US Woordfees ’n ongekende sukses

  • 0

Vanjaar het duidelik uit die enorme styging van ongeveer 35% in die US Woordfees se kaartjieverkope en uit die uitstekende bywoning van produksies en aanbiedinge geblyk dat mense begin agterkom dat dié fees besonder baie waarde bied. Na berekening was daar ongeveer 90,000 feesbesoeke (na 2011 se groei van sowat 50% tot ongeveer 71,000).

Selfs die sowat 250 items op die omvattende feesprogram (herhalings uitgesluit) was vir baie nie genoeg nie. Nag Ma met Sandra Prinsloo sou aanvanklik drie keer aangebied word, maar uiteindelik was daar vyf opvoerings. Ook van ander toneelstukke soos Ellen Pakkies, Die rebellie van Lafras Verwey en N is vir neurose moes ekstra vertonings inderhaas geskeduleer word om in die behoefte te voorsien. Die uitmuntende dramaprogram het van die hoogste bywoningsyfers gehad, maar ook die kontemporêre musiek is nogmaals uitstekend bygewoon.

In die feeskern by die Sasol Kunsmuseum, het die uitstallings van Paul Emsley (wat nog tot einde April te sien is) en oor die historiese woorde ‘Ik ben een Afrikaander’ wat 300 jaar gelede op Stellenbosch gesê is, baie aandag getrek.

Die Plataankafee, vanwaar RSG Nuus Monitor en Spektrum aangebied het, asook Naweekjoernaal, RSG Praat saam  met Lynette Francis en die Gespreksforum vir Geestes- en Sosiale Wetenskappe se diskoersreeks, was daagliks ’n miernes van bedrywighede.

Die Naspers Boektent was meestal driekwart tot stampvol, en in die boekwinkel en -tent het Protea Boekhuis en Griffel Media besonder flink sake gedoen, Erfurthuis was boordensvol en by De Vette Mossel langs die kunsmuseum het groepe mense mekaar verdring.

Verblydend is veral verder dat die WOW Karnaval, met bykans 18,000 mense, dramas soos Bullets over Bishop Lavis, Ellen Pakkies en Vaselinetjie, asook van die musiekprogramme en heelwat ander sessies volkome geïntegreerd was. Daarnaas was daar tydens die fees ongeveer 2,600 leerders en volwassenes betrokke by spesifieke WOW aktiwiteite. Dit toon in watter mate die US Woordfees besig is om ’n soomlose fees te raak, met wye erkenning uit die gemeenskap.

Nou begin die voorbereiding vir die 14de US Woordfees in 2013, met die tema wat Dorothea van Zyl Sondagaand aangekondig het, naamlik “Hemels”. Dit speel volgens haar in op die voorspellings dat die wêreld gaan vergaan in Desember 2012. “Indien dit nie gebeur nie, kan mense hemel op aarde by die Woordfees kom meemaak, met die skrywers en kunstenaars as ons sterre!”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top