US Woordfees: Wat nou, Suid-Afrika?

  • 12

watnousuidafrika250Al word die engel Gabriël Suid-Afrika se volgende president sal dit nog sewe jaar duur om die gemors in die land reg te maak.

So het die oudrektor van Noordwes-Universiteit en tans die nie-uitvoerende voorsitter van die FW de Klerk Stigting, Theuns Eloff, tydens die bespreking van sy nuwe boek, Wat nou, Suid-Afrika?, by die Woordfees gesê.

Eloff het sy gedagtes in ’n volgepakte ATKV-Boektent gedeel oor daardie dinge waaroor alle Suid-Afrikaners om braaivleisvure wonder en praat: Is ons ’n mislukte staat?

In sy gesprek met die politieke joernalis Jan-Jan Joubert het Eloff geen doekies omgedraai nie. Die land is in groot moeilikheid, maar dit is nie nodig om in sak en as te gaan sit nie.

Wat hom betref, is die land nie ’n mislukte staat nie, maar wel ’n gekweste staat.

Die wonde wat die land toegedien is, sny diep. Eloff het geen rooskleurige prentjie geskep van die huidige Suid-Afrika nie. Die bedreigings wat op almal se lippe is, rammel hy die een na die ander af: werkloosheid en verlammende armoede, die impak van regstellende aksie, die bedreigings vir die oppergesag van die Grondwet, die probleme in ons onderwys, misdaad ... noem maar op.

_MG_3006

Eloff se kommer en hoop vir die land word nie uit die duim gesuig nie. Hy steun op die jongste navorsing en op sy ervaring in die politieke en sakewêreld om nuwe perspektief op al hierdie kwelvrae te gee.

Eloff het Woordfeesgangers vinger op die pols vertel hoe hy die land tans beleef en waarom hy ondanks alles steeds passievol is om nie net by braaivleisvure te sit en mor nie, maar om die bul by die horings te pak. Hy glo dit kan gedoen word sonder om altyd polities korrek te wees.

Met dieselfde passie waarmee hy hom destyds as studenteleier beywer het vir ’n beter en regverdiger Suid-Afrika, doen hy dit nou nog. Almal wat die geskiedenis ken, sal onthou hoe PW Botha sy en die ander jong “rebelle” van destyds se paspoorte wou terugtrek toe hulle in die tagtigerjare deel was van ’n groep Afrikaners wat Dakar toe is om met die ANC te praat oor die land se toekoms.

Eloff praat uit ondervinding van die donker verlede van destyds wanneer hy oor vandag se troebel stand van sake gesels.

Dit is nie net die staat wat die wonde dra van dit wat tans in die land gebeur nie. Eloff is self diep gewond as rektor by die Universiteit van die Noorde. Wonde waarvan die letsels duidelik nog sigbaar rou is.

“Ek het bewustelik nie in hierdie boek oor hoër onderwys geskryf nie,” sê Eloff. “En ek sal dalk net te kwaad raak as ek vandag daaroor praat.” Maar hieroor is die laaste woord duidelik nog nie gespreek nie. Hy het aangedui dat dit waarskynlik die volgende boek is wat besig is om in sy kop te broei.

Eloff gee toe dat die land nie in ’n japtrap in ’n paradys sal verander nie. Enige nuwe president wat ná Zuma kom, sal van voor af moet begin en ’n nuwe kultuur van etiek in veral die staatsdiens moet invoer.

Terwyl regerings regoor die wêreld kaderontplooiing suksesvol gebruik het om hulle onderskeie lande reg te ruk deur die regte mense in sleutelposisies te plaas, gebruik Zuma dit om diegene naaste aan hom in daardie posisies aan te stel om homself te bevoordeel, sê Eloff.

Ook die manier waarop regstellende aksie toegepas word, het ’n verwoestende uitwerking op die land. Die gevolg daarvan is dat die minderheid van die bevolking ontuis voel in hulle eie land en onbevoegde mense soms aangestel word in poste wat hulle nie kan bemeester nie.

