Vader Nolan

  • 6

Prent: Robert Cheaib op Pixabay

Sol justitiae illustra nos.

Daar was verlede week in die Kaap weer so ’n vergadering van geestelike leiers in die St George-katedraal om te beraadslaag oor aan wie se kant hulle dink die Opperwese wil wees in die stryd tussen die Kanaäniete en die Filistyne in Gaza.

Hulle lyk asof hulle in ’n verknorsing sit. Dieselfde soort verknorsing as die godsdienstige kaders wat in die meer onlangse tyd dikwels beangs bymekaarkom om die euwels en sondes wat nou die mense in ons land teister, onder die loep te neem en ons by wyse van spreke deur die Rooi See uit wil lei na die beloofde land.

Dit is die soort van verknorsing waarin aartsbiskop Desmond Tutu beland het toe hy voor sy dood sy gebede met twee tonge hemelwaarts laat styg het.

Eers bid aartsbiskop Tutu vir die val van die apartheidstaat. En toe dreig hy om te bid vir die val van die bevrydingsbeweging wat apartheid laat sneuwel het.

’n Onverwagte wending as ’n mens in ag neem dat kerklui wat apartheid teengestaan het in die verlede, dikwels die uitgangspunt gebruik het dat die Opperwese self intiem betrokke was by die opstelling van die regverdige bedeling wat ons nou in die land geniet en van die inhuldiging van die gesalfdes wat nou op die troon sit.

Nog so ’n wandelaar in die geselskap van heilige geeste was ene vader Albert Nolan. Nolan is ’n ou bekende uit die dae toe hier nog ’n Katolieke priory op Stellenbosch was en die setel gevorm het van menige debat oor die wel en wee van ons staat en samelewing en hoe dit vertolk kon word binne die godsdienstige denkbeelde van die tyd.

Ons het hom goed geken.

In die sestigerjare was hy meer bekend vir die sielesorg wat hy aan post-menstruele vroue in die leafy suburbs bedien ten einde hulle nuutgevonde angste oor die betekenis van die lewe beter te kon bestry as wat hy later was met nuutgevonde besorgdhede oor die armoed-geteisterde gogos in Kayamandi. Sover ’n mens kan onthou, het hy toe meer saamgejag met die Domini Canis, die Honde van God, en minder aandag gewei aan sy latere meer bekende rol as ’n pleitbesorger vir die Franciskaanse kultus van verheiliging deur armoede. Meer van so ’n “tinkling among the tea cups”-sitkamer-akkedis-priester as ’n priester wat die ou ruwe kruis struikelend op sy harige bene en met handgemaakte sandale aan die voete deur die stowwerige strate van Kayamandi wou sleep.

In die laat tagtigerjare publiseer Albert ’n boek getiteld God in South Africa waarin hy, gevul met die destydse geesdrif vir kerklike relevansie, die blye boodskap bring dat die Opperwese hier in ons midde opgedaag het om stukrag te verleen aan die bevrydingsbewegings se verlossingsplanne.

In Nolan se verhaal word hierdie goddelike sydigheid nie voorgehou as een of ander afgeleë kosmiese affiniteit met die bevordering van geregtigheid op aarde nie. Die opwinding lê liewer in die suggestie van ’n daadwerklike geografiese teenwoordigheid van die Opperwese.

God kom loop in ons midde aan die voorpunt van die stryders teen apartheid. Hy staan nie afsydig teenoor die nood en die armoede van mense in Suid-Afrika nie en Hy is nou hier in ons midde om toe te sien dat dinge reg verloop. Nolan voorsien God van ’n konteks wat Hom lewendig wil maak en lewendig wil hou. Nietzsche is dood.

Vriend Albert getuig hier van ’n herspeling van die oer-teïstiese moment toe die Woord vlees word en tussen ons kom wandel.

