyk die ironie dat hy die brief nie sal lees en hulle nie Valentynsdag sal saam vier nie.
Henlie Barnard se brief sou ’n wenbrief kon wees, omdat dit oorspronklik is en uit ’n ongewone perspektief geskryf word. Die skrywer is op ’n herbesoek aan Parys in Frankryk waar haar man op Valentynsdag gesterf het. Sy is saam met haar dertigjarige seun wat sy by geboorte vir aanneming gegee het omdat hy as liefdeskind haar te veel aan sy gestorwe vader herinner het. Inhoudelik is dit ’n wenbrief deurdat die oorspronklikheid van die skrywer se ervarings die leser nie slegs oortuig nie, maar ook aangryp. Die formulering vra egter om hersiening van die woordgebruik wat afbreuk doen aan die vertelling.
Hier is die vyf wenbriewe:
Thamara Erasmus (algehele wenner)
My Lief
Ons liefde het ’n reuk ... die reuk van heuning en muskus. Ek wonder, sou jy ook soms nog daaraan dink?
Heuning-en-muskus is die geur van miljoene geel Luoping Canola-blomme wat betowerend in ’n vars lentebries wieg. In die sagte gloed van die Oosterse sonsopkoms vorm hulle ’n golwende see van goud so ver as die oog kan sien tot aan die horison. Onthou jy dit nog? ’n Ontploffing van kleur en geur soos ons in ’n bontlapdak-houtwaentjie deur hulle ry tot daar waar die warmlugballon oranje-rooi afgeëts teen die blou-blou lug op ons wag. Verby byeboere onder kleurvolle sambrele wat vrolik vir ons waai. Ons lag, want selfs die bul wat ons waentjie trek, dra ’n blommekrans om sy horings identies aan die een wat om my hare gebind is. Ons lag oor die vreugde van die dag. Ons lag, want ons is jonk en verlief en in ’n lugballon wat ons wegvoer, sag laat sweef oor die beeldskone blommeprag onder ons. Die volmaakte wittebrood. In jou arms is my gelukkige plek, my veilige plek.
My Lief, deur die jare was ons liefde in ander geure ook: Die skoon verf reuk van ons eerste huis. Johnson’s op ’n sagte babalyfie en warm sonskyn in blonde kleuterhare. Die mengelmoes van reuke in ons gesinsmotor op pad skool toe, kerk toe, dorp toe. Tropiese vakansies in Natal; vars Karoolug onder ’n praal van helder sterre; aromatiese rooiwyn intiem voor die warm kaggelvuur van koue wintersaande. So baie mooi herinneringe sorgvuldig behoue in opgestapelde fotoalbums op die rak.
Maar my Lief, die lewe speel sy spel en niks bly ooit dieselfde nie. Liefdesreuke raak geleidelik minder en word vervang deur ander reuke. Seermaakreuke. Doodgeblaaste kerse en ongeёte kos in ’n eensame eetkamer word die duur reuk van jou sukses. Die reuk van drank en sigaretrook aan tienerklere raak my moedersielalleen-probleem om op te los. Diepseermaakreuke soos die skerp, ontroosbare reuk van haarsproei aan die onkologie-ontvangsdame omdat daar niemand anders is om my, bewend na die wrede diagnose, vas te hou nie. Die hospitaalreuk as my hande verslae en dom van narkose vir die eerste keer oor die plat verbande op my bors voel. Die siek reuk van die chemokamer wat ek elke keer alleen moet trotseer ...
Weet jy my Lief, dat hartseer ook ’n reuk het? Die reuk van Chanel No 5 Eau de Parfum, ’n week na my verjaarsdag in opdrag vir my uitgekies en gekoop deur jou afsydige persoonlike assistent?
Gisteraand, waar ek met donker loodgedagtes in ons koue bed lê, het ek onverwags weer die heuning-en-muskus-reuk gekry. Dit het skelm saam met jou versigtige bewegings by die kamer ingesluip. ’n Gevoel van skok het koud vanaf my keel tot in my maag geval toe ek in die ysige nasleep daarvan besef: Dit is nie óns liefdesreuk nie. Dit is die verraderlike reuk van verrotting en verraad wat aan jou kleef ... die laaste soet walgreuk van iets wat finaal sterf.
Ek ruik nie meer nie.
Jou Vrou
..........
Martha Poller
My liefste-lief
Dit is al weer daardie tyd van die jaar en ek dank die Vader elke dag vir jou. Jy glo my nie, maar voor jou was daar niemand soos jy nie en van ná jou praat ek nie eens nie. Jy bly maar net my liefste-lief.