Dit is veral die chaos in die onderwys wat hom kwel. Die grootse sondebok hier is volgens hom die ANC-geaffilieerde onderwysvakbond Sadou. Hy glo dié vakbond het ’n verwoestende greep op die land se skole wat die opvoeding van kinders duur te staan kom.

Die ander vrot appel in die onderwys is die taalprobleem. Nie Afrikaans nie, maar Engels. Leerders met inheemse tale as moedertaal ontvang van graad 3 af onderrig in Engels in plaas van in hulle eie moedertaal. Dit terwyl die meeste van die onderwysers nie eers self behoorlik Engels kan praat nie!

Om hierdie probleem reg te stel sal volgens Eloff minstens 12 jaar – die lengte van ’n kind se skoolloopbaan – duur.

_MG_3017

Die woelinge op voorheen Afrikaanse universiteitskampusse en die optrede van organisasies soos Solidariteit en AfriForum se jeug om Afrikaans as onderrigtaal te verdedig is een van die sake waaroor Jan-Jan Joubert Eloff gepols het. Wat doen Solidariteit en AfriForum reg om die onrus op kampusse aan te spreek en wat doen hulle verkeerd, wou Joubert weet.

Met sommige se goedkeuring en tot ander se ontsteltenis was Eloff besonder sag en tegemoetkomend oor die jeug van AfriForum en Solidariteit se optrede op die kampusse, al stem hy nie altyd saam met hulle strategie nie.

Sy verduideliking is dat baie Afrikaanse studente nie polities geskool is nie. AfriForum se jeug is volgens hom die enigste organisasie wat studente weer meer betrokke gemaak het en hy verwelkom dit.

As voorbeeld van hulle sukses het hy die onlangse ooreenkoms genoem wat tussen Solidariteit, AfriForum, die ANC en die SAKP bereik is om gemoedere op die kampusse te kalmeer. Hy gee toe dat dit net ’n tydelike alliansie is en dat die ANC en SAKP dit gebruik om die EFF voor die plaaslike verkiesing te isoleer. Die belangrikheid van so ’n ooreenkoms moet egter nie onderskat word nie.

In die algemeen gaan dit nie so sleg in die land ten opsigte van rasseverhoudings as wat mens altyd in die media lees nie, sê Eloff. Veral onder die gemiddelde inkomstegroepe van Suid-Afrikaners is daar ’n groter saambestaan tussen die verskillende rasse.

Hy waarsku egter dat die land groot moeilikheid in die gesig staar as daar nie daadwerklike pogings aangewend word om hierdie saambestaan deel te maak van ons kultuur nie. As die land nie daarmee slaag nie, kan Suid-Afrika maklik ’n twee Rwanda word, waar etniese konflik gedy en een groep deur ’n ander groep geteiken word.

Oppas vir oordrewe politieke korrektheid, het Eloff gewaarsku. Dit is ewe destruktief. Daar is ’n fyn balans tussen buffelagtige optrede soos dié van sommige verregses en politieke korrektheid.

_MG_3009

Die gesprek is afgesluit met ’n vraag van Joubert of Eloff hoop het vir die land se toekoms. Sy antwoord was ’n onomwonde ja, maar dit sal harde werk kos. Hy glo die geskiedenis het bewys dat Suid-Afrikaners al telkens tot baie naby aan die afgrond beweeg het, maar elke keer as hulle voor die afgrond te staan kom, besef hulle dit is beter om daarvan weg te beweeg as om oor die afgrond te tuimel.

Dit is nie net die regering wat moet verhoed die land na benede stort nie. Daar is genoeg Suid-Afrikaners van alle rasse met gemeenskaplike waardes om te keer dat die afgrond ons voorland is.

Dit gaan tans sleg op baie terreine, maar wat is tien jaar in ’n land se leeftyd? het Eloff gevra. As studenteleier, predikant, voorsitter van ’n skoolbeheerliggaam, Dakar-ganger, administrateur by die vredesonderhandelinge en Kodesa, sakefasiliteerder, voorsitter van die Aardklop-kunstefees, president van ’n nasionale sakeorganisasie en rektor van Noordwes-Universiteit het Eloff al talle afgronde in die gesig gestaar.