Al ons oproepe in die verlede vir die Opperwese om uit Haar tydlose en ruimtelose blyplek af te kom en die stryd teen die onregverdiges saam met ons aan te sê, het ’n ope oor gevind. God is hier om die stryd vir geregtigheid aan te vuur en die skande van armoede uit te wis.

Sy is altyd teenwoordig daar waar een of meer Gini-indekswaarde die 0.60-merk oorskry.

Ouderwetse teoloë mag dink dat Albert miskien te voor op die wa was met sy storie. As ’n mens een van die outydse soort is, die wat nog soos ’n ou Model T Ford-karenjin met ’n slinger start, kry die vraag oor die wanneer en waar van Goddelike teenwoordigheid meer dikwels ’n “oor berge en in dale en oweral”-tipe antwoord. Anders raak iewers te maklik nêrens en oral te maklik êrens en voor jy jou kom kry, is nêrens iewers.

Vele Middeleeuse teologiese twiste getuig daarvan en iemand soos die filosoof David Hume maak dit byvoorbeeld die beslissende maatstaf waarmee hy onderskei tussen bygeloof-gebaseerde en geesdrif-gebaseerde godsdiensuitingsvorme in Christelike samelewings.

Vir die een lot sit Hy stil en verhewe soos ’n muis in ’n kalbas in sy afgeleë blyplek en vir die ander lot woel en werskaf Hy die heeltyd hier tussen ons. Die een lot wil sy toegevoegde waarde verhoog deur ons te laat sidder in die teenwoordigheid van Sy kille afwesigheid en die ander lot wil Sy toegevoegde waarde verhoog deur Hom amper as vriend in te lyf in ons eietydse konteks sonder om Hom so huismak te maak dat Sy sidder-koëffisiënt te veel aangetas word.

Nogal ’n tall order as ’n mens ook weet dat die wolke van die wederkoms nie met die beslistheid van ’n weervoorspelling op die metafisiese weerkaarte aangedui kan word nie.

Nolan raak ongeduldig met ’n teologie wat lyk of dit toelaat dat die wederkoms te lank kan wegbly om die skandes en skades wat op die mensdom neergehaal word, te verwyder deur sulke metafisiese skurke soos die hoer van Babilon, die Antichris, die vier perde van die apokalips en sulke ander nare snare aan die pen te laat ry.

In ons eie tyd en in ons eie land en in ons eie konteks sit ons met rampokkers soos koloniale setlaar-gronddiewe, geldgat-kapitaliste wat sit en smul aan die vruggies van die vlees in die teenwoordigheid van kwasjiorkor-geteisterde kinders en swart mense wat vertrap word deur die brutale praktyke van ’n apartheidstaat.

En met ’n staatslui wat hulle godsdienstige inspirasie put uit ’n hoofsaaklik Calvinisties-gevormde teologie wat hulle laat glo dat God hulle na die land gebring het om die plaaslike heidinne te kersten en om die aanwending van die robuuste werkswyses wat teen wil en dank vereis word om die gerwe in bring, te regverdig.

In die ekstatiese visie wat Nolan in sy boek God in South Africa vir ons teken, het die Woord vlees geword en tussen ons begin wandel in die gewaad van die ANC. Nou het die Opperwese ’n werktuig in situ. Verlossing gaan nou kom en kierang gaan nou braai.

Nolan se Dominikaanse kerkorde het die KGB van die Vatikaan, die Heilige Inkwisisie, in die lewe geroep en hulle is bekend daarvoor dat hulle nie snert van kabouters vat nie. Lol met hulle en jy sal jou heiland leer ken. Hulle het ook die auto-da-fé vervolmaak lank voor Winnie met vuurhoutjies begin speel het. As jy kierang wil sien braai, kan jy die wyn bring as jy wil. Hulle sal sorg vir die hout en die kole.

Nou, so ’n storie kan mos maak dat die polities-nuutgesalfdes kan begin glo dat hulle inderdaad aan die roer van sake gaan bly tot by die wederkoms. Hulle aankoms was mos al klaar self so ’n baster-halfpadhuis in die aanloop tot die wederkoms.

