US Woordfees 2015: Twyfel is eie aan die Bybel

  • 7

In ’n baie interessante gesprek met Anton van Niekerk, bekende filosoof van Stellenbosch, en Julian Müller, afgetrede teoloog van Pretoria het Jean Oosthuizen tydens die afgelope US Woordfees op die man af vrae oor hul nuutste boeke gestel. Volgens Oosthuizen skroom Van Niekerk en Müller nie om moeilike geloofskwessies in hierdie boeke aan te pak nie. Beide skryf maklik oor twyfel en onsekerheid, terwyl baie mense dit eerder vermy.

Van Niekerk se Geloof sonder sekerhede is ’n bygewerkte weergawe van ’n vroeëre boek met dieselfde titel wat in 2005 verskyn het. Müller se nuutste boek is Geloof anderkant Sondag.

Müller erken dat hy as die twyfelende dominee of professor bekend staan, veral na aanleiding van sy vorige boek, Om te mag twyfel. In sy gesprek met Oosthuizen vertel hy iets oor sy geloofsreis – vanaf absolute sekerheid en ’n vaste wete tot waar hy later in sy lewe eerliker met homself geword het deur sy twyfel te erken. Hy het ontdek dat twyfel en geloof nie teenoorgesteldes is nie, maar dat twyfel deel van geloof is.

Vir Van Niekerk is dit moeilik om soos vroeër te glo. Hy gee egter nie sy geloof prys nie. Hy glo vandag net ánders. Die Bybel gryp hom steeds aan. Om sin te vind in hierdie lewe van onsekerheid is om geloof te sien as ’n lewe van liefde.

Op ’n dag het ’n jong dame ná een van sy klasse waarin hy die studente vanuit godsdiensfilosofiese hoek ontstig het, hom gevra wat hy glo. Dít het hom bietjie onkant betrap. Hy het ’n tydjie nodig gehad om hieroor ná te dink – die gevolg was hierdie boek.

Volgens Van Niekerk is twyfel eie aan die Bybel. Dit word selfs by Jesus aan die kruis gevind in sy woorde “My God, my God, waarom het U my verlaat?”.

Volgens Müller ontstig ook die teologie studente. Is dít nie die taak van die kerk en teologie nie? Moet jy mense sus en tevrede hou, of moet jy hulle uitdaag deur lewens- en kwelvrae ernstig op te neem? Eerlike refleksie op lewensvrae help mense tog beter as om hulle net te sus en gerus te stel.

Beide Van Niekerk en Müller skryf nie tradisie af nie. Hulle waarsku egter dat ’n mens nie hierby moet vassteek nie. Vir Müller is tradisie een van vele bronne. Dit is egter nie die enigste bron nie.

Vir Van Niekerk is die feit dat hy in God glo, ’n wonderwerk wat hy nie regtig begryp nie. Geloof gee vir hom sin, maar dit moet eietyds en nie monolities wees nie.

Sonde, verlossing en eindoordeel is nie vir Van Niekerk die meesternarratief nie. Vir hom is die meesternarratief dat God Hom herkenbaar in Jesus Christus gemaak het. Alhoewel sonde ’n realiteit is en hy dit ernstig opneem, spruit dit nie uit ’n sondeval veroorsaak deur Eva en Adam in ’n paradys nie. Ons as mense stáán skuldig, maar nie omdat sonde deur die eeue biologies van geslag tot geslag oorgedra word nie.

Vir Müller is die term sondeval ’n metafoor. Dit wil iets vertel van die komplekse werklikheid van menswees. Hoe jy daaroor praat. Maar vandag gebruik ons nuwe taal om oor hierdie kompleksiteit te praat.

Volgens Müller het Luther gevra: Waar vind ek ’n genadige God? Belhar vra: Waar vind ek ’n genadige medemens? Müller hoop nie die gesprek rondom kerkhereniging val vas nie. Hy wil graag sien dat die gereformeerde kerkfamilie in Suid-Afrika mekaar weer vind.

Vir Müller moet die uitdrukking “Jesus is die Seun van God” metafories verstaan word. In Christus ontdek hy iets van wie God is. Dit bring hom nader aan God. Maar “Seun van God” moenie letterlik opgeneem word nie.