Mens kan net hoop en glo hy is reg dat ook die huidige afgrond waarvoor die land hom bevind, tydelik is.

theunseloff650_woordfees

Foto's Naomi Bruwer

  • 12

Kommentaar

  • Eerlike refleksie, harde werk en opofferinge is baie belangrik. SA is 'n land met 'n multikultirele samelewing, waar mens wat soms teenoor mekaar staan mekaar se hande moet vat om te bou.
    Moenie alle skuld op een man se skouers plaas nie. Daar was so baie skeef gebou of net na die eenkant toe, dat ruimte gegee moet word ook vir mense aan alle kante wat verontreg voel. Dit sal eers moet uitwoed. Daar is ook mense wat verskriklike dinge meegemaak het en hulle vertroue kwyt is. Net veg vir die behoud van jou eie rig skade aan.
    Waar mense nou mag in hulle hande het, moet mens met groot omsigtigheid en verstandig dinge aanpak en doen. Moenie bou op leuens nie. Sien die werklikheid raak. Soek regverdigheid en geregtigheid vir Almal. Daar moet saam gebou word. Alles is moontlik, maar dit gaan offers vra. Groete. Annatjie

  • Suid-Afrika het meer manne van Eloff se kaliber nodig om ons land reg te ruk. Hy deins nie terug of ontken die realiteit van die land se toestand nie. Ek hou van 'n man wat sy man kan staan.

  • Johannes Comestor

    Dit sal baie meer as sewe jaar neem om die land weer reg te trek. Heel moontlik is dit 'n onbegonne taak. Eloff draai wel doekies om. Hy verreken nie die aandeel wat hy gehad het in die totstandbrenging van die huidige chaos (bv die ANC-regering) in Suid-Afrika nie; ook nie sy aandeel in die verkiesing van Dan Kgwadi as rektor van die Noordwes-universiteit nie. Eloff was nooit die rektor van die Universiteit van die Noorde/Limpopo nie; wel van die Potchefstroomse/Noordwes-Universiteit.

  • Dr Johan Kloppers

    Wat het geword van Mnr F W de Klerk se wigte en teenwigte? Sien geen van sy waarborge nie.

    • Johan, ons kan nie staat maak op wigte en teenwigte nie. Dit is om die opponent te onderskat of nie te ken nie. Afrika se manier van doen en denke is nie westers nie. As dit nie vergryp word nie, sal probleme bly en selfs groter word.
      Soos dit nou lyk ten spyte van al die persentasies wat rondgegooi word, is nie rekening gehou met die ideale van die swartman nie. Terwyl Rome brand baklei hulle oor eie belange. Wie hou rekening met die woede in mense wat veronreg voel? Daar gaan groot offers gevra word. Groete. Annatjie.

  • Kobus Du Plessis

    Interessant hoe die liberaliste nou "bekommerd" raak oor die verwronge plant waarvan hul die saad gesaai het. Skielik is selfs hierdie verloopte politici en kwasi leiers bekommerd oor die situasie in die land. 'n Situasie wat donkiejare voorsien is. Ek moedig almal aan om op die internet te gaan oplees omtrent "Operation Hammer". Hier sal u sien waaroor die Afrikaner deur sy "leiers" verraai is en watter astronomiese vergoeding hul ontvang het daarvoor. Dis interessant dat Theuns vir die FW de Klerk-stigting werk.

  • Ons betaal vandag die prys vir uitkomsgebaseerde onderwys, dws klassieke Griekse metafisiese denke wat in terme van binêre teenstellings dink en wat gebaseer is op die aanname van self-teenwoordigheid ([ek dink!] ek weet wat ek dink). Vanuit 'n Derrideaanse perspektief is dit omtrent om agteruit te beweeg het. Derrida wys hoe wat nodig is, die bereidwilligheid om te sien wat mens lees en te lees wat mens dan sien. Dit is inderdaad nie maklik nie en vereis 'n sekere ongehoorde braafheid. Maar dit kan gedoen word - treffende tekste bly verskyn. Vir hierdie takie is kennis van grammatika baie handig. Ek het by 'n skool uitgehelp die afgelope kwartaal en was verstom oor hoe aandag aan grammatika verminder is. Jy kan nie goed lees of skryf - veral op universiteit - sonder 'n goeie basiese kennis van grammatika nie. Om sinne en sin te kan maak, moet jy jou werkwoorde kan herken. So, ek weet nie. Dit is glo die nuwe CAPS ...

