US Woordfees 2018: Weerkaats

  • 0

Retief Scholtz vier elke verhoogproduksie wat hy op die planke bring met ’n nuwe tatoeëermerk wat die skryfstuk simboliseer. As hy teen dieselfde tempo aanhou skryf soos wat hy nou doen, gaan hy binnekort lyk of hy met ’n nat … uhm … Ink (kug-kug) of dan nou Argus bygedam is. (Om nou die vreeslik geykte sêding te gebruik.) Wat nié geyk is nie, is die inhoud van sy werk. Hy verdien sonder twyfel die pryse wat hy so met skynbare gemak, die een na die ander, inryg.

Weerkaats, met die lieflike Milan Murray, het laas jaar reeds die lig gesien, maar hierdie drama se lof word steeds uit alle oorde besing. Scholtz is nét nou die dag bekroon met ’n Fiësta-toekenning vir Beste opkomende kunstenaar vir die teks van Weerkaats en ook vir sy debuutwerk, Dop. Een van die ander jong Turke wat al ’n geruime tyd besig is om sy unieke stempel op die dramawêreld af te druk, Philip Rademeyer, is verantwoordelik vir Weerkaats se regie. Rademeyer maak magic met Scholtz se teks en Milan Murray lewer ’n baie sensitiewe en emosionele vertolking van al die onderskeie vroulike karakters in die stuk. Al die vroue sukkel met sekere keuses en besluite wat hulle geneem het, al dan nie. Hoe sou die lewe uitgedraai het as hulle anders gekies het? Elkeen se situasie is uniek, maar tog bekend aan die kyker.

Die “motiveringspreker”, meer vas- as losweg gebaseer op ’n baie kontroversiële plaaslike dame wat gereeld in die nuus is oor haar uitsprake, is ’n absolute treffer. Murray is op haar beste wanneer sy dié karakter, met haar kwaksalwer-toesprake, lewe gee.

Indien jy nog nie een van Scholtz se dramas gesien het nie, maak ’n plan. Weerkaats is nog Saterdag en Sondag om 17:00 by HS Luckhoff te sien.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top