US Woordfees-programbekendstelling: Marga Stoffer oor die voorgestelde kopiereg-wysigingswetsontwerp

  • 2

Marga Stoffer het Media24 verteenwoordig by die bekendstelling van die US Woordfees 2019 se program. Sy het by die geleentheid die gehoor ingelig oor die voorgestelde kopiereg-wysigingswetsontwerp en watter verreikende implikasies dit vir Suid-Afrikaners binne die skeppende bedrywe inhou.

Marga Stoffer het Media24 by die US Woordfees se programbekendstelling verteenwoordig.
Foto: Naomi Bruwer

Woordfees-programbekendstelling
Endlersaal, US Konserwatorium
16 November 2018

Goeienaand, dames en here. Dit is vir my ’n voorreg om vanaand namens Media24 hier te wees. Soos u weet, was Media24 reeds vanaf die vroeë dae van die Woordfees een van die hoofborge van die fees.

Die finansiële ondersteuning van die Woordfees is ’n belegging in Afrikaans, en in dit wat in en deur Afrikaans gedoen kan word. Dit is ook ’n belegging in die kreatiwiteit van ons mense, sodat geleenthede vir hulle geskep kan word om deur hulle woorde ons almal se stories te vertel en met mekaar in gesprek te tree – of dit nou in boekvorm of in die teater is, in musiek en liriek of in film. Die Woordfees het ’n ongelooflik waardevolle broeikas vir kreatiwiteit geword en gee nuwe lewenskragtigheid aan die Afrikaanse kultuuromgewing.

In die konteks van kreatiwiteit en inisiatiewe soos die Woordfees wat kreatiwiteit deur die medium van taal – in verskillende vorme – aanwakker en uitbou, glo ek dit is belangrik dat u almal kennis neem van die bedreiging wat die skeppende bedrywe (letterkunde, musiek, teater, beeldende kuns, ens) op die oomblik in die gesig staar. Hierdie bedreiging kom in die vorm van ’n nuwe kopiereg-wysigingswetsontwerp wat met onbehoorlike haas deur die parlementêre prosesse gedryf is en gisteraand deur die Departement Handel en Nywerheid se portefeuljekomitee goedgekeur is. Die portefeuljekomitee oorhandig dit binnekort aan die Nasionale Vergadering om as wetgewing te bekragtig.

Ek skets vlugtig die agtergrond. Suid-Afrika het goeie kopieregwetgewing, maar die wet is verouderd en maak nie voorsiening vir die digitale era nie. Dit moes dus hersien word om dit relevant maak vir die huidige konteks, en ook in lyn te bring met die internasionale ooreenkomste wat deur Suid-Afrika onderteken is.

Die eerste konsep is in 2016 gepubliseer en is wyd gekritiseer deur regsgeleerdes, skrywers- en uitgewersverenigings, musiekorganisasies en ander belanghebbendes. Die konsensus is dat die voorgestelde wysigings aan die bestaande kopieregwetgewing rampspoedige gevolge kan hê. Twee jaar later lyk asof dit onvermydelik is dat die wetsontwerp deurgevoer gaan word met min veranderinge, ten spyte van die herhaalde en geldige besware vanuit die kreatiewe bedrywe wat grotendeels deur die portefeuljekomitee geïgnoreer is. Dit voel soos ’n trein wat in volle vaart en onstuitbaar op pad is om met die boekbedryf (en ander kreatiewe bedrywe) te bots – absoluut vernietigend.

Een van die grootste redes vir kommer is die wetsontwerp se klem op toegang en op vryer gebruik van kopieregwerke, ten koste van diegene wat dit geskep het. Gebruikers van kopieregwerke, wat groot tegnologiemaatskappye soos Google insluit, word eerder hierdeur bevoordeel.

Ons woon in ’n land waar daar bitter min staatsondersteuning vir die kunste is, en waar ons min boekkopers het. Dit is skreiend hoe min skrywers genoeg uit hulle skryfwerk verdien om dit voltyds te kan doen. Die enkeles wat behoorlik vergoed word vir hulle werk, is dié wat gelukkig genoeg is om tekste te hê wat in skole gebruik word. Maar die wetsontwerp maak dit nou vir die Departement van Basiese Onderwys moontlik om opvoedkundige materiaal sonder die toestemming van skrywers, en sonder vergoeding aan hulle, te gebruik.

PricewaterhouseCoopers het in opdrag van Suid-Afrika se Uitgewersvereniging (PASA) ’n impakstudie gedoen (om te kompenseer vir die Departement van Handel en Nywerheid se versuim in dié verband), wat aangetoon het dat die uitgewersbedryf ongeveer R2,1 biljoen per jaar sal verloor in omset. Dit is uit hierdie verkope van boeke wat uitgewerye voortbestaan en werk skep, en dit is uit hierdie verkope van boeke wat skrywers hulle brood verdien, want hulle tantième is ’n persentasie hiervan.

Dié wetgewing is nie in die belang van skrywers of uitgewers nie, en het die potensiaal om die plaaslike uitgewersbedryf ’n yslike knou toe te dien waarvan die bedryf nie noodwendig sal kan herstel nie. (Ironies genoeg sal internasionale uitgewerye beter kan herstel as wat plaaslike uitgewerye kan, wat totaal en al afhanklik is van die Suid-Afrikaanse mark.) Buitendien is die veranderinge aan die wetgewing nie net strydig is met die internasionale ooreenkomste wat deur Suid-Afrika onderteken is nie, maar ook strydig met Suid-Afrika se Grondwet.

Kopieregwetgewing is nie iets waarmee kreatiewe mense besig wil wees nie. Dit is verskriklik kompleks en, vir die meeste mense, nogal vervelig. Ons is liewer besig met kreatiewe aktiwiteite. Ek doen egter ’n beroep op almal wat omgee vir die kreatiewe bedrywe om hulle te bly beywer vir ’n regverdiger bestel vir diegene wat ons lewens verryk deurdat hulle die vrug van hulle kreatiwiteit met ons deel. Mag ons ’n manier vind om dit te beskerm.

Op ’n vroliker noot: Ons vier vanaand die twintigste Woordfeesprogram. Oor die afgelope twintig jaar het die Woordfees van krag tot krag gegaan. Baie geluk aan almal wat oor die jare by die Fees betrokke was, en baie dankie. Ek glo dat volgende jaar se Fees weer eens ’n triomf vir die kunste sal wees. Ek wens u almal ’n genotvolle en vrolike aand toe. 

Marga Stoffer

 

Klik hier vir 'n persverklaring deur die International Authors Forum: South Africa’s Copyright Amendment Bill and the need to properly support authors

 

Lees ook

US Woordfees 2019: Volledige program bekend

The Copyright Amendment Bill: an interview with Sadulla Karjiker

PEN Afrikaans AJV 2017: Terugvoer oor Kopiereg-wysigingswetsontwerp

  • 2

Kommentaar

  • francois verster

    Ek sou baie graag wou weet wat die motivering vir hierdie stommiteit is. Soos met grondonteiening sal die domino-effek verwoestend wees. Is die rede dan juis dit? Wil die regering alles wat hulle nie kan melk, beheer of dalk verstaan nie, vernietig? Alles wat neerkom op 'n vryemarkstelsel en 'n effektiewe, kompeterende staat, geanker in 'n gesonde onderwysstelsel waar inligting vryelik vloei en burgers werklik 'n geleentheid mag kry om hulself te verbeter? Dit lyk nie so nie - ons toestand word toenemend onveilig en ongelyk: die teelaarde vir indoktrinasie, opsweping en gewelddadige revolusie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top