Ek het ’n groot verrassing vir jou! Ek het toe daardie boek wat jy so graag wou hê, opgespoor. Ja, ja, ek weet jy lees nie meer graag nie, dommies. Ek sal elke dag met teetyd vir jou ’n blad of drie lees. Ek belowe, saam met die tee sal daar gemmerkoekies wees. Jy was nog altyd mal daaroor, hoewel ek nie juis kan verstaan waarom nie. Gemmer? Nee tog man, dan liewer maar ’n klapperkoekie vir my.
Onthou jy nog ons eerste Valentynsdag? Jy het soos ’n ware ridder op jou knieë gestaan en die rooi roos vir my gegee. Wat het jy nou weer gesê? “My liefie-lief, sal jy my ...” en toe haak jy vas! Jy het opgespring en my om die nek gegryp, onthou jy? Ek het lag-lag geantwoord: “Ja, jong. Wat jy ook al wou vra, dis oukei met my.”
‘n Jaar later het jy sowaar weer op jou knieë gegaan; hierdie keer met ’n hele bos rooi rose. Ek het by voorbaat al begin giggel, want ek het gedink ek weet wat jy wou vra. Ai, my liefie-lief, hoe verkeerd was ek nie! Die trane in jou oë het my laat besef dat daar iewers ’n groot skroef los is.
Hoekom moes jy juis op daardie tydstip gaan oorlog maak? Hoekom kon die lotjie nie maar sonder jou klaarkom nie? My hart was stukkend van ellende. Ek sal jou spierwit, strak gesig nooit vergeet nie. Maar, het ons onsself getroos, agtien maande is mos darem nie ’n ewigheid nie, is dit?
Dit was nog donker toe die trein by die stasie inkom. Julle was ’n klomp jong seuns met sterre in julle oë. Ons was ’n klomp jong meisies met trane in óns oë. Julle wou die land gaan verdedig, maar ons moes ... wat? Ek weet tot vandag toe nog nie wat van ons verwag was nie.
Jou arms was rondom my – sterk en vertroostend. Nie een van ons kon eintlik praat nie, want die oomblik was te seer. Ek kon sien hoe blink die trane in jou oë, maar jy het jou kake spierwit geklem om nie jou hartseer te wys nie. Al waaraan ek kon vashou, was die vorige nag se liefde. Jou liggaam was jonk en sterk en so bitter baie vol liefde vir my.
My hart is saam met daardie trein weg oorlog toe. Ek was dood in my ellende. Al waaraan ek dag vir dag kon dink, was jou laaste woorde: “Ek kom gou weer terug, my liefste-liefie.”
Iewers het ’n klein gedagtetjie my liggaam vol kom lê. Eers wou ek dit vir niemand vertel nie, want dit was my enigste lewenslyn met jou. Ek kon nou saans met hierdie lyfie in my vol lyf gesels en weet – jy is naby my.
Jy het nie teruggekom nie, my liefie-lief. Die medalje vir dapperheid wat hulle in my hand gestop het, kon nie die seer wegvat nie. En toe! Toe besluit die lieflyfie in my vol liggaam om ook maar liewer moed op te gee en sy los my alleen.
My liefie-lief, wanneer ek jou boek lees, sal ek ’n gemmerkoekie saam met die tee eet. En jy sal weet: Jy bly my enigste, enigste liefie-lief.
Met innige verlange
Ekke xx
..........
Jan Schaafsma
Liefde in die tyd van die internet
heLena63#86@telkomsa.net
Helena, haai
Ek voel soos iemand wat ’n briefie in ’n bottel in die see gooi.
Ek het dié e-pos-adres in ’n baie ou adresboek gekry. In potlood geskryf. Ek is nie eens seker of ek my eie handskrif reg lees nie. Ek het dit destyds (so baie, baie jare gelede) nooit gebruik nie, want ons het mos oor die straat van mekaar gebly. Ek weet nie eens of dit nog geldig is nie. Die meeste mense gebruik nou mos Gmail.
Op hoop van zegen, dus.
Ek wil nie jou tyd met ’n geklets mors nie. Ek wil jou net vertel van ’n storie wat ek geskryf het, en wat op die webwerf litnet.co.za geplaas is.
Ek sluit dit ook as ’n aanhangsel hierby in.
