US Woordfees 2018: Die dans van die watermeid

  • 0

"Elke huis het sy kruis”, sê ouma Mildred voor haar afsterwe vir die dominee. En in die asvaal Willowmore in die Karoo, dra jy waarskynlik swaar aan verskeie kruise. En geheime, leuens, pyn en die kruk van (by)geloof.

Die mitiese watermeid, in teenstelling met die dominee en die “susters” se God, staan sentraal in die verhaal as die redder van almal, en veral die vroue, wat swaarkry in die klein dorpie. Sodra die reën begin val, probeer hulle haar oproep: “Die watermeid, die watermeid, sy ken my stryd, sy ken my pleit.” Net soos die res van die ongelooflike slim en kragtige teks, is ook dié towerspreuk dubbelsinnig en gelaai. Die dans van die watermeid is ’n beeldskone stuk teater. Daar word soveel belangrike temas aangeraak, dat jy na die tyd eers ’n rukkie moet stilsit om die verhaal se impak te absorbeer. Jy word egter op ’n amper slinkse manier met die kontensieuse issues gekonfronteer. Als word geïmpliseer en bitter min word eksplisiet bevestig. Dis waar die krag van die verhaal lê. Dis ’n droom en ’n gedagte. Wat is die waarheid en wat is verbeelding? Dis ’n universele waarheid, meer as ’n storie. Maar die waarheid maak altyd seer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top