Of dat hulle kan begin glo dat die Waarheids- en Versoeningskommissie inderdaad die waarheid gaan vind en versoening daarop gaan volg.

Of begin glo dat die God wat in so ’n teologie staangemaak is, ’n God is wat tussen ons rondwandel liewer as een wat tussen ons rondwankel soos ’n VVO-vredesgesant wat nie kan wag tot sy vliegtuig vertrek na ’n ander oord van smart en trane nie.

Of begin glo dat as die witterige onregplegers uit die vorige bedeling die poorte van die Stad van die Regverdiges wil betree, hulle eers ’n ruim boetedoeningstolgeld sal moet betaal.

Of selfs tot ’n bestendiging van die geloof dat die Almagtige, op ’n ander besoek, by Bloedrivier ’n sanna afgevuur het ten behoewe van ’n ander klomp saligheidsoekers.

Daar is ’n gesegde wat lui dat ’n mens versigtig moet wees oor wat jy wens, want dalk word jou wens vervul. Miskien geld dieselfde vir jou gebede.

...........
’n Mens kan jou te maklik aanmatig om voor te gee dat jy weet wat die Opperwese nou eintlik wil, solank as wat Sy wil dieselfde is as wat jy wil. Al is jou naam vader Nolan of al is jy ’n aartsbiskop.
.............

’n Mens kan jou te maklik aanmatig om voor te gee dat jy weet wat die Opperwese nou eintlik wil, solank as wat Sy wil dieselfde is as wat jy wil. Al is jou naam vader Nolan of al is jy ’n aartsbiskop.

Ons weet dat die bron waarop hierdie twee heiliges staat maak om hulle saak te sterk die heilige skrif is, maar ná die Babelse verwarring praat God se mense nie meer uitsluitlik Hebreeus nie en is Latyn en Grieks ook deesdae nie eintlik meer tale waarmee ’n mens sondermeer vlekvrye vertolkings kan maak as dit aankom oor die kwessie van hoe ons sien in spieëls en raaisels nie.

Daardie ou klomp post-moderne toringbouers moes ook maar op die ou ent, te wyte aan onderlinge vertolkingstwiste, bes gee en die aftog blaas. Hoekom sal ons eietydse toringbouers dan nou danig beter vaar?

So, wat staan Nolan se Opperwese te doen as die ANC volgende jaar ná die verkiesing ontsetel word as die regering? As die prins in Hamlet, by wyse van spreke, van die verhoog afloop? As die broad church struikel op die weg na Golgota? As die brode en die visse te min word om die skare te voed en hulle begin klipgooi na die kerk se karre wanneer hulle deur die township se strate ry?

Of as Haar verbondsvolk die aftog moet blaas (God behoede) teen Nolan se geseënde Filistyne in die huidige konflik in Gaza?

Beteken dit dat sodra God se uitverkore volk die oorlog wen hulle dan, as ’n straf vir so ’n stuk ongebreidelde hubris, dadelik aan hulle vyande uitgelewer sal word en hulle voorgehou sal word as die skurke in die verhaal?

Dit lyk asof so ’n uitgang deur die St George-lotjie in hulle gebede in die katedraal afgesmeek word. Hulle maak staat daarop dat toe God nog ’n Jood was, Hy dikwels Sy volk sommer so uit die blou met onverwagse stukke straf besoek het net om hulle op hulle tone te hou. ’n God moet sy mense laat sidder en aan die raai hou anders maak hulle hom mak en hou hulle hom soos ’n hanslam aan wat hulle kan slag wanneer hulle wil. Of om oorlog te maak teen weerlose Filistyne soos hulle wil.

Want is Jahweh dan nie ’n siddergod nie?

Gaan die voorhangsel weer skeur?

Is ’n Babiloniese ballingskap vir die Jode weer op hande?

