US Woordfees 2019: Hot noot

  • 0

Hein Gerwel vertel aan ’n Woordfeesgehoor waarvoor hy Afrikaans in sy landbou-ekonomie-klasse nuttig vind: om nuwe studente gerus te stel, te laat ontspan, hul tuis te laat voel. Afgesien daarvan dat dit ’n demonstrasie is van die noodsaak om Afrikaans tot op universitêre vlak beskikbaar te stel, is hier ’n gesagsfiguur in Afrikaans met ’n ander velkleur as die meeste van sy studente aan die woord – en dis iets alledaags. Al beskryf hy homself as ’n “not quite black African” in die tradisie van Black Consciousness.

Die toneel wat hy geskets het, was een van normaliteit, en telkens in die gesprek in die ATKV Boektent onder die titel “Hot noot”, gelei deur Heindrich Wyngaard, was daar die kort, onderbeklemtoonde refrein tot dien effek, soos “ons is darem anderkant dit uit”, “ons is darem verder as dit”. Mercy Kannemeyer het vertel sy het “gecringe” oor die gesprek: “Wat? Alweer? Nog steeds? Is dit dan nie afgehandel nie?”

Mercy Kannemeyer

Maar sulke betuigings van normaliteit, van nierassigheid as die norm, loop deesdae ’n ander soort risiko: om jou die hele venynige debat rondom witheid en subliminale rassisme waartoe skynbaar alle nieswart Afrikane verdoem is, op die skouers te haal.

Is die nuwe bruin bourgeoisie, soos gesteekproef in die paneel, besig om witheid met sy kompleks van ontkennings as sy “jolly meelopers” in die beskrywing van Wyngaard, te bevorder? Waarop witheid, volgens sy kritici, antwoord met ’n ander angstigheid: Gaan bruin mense Afrikaans kan red? En wil hulle?

Die paneellede se titels en poste het reeds getuig van die nuwe lae van diskursiewe mag wat lank nie meer ongewoon is nie: Jeremy Veary is generaal-majoor in die polisie, Kannemeyer ’n jong MA-student in drama, en Gerwel doseer aan die Universiteit Stellenbosch. Daar was ook mag wat onttrek is, ’n gesagsgebaar op sy eie: ’n hooggeplaaste van die Universiteit Stellenbosch het op die nippertjie gekanselleer.

Heindrich Wyngaard en Jeremy Veary

Amptelik het dit gegaan oor die ervaring van Afrikaans of die Afrikanerwêreld onder diegene wat in die ou bedeling gekleurdes genoem sou word. Gerwel is genooi, volgens Wyngaard, as trustee van die Jakes Gerwel Stigting, en een van die kontekste is sy pa se striemende ontledings in 1979 van die neerbuigende en geringskattende konsepsies van bruin mense in Afrikaner-romans tot 1948. ’n Ander konteks was Kannemeyer se verwerking op die Woordfees van Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie, en spesifiek die toneel waarin die bruin gesin die afskeidsgeskenk van die koek net so los wanneer hulle weens die Groepsgebiedewet moet trek.

“Hot noot”, sê Wyngaard verder, is ’n skepping van Jakes Gerwel, en verwys na ’n ander, “selfs linkse” manier van kyk onder bruin mense na hul ervarings.

Oor Jakes Gerwel se aanklag teen die letterkunde was die antwoord kort, in Vearey se slotsom: Die geringskatting en miskenning van die dae van dooie literatore soos Rob Antonissen en JC Kannemeyer is nie meer daar nie, maar bruin skrywers is nog nie opgeneem in die kanon nie – “daar is nog baie werk om te doen.”

Hein Gerwel

Die ander vrae wou-wou opkom, maar op die ou end was die uur en ’n handvol gesteelde minute nie genoeg nie. Geen verwysing na Afrikaans op Stellenbosch nie. Of die oorlewing van die taal nie. Dis nie asof die deelnemers dit vermy het nie; dit het net nie opgeduik nie. Die naald staan nog steeds op die uur van versoening, ten spyte van al die normaliteit.

Astrid de Vos, die befondser van die Dagbreek Trust, was die enigste wit persoon, en sy het bevestig dat daar ten minste nou die sterk wil aan alle kante is om normale verhoudinge te bevorder. “Skielik is daar al hierdie platforms vir gesprek”, platforms wat die Dagbreek Trust self help skep het, met sy sesmaandelikse byeenkomste van Afrikaanssprekendes. En Kannemeyer meen die rigting waarin Afrikaans op teatergebied beweeg, is baie opwindend. Vanjaar se Woordfees is dan ook gekenmerk deur die etlike “bruin” produksies van gehalte, soos Rooilug en Gangsters.

Maar is daar nog baie uitdagings. Later, in vraetyd, het Danie van Wyk gekla oor stereotiperings wat nog wyd voorkom, soos die karakters in toneelstukke op die Suidoosterfees wat hy laasjaar gesien het. Hoe gaan ons dit afbreek? En hy het die Bill Cosby Show van die 1980’s as model voorgehou, waarop Wyngaard gewys het op die TV-reeks Suidooster.

