1. Jy het pas ’n referaat gelewer by USAN se kongres vir jong navorsers. In ’n sin: Wat was jou indruk van die kongres?
Dit was goed georganiseer , interessant en ’n goeie platform vir navorsers (soos ek) wat nie genoeg selfvertroue het om referate by konferensies te lewer nie.
2. ’n Kongres vir jong navorsers was geskiedkundig binne die Suid-Afrikaanse konteks, soos Louise Viljoen in haar verwelkoming en Johan Hattingh in sy opening gesê het. Wat beteken dit vir jou om ’n “jong navorser” genoem te word?
’n Jong navorser is iemand wat navorsing gedoen het, maar dit nog nie bekendgestel het aan ander akademici nie. Dit is ook iemand wat nie baie ervaring in navorsing het nie.
3. Was daar by die kongres geleentheid om navorsingsidees met medekongresgangers en -referaataanbieders uit te ruil? Watter referate wat hier gelewer is het jou persoonlik interesseer?
Ja, daar was geleentheid om navorsingsidees met ander uit te ruil. Alle navorsing oor taalleer het my persoonlik interesseer.
4. Joan Hambidge se hoofreferaat het gehandel oor DJ Opperman, voorheen haar studieleier en digterlike mentorsfiguur. Het jy by hierdie kongres ook soms geleentheid gekry om aan die voete van gryser meesters te kon leer?
Ja, ek kon baie leer uit die hoofreferaat van Rufus Gouws, maar ek kon ook baie uit my informele gesprekke met Ronel Vorster leer.
5. Op die kongres se openingsaand is genoem dat een van die hoofmotiverings om akademiese navorsing te doen, geleë is in “intellektuele genot”. Maar ons almal het ook brood op die tafel nodig, of hoe? Wat is vir jou persoonlike oorwegings waarom jy navorsing doen?
Ek is ’n taalmens, maar ongelukkig werk ek nie in ’n akademiese departement nie (ek werk in ’n direktoraat wat steun aan dosente gee). Die rede waarom ek navorsing doen, is om my passie vir taal en navorsing uit te leef; dit is ook ontvlugting uit die soms vervelige en veeleisende werkverpligtinge. Navorsing laat my goed voel en dit help om my selfbeeld op te bou.
6. Die kongres is deur die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands georganiseer. Johan Hattingh het in sy opening verwys na hoe tale grense kan oorsteek en nuwe diskoerse kan ontsluit. Dus is hier ook, buiten die klem op ouderdom, ook ’n fokus op taal. Wat beteken taligheid vir jou – by die kongres en in jou studies?
Dit gaan vir my oor wat ons vir ons taal doen, wat ons oor taal glo en dit wat ons laat wonder oor taal. Dit kan insluit kwessies soos taalregte, taalverskuiwing, ensovoorts, maar dit kan ook gaan oor dit wat mooi, snaaks en vreemd in taal is. Dit gaan ook oor wat taal vir ons kan doen.
7. Johan Hattingh het in sy opening verwys na ’n ander kongres waar kursusgangers gevra is om hul referate in ses sinne op te som. Kan jy dit probeer doen?
Die afstandsonderriginstellings staar baie uitdagings in die gesig, wat dit moeilik maak vir studente om suksesvol in hul studies te wees. As gevolg van baie faktore is studente, veral afstandsonderrigstudente, nie heeltemal opgewasse vir die eise wat tersiêre instellings stel nie. Ek het linguistiese kriteria geïdentifiseer wat skrywers kan gebruik as hulle vir afstandsleerders skryf. Ek het ook drie studiegidse geëvalueer aan die hand van hierdie kriteria. Dit is belangrik dat skrywers hierdie kriteria gebruik, aangesien dit kan bydra om die gaping tussen die nie-akademiese kultuur van die leerders en die akademiese kultuur van die dosente te oorbrug.