Volgens Van Niekerk praat die sinoptiese evangelies van “die Seun van die Mens”. En hierdie Seun van die Mens was waarlik God en waarlik mens. In die naaste is die Heer teenwoordig. God is daar waar die belange van die mens gedien word. Die sin van die lewe is diens aan en beskikbaarheid vir ander. Om so te lewe is om te glo soos Jesus leer om te glo.

Volgens Müller het ons die verhale van Christus in doktrine gegiet. Ons moet dit egter herbesoek en herontdek. Dít is kragtig. Doktrine, daarenteen, dra iets van die dood.

Müller is ’n postteïstiese Christen. Volgens hom is daar ’n groot verskil tussen ’n ateïs en ’n postteïs. Hy verduidelik wat ’n postteïs is deur eers na die teïsme te verwys wat God beskryf as die Transendente, die Gans Andere. God beoordeel ons lewe vanaf ’n afstand. God word as manlik beskou. Daar is spanning tussen geloof en wetenskap. Postteïsme, daarenteen, beklemtoon die Immanente God sterker. God is die Een wat binne-in ons is en tog ook anders. Hy is so naby aan ons soos ons gedagtes, ons asem. God word nie gepersonifieer of versaaklik nie en ook nie met geslag geassosieer nie.

Op ’n vraag oor wedergeboorte uit die gehoor het Van Niekerk geantwoord dat hy die begrip nie noodwendig prysgee nie. As jy dít kan leef wat die Seun van die Mens vir ons kom voorleef het, is jy weergebore. Dan het jy ’n bepalende koersaanpassing gemaak. Geloof is nie vir Van Niekerk ’n dogma nie, maar ’n leefwyse soos ons dit by Jesus leer.

Vir Müller is jy wedergebore as jy ’n paradigmaskuif gemaak het. Dis ’n wonderlike metafoor, maar ook ’n konsep wat deur die jare baie misbruik is; byvoorbeeld iemand wat sê hulle is ’n wedergebore Christen, asof ander Christene nie wedergebore is nie. Wedergeboorte is vir hom lewensvervulling – ’n lewe in harmonie met God.

Vir Van Niekerk is God ’n misterie. Om op méér insig as dit aan te dring, is problematies. Die Christelike geloof bied die beste uitkomkans vir die radikale misterie wat ons omring. Metafore en simbole help ons om van die misterie sin te maak. Ons kan ons te pletter loop teen hierdie misterie, of ons kan dit deel maak van ons geloof.

Müller vind homself geheel en al in die misterie. Maar nie misterie as ontvlugting uit die moeilike, harde werklikheid nie, maar juis om daarmee om te gaan in die geloof. Ons vind God in antwoorde, maar ook in vrae.

  • 7

Kommentaar

  • Stefaan de Jager

    Dit is so dat twyfel deel is van die gelowige se bestaan. Ons ken immers ten dele en verstaan ten dele. Daar is ook die mooi lied wat ons sing "om te glo selfs deur my twyfel heen".

     
    Tog hoef geen gelowige ooit te twyfel aan hulle sekerheid dat Christus aan hulle die Ewige Lewe gegee het nie.  "Hierdie brief skryf ek aan julle, dat julle seker kan wees dat julle die Ewige Lewe het, julle wat in die Seun van God glo (1 Joh 5:13)"  
     
    Wie Chistus verlaat het, sal altyd onseker wees en hierdie onsekerheid is geen deug nie.
  • Mensig, maar ek het hierdie stuk geniet. Dis op die man af en gee herkou-gedagtes vir 'n lang tyd. Dit plaas geloof midde in vandag se omgewing. Ek vermoed dat simbole en ritueel (soos die tradisies rondom lydenstyd bv) die geloofsreis kan verryk. Dankie hiervoor.

  • Kobus de Klerk

    Twyfel is eie aan die Bybel? Net vir diegene wat die Bybel nie verstaan nie. Hoewel die Bybel die twyfel-tema dikwels na vore bring, is dit nie om die fenomeen van twyfel te propageer en goed te praat of te paai nie, maar juis om daarteen te waarsku en daarteen te bemoedig. Die Bybel wys juis die koers weg van twyfel af, aan.