  • 'n Goeie, bondige en baie leesbare stukkie deur Barbara Dalle Pezze getiteld "Heidegger on Gelassenheit" (2006), laasgenoemde as "Higher Acting and Waiting" volgens Heidegger - Derrida wys by herhaling hoe dit neerkom op daardie openheid om te sien wat jy lees en te lees wat jy sien - as die alternatief vir self-ondergrawende uitkomsgebaseerde denke: http://www.minerva.mic.ul.ie//vol10/Heidegger.html

    • Dit is agv Van Heidegger haar leermeester, wat Hannah Arends, Eichman vrygepleit het in Israel. Die Jode wou alle gebeure in die konsentrasiekampe op hom afreageer. Hulle kon haar heeltemal nie begryp nie. Sy het nie meganisties gedink nie, maar met ruimte, geduld, (Gelassenheit) sy saak benader. Sy het nie net liniêr gedink nie. Sy het meditatief gedink.
      Ek glo dat die probleme in SA ook nie klinies ontleed kan word nie. Daar moet ook ruimte kom vir Gelassenheit. Soms moet mens vooropgestelde idees loslaat en ruimte gee vir nuwe denke. Annatjie

  • tienie fourie

    Eloff is ’n goeie mens, maar hy moet noodsaaklikerwys die beskouing van die De Klerk stigting weergee. Die waarheid is dat De Klerk ’n onderhandelde skikking beding het, maar die jonges wat nie in die apartheidstryd was nie, wil nou alles hê.

    • Tienie, ten spyte van die foute wat in die verlede gemaak is, moet ons vorentoe kyk. Verwyte gooi gaan ons nêrens bring nie. Ons moet nou hande sterk om goed te reflekteer en dan die situasie sien soos wat dit werklik is.
      Begin om te aanvaar dat SA bestaan uit twee wêrelde van mense wat nie dieselfde na die wêreld kyk nie. Vandaar moet beweeg word om eerlik met begrip hande te vat. Werklik saam te soek na die moontlikhede vir saamleef in SA. Nie gebruik maak van goedkoop politiekery nie. Soek ook nie eie belang maar belange van almal in SA.
      Eerstens is werklikheid dat strydende mense wat verontreg voel, reg of verkeerd nou die mag in hande het. Daarby is hulle ook by verre in die meerderheid.
      Mens kan nou die hele tyd spiere probeer wys, of verstandig luister na en probeer verstaan wat hierdie mense wil hê. Ons het hulle geleer dat mens vir alles baklei want hulle kyk alleen na die uiterlike manifestasies van die Westerlinge se handelinge. Vir hulle gaan alles oor mag. Dit sal hulle nooit prysgee nie ...
      Probeer bouwerk ipv oorlog waarvan almal so maklik praat.
      As gelowiges kan ons ligdraers wees in 'n donker wêreld. Sterkte. Annatjie

  • Die waarheid is dat die onderhandelinge plaasgevind het met mense wat ander uitgangspunte gehuldig het as diegene wat hul na die onderhandelingstafel genooi het.
    Vir baie was die verkryging van mag die eerste stap om die ideale vervat in die Vryheidsmanifes te verwesentlik en sien ons vandag konkrete stappe in die rigting dmv wetgewing soos bv die 'Expropriation Bill' wat eintlik daarop gemik is om wat gesien word as die ongelyke grondverdeling van die verlede reg te stel.
    Die grondwet beskerm net 'n mens se regte op papier en nie in die praktyk nie. Dit is slegs diegene wat goeie regsverteenwoordiging kan bekostig of kollektief in organisasies kan optree wat die sg wigte en teenwigte 'n werklikheid kan maak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top