Vakansiehuis met swembad deur Herman Koch, vertaal deur Daniel Hugo

  • 0

Vakansiehuis met swembad
Herman Koch, in Afrikaans vertaal deur Daniel Hugo

Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485305453

Irritasie, afgryse, sinisme, pessimisme, befoeterdheid, angstigheid, misantropie en snedigheid is nie tipiese dryfvere van die skeppende skryfkuns in sonnige Suid-Afrika nie.

Tensy dit oor ons politieke ontsteltenisse gaan. Dan bars ons uit in die bekende Suid-Afrikaanse monoloog.

In die donker en koue lande van Noord-Europa, soos Nederland, het skeptiese swartgalligheid egter al groot skrywerskappe opgelewer, byvoorbeeld die romans van WF Hermans met hul paranoïese lewensgevoel. Daniel Hugo se vertalings van Nederlandse poësie en verhale maak dit vir ons moontlik om interessante variasies van ook hierdie soort skryfkuns te geniet. Vakansiehuis met swembad, ’n spanningsverhaal van die topverkoperskrywer Herman Koch, is één so ’n "mooi lelike boek".

Eintlik maak dit nie saak watter oogpunt of ingesteldheid ’n skrywer se werk besiel nie. Solank dit waarnemings met ’n emosionele impak, spannende aksie of tonele en pakkende taalgebruik in die hand werk. Die spesifieke oogpunt bring ook ’n belangstellingsveld mee, ’n vangnet vir die dinge wat die skrywer beroer en waarmee hy sy verhaal interessant kan invul.

In Vakansiehuis met swembad is dit byvoorbeeld bedenklike verskynsels van ons tyd wat die skrywer as materiaal vir sy boek gebruik. Verskynsels soos die openbare blootstelling van soms kwesbare mense in die sosiale media, of die kletskultuur van slimfoongebruikers. Hierdie dinge vul die verteller en hoofkarakter, die huisdokter Marc Schlosser, met irritasie, afkeer en soms groot sorg, waar dit sy eie kinders bedreig. Dit vul terselfdertyd die boek.

Iets onaangenaams of verkeerds ontsnap nie maklik aan dr Schlosser se suur blik nie. Of daar nou fout is met ’n bepaalde pasiënt of kennis, met die mediese dienste of die jeugkultuur in hedendaagse Nederland, met oormatige politieke korrektheid, of met die ydelhede en dekadensie van akteurs, rolprentregisseurs, skrywers en ander selfingenome kunstenaars.

Wat Marc Schlosser byvoorbeeld van ’n toneelopvoering sal opval, is dat daar opsluit iets soos ’n koor met weeskinders uit Zimbabwe ingevoeg moet word om by die heersende politieke kultuur aan te vlei.

Marc voel ook nie tot die bekoringe van die homoseksuele liefde aangetrokke nie. Hy vergelyk die onnatuurlikheid van anale seks met die verkragting van ’n klein, maagdelike meisiekind. En so word die roman ’n soort postpolitieskorrekte beoordeling en skets van ons eie era, veral soos dit in Wes-Europa daaraan toegaan, volgens die verteller en hoofkarakter.

Dit lyk asof die verhaal, soos vertel deur die hoofkarakter, die polities-korrekte kultuur as ’n dwingelandy van die teennatuurlike en teeninstinktiewe voorstel. Marc argumenteer byvoorbeeld dat ouers se instinktiewe verlange na ’n seun eerder as na ’n meisie (of ’n tweede meisie) tot ’n taboe verklaar is, asof hierdie instink op ’n foutiewe politieke gesindheid berus. Daar het ’n politieke regime van onegte, geforseerde, vervormende goedaardigheid ontstaan.

’n Figuur uit Marc Schlosser se jare as universiteitstudent, prof Aaron Herzl, dien as mondstuk vir heelwat polities-inkorrekte bewerings in die roman, byvoorbeeld die beskrywing van homoseksuele mans as voorbehoedmiddels op twee bene, ’n maatreël van die natuur om menslike oorbevolking van die moderne wêreld teen te werk.

Schlosser is as 't ware die held sowel as die skurk van die speurverhaal of riller waarop die roman in een opsig neerkom. Hoe held en skurk in hierdie hoofkarakter vervleg is, mag ek nie verklap nie, want dit sal die verrassings van die boek bederf. Net een voorbeeld: terwyl Marc laataand op ’n strand aan die Mediterreens kus angstig op soek is na sy dertienjarige dogter, Julia, met goeie rede om die ergste te vrees, ontmoet hy sy vriend en gasheer se vrou, Judith, in die donker. Hy oorweeg dit om haar daar en dan op die sand neer te trek.

Marc is ook ’n onsuiwer of onbetroubare ek-verteller, want hy vergewe homself dinge waaroor hy gal sou gebraak het indien dit een van die ander karakters was. Nogtans is sy perspektief op sosiale of menslike foute nie noodwendig in alle gevalle vals nie. Die roman bly ’n sedeskets, ’n beeld van die vervallenheid van die hedendaagse hoër-middelklas-lewe in ’n land soos Nederland, of in die ryk strandoorde van Los Angeles, waar die storie ook ’n draai maak.

Hoe lelik die mensdom of die hedendaagse lewe ook al vir ’n suurknol soos Marc mag lyk, sal daar iets wees waarvoor hy omgee en wat vir hom lewensbelangrik sal voel. Iets wat hom uit die letargie van sy sinisme sal ruk. In Marc se geval is dit sy onskuldige maar nuuskierige, gevoelige en lewenslustige jong dogters, Julia en Lisa. Wanneer Julia verkrag word, voel Marc in sy siel geraak. Hy begin met ’n verwoede speurtog wat in ’n verskriklike debakel eindig. Die kinders in die roman dien as ’n soort skoon teenblad vir die verhaal van die verloopte volwassenes, veral die manlike figure.

Is Marc ook ’n mengeling van held en skurk wat sy politieke inkorrektheid betref? Dalk iets waaroor jy wil nadink terwyl jy hierdie lekker bitterbekboek lees.

Daniel Hugo se vertaling in Afrikaans is, soos altyd, uitstekend. Dit is die tweede Herman Koch-roman wat hy vertaal. Met die eerste, Die aandete, het dié Nederlandse skrywer wêreldroem verwerf.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top