Dit was soos growwe skuurpapier op rou senuwees om dié boek te skryf.
So het Danny Fourie by die Woordfees gesê tydens die bespreking van sy boek Vir ewig en altyd saam.
Fourie se boekbespreking was meer as net ʼn boekbespreking. Dit was ʼn viering van een van die merkwaardigste vroue in die Afrikaanse joernalistiek, Adri-Louise van Renen, wie se lewe deur kanker kortgeknip is toe sy op haar gelukkigste was kort nadat sy met haar droomman, Danny Fourie, getroud is.
Die boek handel oor daardie deel van hulle kort liefdeslewe, hulle reis met die keiser van alle kwale, met die slingerende pendulum tussen hoop en werklikheid, tussen chemosessies en skanderings, tussen hartseer en lag, tussen dae vol liefde en speel, en dae van bekommernis en stilte – immer met die swaard oor hulle kop.
Onder die talle mense wat die boekbespreking bygewoon het, was verskeie vriende, oudkollegas en familielede wat Adri-Louise geken het. Selfs haar bejaarde pa, wat op Oudtshoorn woon, het die geleentheid bygewoon.
Adri-Louise was die redakteur van LiG en die eerste vroulike redakteur van Kerkbode. Danny, wat die boek geskryf het, werk as vryskut in die mediabedryf nadat hy drie jaar gelede sy werk by Bybel-Media verloor het as gevolg van Kerkbode se Woordfeesfiasko drie jaar gelede.
ʼn Gebeurtenis waarvan Adri-Louise self vertel het: “’n Jaar van my lewe het in hierdie ding (die Woordfees-sage) opgegaan. My tweede sarsie chemobehandeling het ernstig skade gely as gevolg hiervan. Ek het natuurlik nie vrede oor die saak nie, maar ek het in my gedagtes weggestap daarvan.”
Adri-Louise het laat in haar lewe verloof geraak. Kort daarna is sy gediagnoseer met fase 4-kanker en ʼn paar maande later is sy oorlede.
Fourie sê hy het die boek geskryf vir sy merkwaardige vrou, en vir almal wat die trauma van terminale kanker beleef het en treur oor ’n geliefde wat nie meer hier is nie.
Kanker is die siekte van ons tyd, het Fourie tydens die bespreking gesê. “Dit is ʼn bedrieglike siekte wat ʼn onbeskryflike invloed het op almal rondom die persoon wat met kanker gediagnoseer is.”
Tydens die bespreking van sy boek het Danny op ʼn merkwaardige manier daarin geslaag om sy emosies te beheer. Terwyl die sangeres Annalise Wiid teen die einde van die bespreking dieselfde lied sing wat sy op Adri-Louise se begrafnis gesing het, “As alles stil word”, het die trane vrylik oor Danny se wange geloop terwyl hy daarna geluister het.
Oor die rede vir die skryf van die boek sê hy dit was nie omdat hulle verhaal so spesiaal is nie. “Dit is eerder om, soos baie ander voor my, vir dié wat belangstel ’n kykie te gee in die verwoestende effek van kanker – op die liggaam en op die geliefdes om die persoon wat met kanker leef. Ek het so eerlik moontlik probeer skryf.”
Die skryfproses het hom emosioneel verinneweer. Sy en Adri-Louise se verhaal is in baie opsigte dieselfde as dié van die skrywer CS Lewis, wie se vrou vier jaar na hulle troue as gevolg van kanker dood is en met wie hy kon identifiseer.
Op ʼn vraag van Lizette de Bruyn, wat die gesprek hom gevoer het, sê hy: “Ek het die grond aanbid waarop sy geloop het.”
Die hoogtepunt van hulle kort maar gelukkige huwelik was die dag toe sy – reeds ernstig siek aan kanker – in ʼn vlamrooi rok met hom getrou het. Sy het spesifiek rooi gedra om die lewe te vier.
“Toe sy met haar rooi tabberd die kerk instap het ek net een wens gehad en dit is dat ek iets kon doen om haar gesond te maak.”
Die eerste twintig maande van haar siekte het goed verloop. Sy het goed op die behandeling reageer. Uit van die briewe wat sy uit die blou stoel aan vriende en familie geskryf het terwyl sy chemo kry, lees mens telkens die hoop wat sy koester op volkome herstel. In haar briewe wat deel is van die boek, hoor mens Adri-Louise se eie stem van hoop op genesing.
Twintig chemosessies later en ongeveer drie maande voor haar dood het die onkoloog hulle diplomaties ingelig die einde is nie meer ver nie.
“Ek is nie kwaad vir die Here nie,” sê Fourie, wat ʼn diep gelowige is. “Maar somtyds as ek haar so mis, vra ek steeds: Here, kon U dan nie maar net ʼn ander plan gemaak het nie?”
In die voorwoord skryf Danny: “Kanker is die oudste siekte bekend aan die mens. “‘The emperor of all maladies’ – die keiser van alle kwale – het dr Siddhartha Mukherjee dit gedoop.”
Dit is ʼn titel wat Adri-Louise altyd gevoel het te veel eer aan kanker laat toekom.
’n Ierse skrywer het gesê die noodlot is nie ’n arend nie – dit kruip soos ’n rot.
Kommentaar
Dankie Jean dat jy ook hier reg laat geskied aan Danny se boek oor my ousus wie ek so vreeslik mis!