Allerbeste groete
P
’n Liefdesverhaal
Dis ’n pragtige dag, met ’n blou-blou lug, wit skapieswolke en ’n ligte, malse bries, maar Pierre sien dit nie. Hy kwyn. Hy staar in die verte. As iemand met hom praat, hoor hy nie. Kortom, Pierre is verlief, en hy weet hy kan niks daaraan doen nie.
Pierre is reeds baie lank verlief. Waarom kwyn hy nou meteens, en staar en hoor niks nie?
’n Oproep het sy liefde van toe-se-dae weer aan die brand geblaas.
Hy het haar stem glad nie herken nie, so lank gelede was dit. Hy moes vra: “Wie praat?”
Die verleentheid toe sy sê dis sy!
Nie dat sy ooit geweet het hy’s op haar verlief nie. Na alles was sy getroud, met twee kinders, en hy sou nooit iets doen om die huwelik te verongeluk nie.
Sy! Haar beeld, soos sy destyds gelyk het, sweef voor sy oë. Sy met die blougroen oë en die ondeunde glimlaggie en donkerblonde krullebol en figuur om van te droom. Sy met die wipstappie en wiegende heupe.
Sy met die groot, aantreklike eggenoot wat Pierre sekerlik met een hand sou kon opfrommel.
As hy maar net eendag vir haar gesê het hoe hy voel, voor die verhuiswa in die straat kom staan en al hul goed weggery het. Jy weet mos nooit. Dinge verander. Sy en manlief kry stry. Hulle praat skaars nog, maar bly vir die kinders se onthalwe bymekaar. Die kinders word groot en vlieg uit die nes. Alles word vaal en vervelig. Hulle slaap in aparte kamers, later op verskillende verdiepings. Hy flenter rond, raak aan die suip. Wie weet?
Kan ’n mens die verlede ongedaan maak en die toekoms verander?
Pierre skryf stories. In die ou dae het uitgewers boeke daarvan gemaak wat niemand wou koop nie. Maar deesdae is alles mos elektronies, pappa! Dis ’n heel nuwe wêreld. Jy kan anoniem te kere gaan soveel jy wil, en steeds miljoene mense bereik. Daar’s fênfiksie. Daar’s vonkfiksie. Daar’s webwerwe wat feitlik enigiets sal plaas, want dit gaan oor die klikke, sien. Pierre ken die werwe en hy weet wat hulle soek. Wat hulle die meeste soek, is ’n pragtige liefdesverhaal.
Dit vat Pierre nie te lank om só ’n verhaal te skryf nie. Dis van ’n ou wat nooit vir sy gunstelingmens gesê het hoe hy voel nie, en toe’s sy net eendag daar weg en nou’s hy moer spyt. Hy kwyn. Hy staar in die verte. Hy hoor nie as mense praat nie.
Pierre is slim. In die storie gebruik hy kode. Hy sit iets daarin wat net sy sal verstaan. Sy sal weet oor wie dit gaan.
Die telefoon lui.
Hulle praat en praat en práát.
..........
Henlie Barnard
Liewe Brent
Dertig jaar, dieselfde plek, 05h00. Die son is nog onder. Parys is besonder mooi vanjaar, my liefste. Dalk weet die Eiffeltoring ek kom al dertig jaar hierheen, na die stad van liefde. Maar jy kort, my liefste Brent.
Onthou jy ons liefde, ons dans net hier waar niemand ons eers opgemerk het nie? Want hier in Parys is mense op mekaar ingestel, nie op ander om hulle nie. Brent, sal dit dalk wees hoekom niemand my gehelp het daardie dag toe jy hulp nodig gehad het nie. Toe jou hart sommer net so ophou klop het.
Nie eens my gille het mense laat kyk nie, maar my liefste, vandag wil ek ons liefde vier, ons ongelooflike geluk, wat niemand van geweet het nie. Vandag moet ek ook aan jou iets vertel, my liefste. Wonder of jy my sal vergewe het as jy nog gelewe het.
Ja, ek het jou gunstelingbier van Suid-Afrika saamgebring; ek gaan dit drink en hoop niemand sien my nie. Nes daardie dag. Cheers my mansmens. Nee, ek huil nie, dis sommer net.
Onthou jy dat ons ook daardie dag te veel gedrink het, en onthou jy Moulin Rouge en al sy joligheid? Liefste, ek het daardie nag swanger geraak, en met jou skielike dood was dit alles hel.