    Insiggewend hoe dit juis diegene is wat die spoor byster geraak het en nou al die Godheid en die wyse waarop en  Wese waarin HY Homself in Seun van die Mens, die HERE Jesus Christus kom bekend stel het aan die mensdom, as metafoor en onpeilbare misterie beskryf, want op so 'n manier hoef hulle werklik nie moeite te doen om aan hul twyfel te werk nie. Beide van die twee here in die onderhoud hierbo was op hul dag verder gevorder op die geloofspad as waar hulle hul tans bevind. Nou is hul op die pad van twyfel, ongeloof en uiteindelik, totale verwydering, want dit is die pad van regressie, nie progressie nie.

    Jesus is die Seun van God - hierdie Waarheid is vir een van hulle (waarskynlik albei) onverteerbaar en reduseer hy/hulle hierdie status van die HERE Jesus Christus tot 'n blote taalverskynsel, 'n metafoor. Dit is wat van die HERE Jesus vir hom/hulle oorgebly het. Hulle het die vreugde van - en veral in - die HERE Jesus heeltemal verloor en bespiegel nou oor alles wat grondig en Goddelik is en veral oor Hom en SY Woord.

    Daar is egter een feit - en terselfdertyd logika - wat soos 'n paal bo water staan... Geen metafoor kan vermag wat die HERE Jesus Christus vermag het nie. Nooit ooit nie... net die Godheid kan (en het) dit vermag en vermag dit steeds. Metafore kan nie stand hou teen eeue lange aanhoudende en siedende aanvalle en verdagmakery van skeptici, twyfelendes en agnostici soos wat teen die HERE Jesus en SY Woord gepleeg word nie. Tog wankel HY en SY Woord nie. Net die Seun van God kan dit so suksesvol die hoof bied -, nie metafore nie.

    Sulke geskenke van logika-juweeltjies omtrent God en SY Woord is juis die instrumente wat  vir ons dadelik uitwys en leer dat ons nie moet twyfel nie, nie nodig het om te twyfel nie.

    Ek dink soms hoe meer geleerd mense wil wees omtrent God (die Alwetende), omtrent die HERE Jesus Christus (die Alfa en die Omega), hoe verder raak hulle van Hom verwyderd. Dit is die kruis van die hedendaagse teoloog. Dan begin werklikheid soos blote metafore lyk in die warboel van nuttelose kennis.

    Kobus de Klerk

    • Schalk van Wyk

      Jy weet Kobus, jy skryf van Jesus Christus as God se seun wat nie metafories gesien moet word nie. Dit is duidelik die subjektiewe beeld wat jy daarvan het wat eintlik die beeld is van ander mense nl, die skrywers van die Bybel. Jy het duidelik min navorsing gedoen oor die oorsprong en aard van hierdie beeld wat jy as die heilige waarheid voorhou.

  • Niemand het nog ooit ontken dat ook die diepste gelowiges deur tye van twyfel gaan nie - selfs John Bunyan, van Pelgrim's Progress faam lys dit onder sy eie persoonlike versoekings. ( Muller is nie so oorspronklik nie, as wat hyself of ander oningeligtes dalk dink nie!) Die hartseer is net dit - Muller en Kie verhef ongeloof egter tot 'n deug, want hulle het lankal die Bybel en die histories Christelike geloof vaarwel geroep. Hierdie gif van ongeloof het hy en sy mede ongelowiges op Tukkies versprei en daarom sit die NGK met die hartseer gevolge ...

    Nee, prof Muller, dis geloof wat volgens die Bybel beloon gaan word, nie twyfel en twyfel saai nie.

  • Melléta Louw

    Baie dankie vir soveel persoonlike eerlikheid en deurleefde ervarings, prof Van Niekerk en prof Muller. Dit bring lig in die bedompige kamers van vasgeloopte dogma ... Dit bring opnuut hoop vir die ontwikkeling van 'n egte spiritualiteit van heling en opstanding . Dit vra ook moed om jouself so bloot te stel, maar elke hervorming het sy Beyers Naude's nodig ... daarvoor sê ek dankie

  • Schalk van Wyk

    Ek stem volkome saam met Melléta Louw se kommentaar. Dit staan in skrille kontras met Johannes se kommentaar waarin hy sy geloof verabsoluteer en rasionele denke rondom geloof dus geen plek het nie. Dit is juis die gif van geloofsdenke en juis die groot hartseer van die kerk. Mense soos Johannes wat ń eerlike, openhartige en rasionele gesprek in die kerk versmoor!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top