Astrid de Vos

In die pad van gesprek, sê De Vos, staan ’n gebrek aan vertroue. Tydens hul gesprekke is baie gevalle van verkleinering opgehaal, van skrywers wat teen ’n muur van vooroordeel vasskryf. “G’n wonder die bruin stem het stil geword nie. Jy kan nie mense skaam laat voel oor die Afrikaans wat hulle praat” en dan wil hê hulle moet saamwerk aan die toekoms van die taal nie. “Sulke goed het tyd nodig.”

Vearey het daarop gewys dat Afrikaanssprekendes al lank praat. In 1983 al was daar die Suipolimpiade tussen UWK en ’n paar Matie-letterkundestudente, waarna almal ontdek het hulle is dieselfde as hulle dronk is. En Gerwel het vertel hoe daaglikse kontak stereotipes na alle kante toe afbreek. In die klas praat hy met studente wat soos AfriForum-tipes lyk, maar hom dan verras met die menslikheid van hul standpunte. Kannemeyer het, na aanleiding van Ons is nie almal so nie, ’n ander meganisme voorgestel, van bruin mense wat oor wit mense skryf.

Trouens, het Gerwel aangevoer, ’n gemene faktor vir alle Afrikaanssprekendes is die houdings van Engelssprekendes. Toe hy op Rhodes studeer het, is hy geprys: “Maggies, maar jy praat goeie Engels.” Die liberale reputasie van die universiteit het nie gekeer dat hy gevra is: “Why do you have teeth?” nie.

Dit was ’n aangename gesprek en is vaardig gelei deur Wyngaard, maar deurgaans het ’n mens gevoel iets ontbreek. Vearey het daaraan geraak toe hy praat van die “akademiese waanbeeld van die plattelandse kind” vanuit ’n ontwikkelingsoogpunt. “Ons moet hard werk aan [die verbetering van] stoflike omstandighede. Daar is veel meer te doen as om net die akademiese kind uit te lig.” Daar moet al van laerskoolvlak na alle kinders gekyk word.

Maar dit was eers met die vrae uit die gehoor dat die vinger die knoppie gekry het: die knellende armoede onder die meeste bruin Afrikaanssprekendes. Die sielkundige Quinton Adams het dit pront gestel: Daar kan nie gelyke vennote wees solank daar ekonomiese ongelykheid is nie, die grootste Afrikaanssprekende groepering (bruin Afrikaanssprekendes) nie toegang tot die kapitaal het nie, en net “deel van die staatstoelae” is. Hulle kan die rigting van Afrikaans en Suid-Afrika nie bepaal nie. “Dit gaan ’n baie, baie lang pad wees” as hulle nie deel van die besluitneming oor instansies en kunstefeeste word nie.

Gerwel het geantwoord dat daar ’n manier gevind moet word om ’n impak te maak op mense wie se lewens niks verander het sedert 1994 nie. “Ons moet diep dink, buite die doos.” Herverdeling van grond is nie die antwoord nie, want boer is te moeilik vir die meeste mense, maar wat van ’n herverdeling van aandele?

Heindrich Wyngaard

Vearey, wat Wyngaard ’n Facebook-filosoof genoem het na aanleiding van sy inskrywings, waarvan baie opgeneem is in sy trefferboek Jeremy van die Elsies, het gesê bruin skrywers het nog baie wêrelde in hul eie omgewings om oop te skryf. “Wie het gestereotipeer? Ons moet dit self aanspreek … dis nie net swart teen wit nie.” Daar is klasfaktore, stedelik teenoor platteland …

Danny Titus het gesê Afrikaanssprekendes kan nie meer bekostig om vir mekaar te lieg nie. ’n Waarheid-en-versoeniningskommissie is nou dringend nodig, en De Vos het saamgestem “dis intens noodsaaklik”. Titus stel ’n drieledige basis voor, nes met die oorspronklike WVK. Eerstens: Wat is die waarheid omtrent Afrikaans? Tweedens, bekentenisse oor hoe Afrikaanssprekendes hul taalgenote te na gekom het. En derdens, ’n proses van versoening.

So iets sal ons laat besef watter enorme kragte in Afrikaans opgesluit lê. Vearey het vroeër vertel van die Afrikaanse woorde wat hulle moes vind in die struggle-dae. Die UDF-opstandelinge het gespot met die “staat van emergensie”, ’n beskrywing wat eintlik goed sal pas in vandag se taalworstelinge: Afrikaans moet nou ’n era van die opkoms van nuwe vorme, nuwe velde betree, gelei deur die tone van die hot noot.

Foto's: Gerrit Rautenbach

Lees ook

Video: "Hot noot"-gesprek by die US Woordfees 2019

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top