Gaan Biden, as dinge te ver skeefloop en Hamas se uMkhonto we Sizwe daarin slaag om hulle oor die Rooi See terug te jaag, vir hulle ’n shtetl in Brooklyn inruim of vir hulle so ’n Gaza by the Sea op Miami Beach as ’n kibbutz ontwerp waar hulle hulle gemeenskapslewe ongehinderd kan voortsit?

Vader Nolan is ongelukkig nie meer met ons sodat hy die ding vir ons teologies kan kontekstualiseer en op dié manier dalk uitkoms kan bring nie.

So sluk maar ’n wind en bly wonder.

Naskrif.

Daar is natuurlik nog baie ander fanatici van die apokalips wat, soos Nolan, voortdurend gebede ten hemele laat styg om die opperwese te oortuig dat dit nou gebiedend noodsaaklik geword het om die fabrieksfoute van moderniteit, soos imperialisme, kapitalisme, kolonialisme en die besoedeling van Gaia se maagdelikheid, vir eens en altyd uit te wis.

Maar wat word van ons ander arme drommels wat die wereld se kwale in sekulêre kategorieë wil bloot lê? Ons kan mos ook sien dat as Netanyahu soos ’n blinde mol bly hopies opstoot in Gaza hy later die gat so diep kan grawe dat hy nie weer  sal kan uitklim nie. Dat hy “eyeless in Gaza” soos ’n Simson van ouds kan rondploeter totdat die rommel wat hom te pletter val saam intuimel met die pilare wat hy op homself aftrek om die Filistyne te vernietig.

Dat hy soos Sysiphus gaan klippe rol  in Gaza.

Al skrale troos wat ons kan aanbied, is dat as sy mense hom nie kan uitbid nie hulle hom dalk darem kan uitstem.

  • 6

Kommentaar

  • Ek weet nie wie Jannie Gagiano is nie, maar sy minagtende taalgebruik en sy verwysing na die Opperwese laat my dink hy is self a Vrymesselaar-mistikus wat glo hy is bo die geskiedenis en kan alteoreties-rasionalisties die wêreld verstaan. Miskien sal Nietzsche se Vrolike Wetenskap en Genealogie vir die Moraal 'n spie-el van sy eie grootheid wees. Shalom

  • Die moderne Israel is nie die Israel van die Bybel nie. Die Christendom en dié se geloof, hoop en vertroue is in Jesus Christus.
    "So sluk maar ’n wind en bly wonder."

  • Ek weet ook nie wie Jannie Gagiano is nie. Maar een ding is seker, elke generasie hersien gewis die "ewige waarhede" van die Bybel. Trouens, niks wat in God se naam gedoen word, het enige iets met enige God te make nie. Dis alles die keuses, besluite en aksies van mense. God self is ook 'n keuse. Dit is wat ek uit die skrywe neem.

  • George Redelinghuys

    Baie dankie vir hierdie briljante artikel. Lank laas so entoesiasties gevoel oor 'n skrywe op SêNet. Teologiese en Bybelse interpretasies vir sekulêre probleme sal altyd faal omdat die bron, aldus die uitgangspunt, vir so 'n kontruering, nl die Bybel, self 'n feilbare en onperfekte manuskrip is van 'n vergange tyd. Dus, as die vertrekpunt reeds gebrekkig is, hoe kan mens verwag dat die resultaat enigiets beter kan wees?

    Ek verwonder my dat Westerse mense nog na drie duisend jaar van sg ontwikkeling nog kan of wil glo in 'n Joodse stamgod wat alomteenwoordig en almagtig is. As dit wel so is, kan hy mos in die knip van sy oog al die ongeregtigheid van die wêreld verwyder, en daardeur sy bestaan ook regverdig. Maar die teoloë en geestelikes kan bid tot hulle blou is in die gesig en niks sal gebeur nie, of miskien is 'n rewolusie Kubaanse styl die antwoord.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top