Dit was ’n seun, nou dertig jaar oud. Ons liefdeskind, daardie Valentynsdag, daardie dag wat jy my alleen gelaat het. Maar liefste, ek kon nooit daarna weer aan enige man behoort het nie. My liggaam was en is joune altyd en ewig. Jy met jou mooi glimlag, jou sagte hande. Jou eerlikheid, jou passie. Niemand sal ooit weer hierdie deel van my kan aanraak nie.
Brent, jou seun sit hier by my vandag, sy hand op my skouer. Hy wil ook saam met my hierdie dag spandeer. Jy wonder seker hoekom ek jou nou eers vertel. Want ek het hom met geboorte gegee vir aanneming, liefste.
Ek kon hom nie aanraak nie, my gebreekte siel het te veel na jou verlang. Sy glimlag het my deurboor, ek wou net oor jou huil. Ek wou net asemhaal, en hy het aandag gevra.
Liefste, maar hy het my kom soek, en my gevind. En so het ek vrede gevind.
Want ek het jou in sy oë gesien. Hy het my vergewe, my liefste, en nou kan ons saam hier sit.
Jy sal nooit weet hoe opreg my liefde vir jou is nie. Ek kyk na ons seun en ek weet daar is geen groter liefde as wat ons het nie. Brent, volgende jaar sal ons weer kom. En dan sal ek hopelik ouma wees, want ons seun het liefde gevind.
Ek het ook my nege-en-twintig briewe van die vorige jaar vir hom uitgehaal, saam met die sjampanjeprop wat ons hier onder die plaveiselsteen gebêre het.
Liefste, nou kan jy rustig wees, ek is oukei, al verlang ek nog na jou.
Baie liefde
Jou Vonkelmeisie.
..........
Vonite Janse van Vuuren
Liefste Mornay
In my geestesoog sien ek hoe jy grinnik met die aanhoor van “Februarie, die maand van liefde”, “bederf haar op Valentynsdag”, “vier die liefde met ’n romantiese ete vir twee”. “Room en tamaties,” skerts jy by die aanhoor van “romanties”.
Ná 29 jaar se verlore Valentynsdae het ek besluit om hiérdie jaar beheer te neem. Valentynsdag gaan ons vier. Klaar uit en gedaan. Punt! En die maklikste van als? Jy hoef net instruksies uit te voer.
Vrydagmôre 14 Februarie word ek saggies wakker gekielie deur die blare van ’n bloedrooi roos. Nie een wat jy oorkant in tannie Meisie se tuin gaan pluk het nie. ’n Egte opregte Valentynsroos. Gekoop by die fênsie blommewinkel langs die Koöperasie. Die vorige dag al. Dit gaan heel waarskynlik die roosgeur van die blare wees wat my sal wakker kry. Geen gesoenery nadat ek uiteindelik wakker is nie. Oggendasem is geneig om enige liefdesvlammetjie summier te blus!
Vir die eerste keer in 29 jaar gaan jy dan ewe liefies “Gelukkige Valentynsdag my liefie” in my oor fluister. Bloedrooi sal ek dan bloos, kompleet soos ’n rooihakskeentiener. Kastig skaam vir jou fluisterstem in my oor. En moenie die giggel vergeet nie!
Verbaas en opgewonde sal ek my hande klap vir die geskenkie wat jy met ’n vonkel in die oog oorhandig. ’n Lieflike houtkissie. Ligte hout, nét soos ek daarvan hou. Ek sal ewe verbaas wees oor die gewig van die kissie. Nogal swaar vir ’n kissie wat ek met my een hand kan vashou. Pragtige inskripsie in sierskrif bo-op die kissie. Só moet ’n vrou se Valentynsdag mos begin, juig ek.
Waarom dan die skielike trane? Soos twee watervalle stroom dit teen my wange af. Hierdie is ons perfekte Valentynsdag, presies soos wat ek dit in my drome voorgestel het! Ek kry nie die kissie oop nie! skree ek benoud. Angssweet begin op my voorkop en onder my arms uitslaan. My hande gaan onbedaarlik aan die bewe. So erg dat ek amper die kissie laat val. Soos só baie keer in die verlede, troos jy en verduidelik sagkens: “Dit is omdat my as daarin is, my liefie.”
Uitgeput gaan lê ek teen my kussings met jou kissie soos ’n kleinood vasgedruk teen my bors. “Ek is lief vir jou,” fluister ek. “Gister, vandag, môre, oormôre, vir altyd!”
Baie liefde.
Ekke
xxx
Valentynsdagkompetisie: Skryf ’n liefdesbrief aan ’n verlore of anonieme geliefde