Here with a Loaf of Bread beneath the Bough,
A Flask of Wine, a Book of Verse – and Thou
Beside me singing in the Wilderness –
And Wilderness is Paradise enow.
Die Persiese digter, filosoof, wiskundige, sterrekundige en wyn-fynproewer Omar Khajjam (1048-1131) het sowat 1 000 kwatryne geskryf waarin hy die vreugdes van die hier en nou besing: die vrou, die wyn en die digkuns. In 1859 het Edward Fitzgerald 75 van hierdie kwatryne of roebaijat in Engels vertaal.
Danksy die digter-vertaler Daniel Hugo is 50 van hierdie kwatryne deesdae ook in moderne Afrikaans te lees.
Fitzgerald se Engelse vertaling is die bes verkoopte digbundel van alle tye, en Hugo se vertaling daarvan is die sewende in Afrikaans. Maar dekades lank was dit vir hom ’n uitdaging om dié beeldryke po?sie in soepel, rymende en meer toeganklike Afrikaans te herskep.

Môreaand (Dinsdag, 10 Maart), as deel van die Sanlam-musiekfees by die US Woordfees, lees Hugo nie net van sy vertalings uit sy topverkoper-bundel voor nie, maar stel die bekende sopraan, liedjieskrywer en komponis Nedine Blom haar toonsettings van 20 kwatryne van die Afrikaanse Die Roebaijat bekend. Sy kon nie die uitdaging laat verbygaan om dié klankryke gedigte in musiek om te sit nie, sê sy.
Sedert Khajjam se oorspronklike werk deur Fitzgerald se Engelse vertaling wêreldwyd liefhebbers van die letterkunde oorrompel het, het sowat 150 kunstenaars illustrasies daarby geskep en meer as 100 komponiste vanoor die wêreld is geïnspireer om die kwatryne te toonset.
Die Hugo-Blom-kombinasie was egter nodig om hierdie eeue-oue werk in ’n produksie van hedendaagse Afrikaans en moderne musiek vas te vang:
Met ’n verseboek in die skaduwee,
’n bottel wyn, ’n brood en jy daarmee
saam om vir my te sing in die woestyn –
en woestyn word ’n paradys vir twee.
- Hugo en Blom word ondersteun deur die sanger Junaid Galant, met klassieke Arabiese sang, en die kitaarspeler Jan-Willem van Houwelingen.
- Dinsdag, 10 Maart, 19:00, Weltevreden-landgoed. R120. Computicket.
- Wyn: De Grendel Rubaiyat


